Video: Groot skenking vir Tukkie ná motor haar tref

Adel Cato. Foto: Facebook.

Die Cato-gesin se lewe het in Julie vanjaar onherroeplik verander toe Adel (20) in Pretoria deur ’n motor raakgery is.

JacarandaFM se Good Morning Angels het intussen R50 000 geskenk om tot Adel se rehabilitasie by te dra.

Good Morning Angels het van Adel te hore gekom nadat hulle toegegooi is onder versoeke en e-posse oor wat met haar gebeur het.

Maroela Media het vroeër berig dat Adel wat op daardie stadium ʼn tweedejaar‑bedryfsielkunde student aan die Universiteit van Pretoria was, omstreeks 22:30 op 16 Julie by Duncan Yard deur ʼn motor raakgery is. Sy het erge breinbloeding en ‑swelling opgedoen.

Dianne Broodryk, Martin Bester, Frank Cato en Dave Arnold (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Dave Arnold, uitvoerende hoof van Auto X in Pretoria wat al vantevore mense op Good Morning Angels gehelp het, het vir hierdie saak wéér sy beursie oopgemaak.

Frank Cato, Adel se pa, het nie geweet dat Arnold daar is om ʼn skenking vir Adel se herstel te maak nie.

“Hierdie tipe goed wys jou net hoe kwesbaar mens eintlik is, en hoe jou lewe binne ʼn oogwenk kan verander. So vir ons om hier te wees om op ʼn manier vir Frank en sy gesin te help, en om met Adel se herstel te help, is vir ons ʼn voorreg,” het Arnold gesê.

“Ons wil graag R50 000 van ons kant af skenk om Adel te help en ook om ook die bal aan die rol te sit vir ander mense om haar te help. Ons wens Adel ʼn spoedige herstel toe en dat gelukkiger tye vir julle familie voorlê,” het hy aan Cato gesê.

Frank Cato (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Cato was opsigtelik geraak deur die goeie daad en het sy waardering uitgespreek.

“Die rehabilitasieprogram gaan 12 tot 24 maande duur, so baie, baie dankie, dit gaan baie help. Dis ʼn lang proses, Adel het redelik slegte skade aan die bokant van die brein; sy moet weer leer eet, drink, loop, alles. Sy moet heeltemal van voor af leer funksioneer,” het hy gesê.

Frank het gesê die finansiële hulp word waardeer omdat hulle, bo en behalwe dit wat die mediese fonds uitbetaal, nog R750 000 sal moet betaal vir Adel se rehabilitasie, wat spraakterapie, fisioterapie en arbeidsterapie insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yolanda ·

Baie Sterkte vir julle met jou dogter se herstel. Ek het die man by die rehabilitasie sentrum, Dinsdagaand ontmoet toe ek vir my vriendin gaan kuier het wat ook daar is as gevolg van ‘n ongeluk. Hy het my geneem tot op die vloer waar sy dogter en my vriending is. Baie Dankie Frank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.