Gehoor word deel van laer in ‘Die Gelofte’

Die toneelgeselskap van ‘Die Gelofte’. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dis stil. Dan weerklink die dawerende gedreun van ’n krygerskreet. Die skote begin klap, die veldslag het aangebreek.

Die Gelofte is nie net ’n musiekblyspel nie, dit is ’n ervaring. Dit is ’n reistog wat die hedendaagse Afrikaner saam met die Voortrekkers aandurf.

Jy proe amper die konfyt wat deur klein Ventertjie gesteel word. Jy sien die bloed in die veld en hoor die gekreun van die ossewa.

Die gehoor word weggevoer deur die soete sang van die Voortrekkermanne en -vroue, asof jy skielik deel word van die kommando binne dié laer.

Terwyl die bekende lied, Die Gelofte, wat in 2018 vrygestel is, deur die teater vloei, staan daar ’n seuntjie langs sy pa in die gehoor. Hy sing uit volle bors saam.

Saam met die Voortrekkervroue skrop jy die vlekke uit die wit hemde uit, nes die Here sy kinders vlekloos agterlaat.

Saam met die Voortrekkermanne staan jy met die bloed van ’n soldaat wat deur jou are vloei, reg vir die veldslag om te begin.

Die Gelofte skop vanaand, 6 Mei, in die AfriForum Teater in Pretoria af, en vertel die eeue-oue, dog soms vergete, verhaal van die mans en vroue wat dikwels die duurste prys moes betaal om te kon bly staan op hul stukkie aarde.

Maroela Media het die geleentheid gehad om ’n voorskou van die produksie op Donderdag, 5 Mei, te kon aanskou.

Die verhaal van die mans en vroue wat ’n gelofte voor God afgelê het en met onwrikbare geloof talle uitdagings in die oë moes kyk, word verewig op die planke en vertel deur die hoendervleisoomblikke waarmee die blyspel gevul is.

Nadia Beukes (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Tot 29 Mei blaas Johan Vorster (Sarel Cilliers), Nadia Beukes (Anna Cilliers), Bernice West (Maria) en Ilán van Staden (Christiaan) weer nuwe lewe in die verhaal van die Voortrekkers in.

Die skrywer en regisseur, Jannes Erasmus, het die verhaal wat talle Afrikaners van kindsbeen af ken, in een omskep wat opnuut die kyker boei en ’n passie vir geskiedenis kweek.

Die sanger, Ghapi, wat deel was van die liedjieweergawe van Die Gelofte, het saam met sy vrou in die heel eerste ry gesit tydens die vertoning.

“Ek het saamgesing toe hulle die Gelofte gesing het. Ek was mal daaroor, dit was ’n ongelooflike vertoning en ek wens die produksie alle sukses toe,” het die sanger aan Maroela Media ná afloop van die blyspel vertel.

  • Die Gelofte sal van 6 tot 29 Mei vanjaar op die planke wees, en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.