Video: Groot verrassing vir behoeftige ouetehuis

Deur Megan Gittins

‘n Skermskoot uit die video.

Nadat weldoeners op Jacaranda FM se bekende Good Morning Angels-insetsel verlede week die Harmonie-aftreeoord in Pretoria gehelp het om hul stukkende hysbak te herstel, het hulle dié week nog ʼn groter verrassing vir personeel en inwoners van dié oord gehad.

Maroela Media het verlede week berig dat dié laekoste-aftreeoord in Sunnyside ʼn skenking van R50 000 van We Buy Cars ontvang het om die oord se hysbak te herstel. Nadat die hysbak weke vantevore gebreek het, moes die oord se 193 bejaarde inwoners, waarvan talle gebruik maak van looprame, krukke of rolstoele, die verdiepings stukkie vir stukkie klim of in eindelose rye staan om die een werkende hysbak te gebruik.

Die meeste inwoners van Harmonie-Oord is van maatskaplike toelae afhanklik en kan nie bekostig om elders te bly nie.

Jacaranda FM het Woensdagoggend vir Marie Pienaar, bestuurder van Harmonie-Oord, regstreeks op die lug geskakel om terugvoer oor die herstel van die hysbak te kry. Min het Pienaar en die Harmonie-oord inwoners geweet wat dié span in die mou voer!

Zahn Hulme, die uitvoerende trustee wat verantwoordelik is vir die bestuur van die Atterbury Trust, het aangekondig dat We Buy Cars hulle geïnspireer het om ook ʼn bedrag van R50 000 te skenk. “Ons wil hulle R50 000 graag ewenaar en hierdie inisiatief ondersteun en nóg R50 000 bydra om seker te maak dat daardie hysbak vir ʼn lang tyd reg werk,” het Hulme oor die radio gesê.

Die aankondiging was met ʼn gejubel en ʼn gejuig deur die Harmonie-Oord inwoners ontvang. “Ongelooflik dankie, ons waardeer al hierdie omgee,” het Pienaar geantwoord.

“Maar wag, daar is meer,” het Martin Bester gesê nadat die gejubel tot bedaring gekom het.

Hulme het uitgereik na die Atterbury Trust se kameraad, Herman Marx van Vibro Bricks, wat ingestem het om óók R50 000 aan die Harmonie-Oord te skenk. Die ouetehuis is dus nie net geseën met ʼn werkende hysbak nie, maar ook met R100 000 om te help om die rekeninge te betaal.

“Weet net daar is mense daar buite wat vir julle omgee en ons hoop julle kan nou alles perfek regkry vir die mense daar by Harmonie,” het Hulme verduidelik.

“Dis ongelooflik,” het Pienaar verslae reageer. “Ek wil net vir julle sê baie, baie dankie. Dit gaan ons baie in hierdie tye help.”

Good Morning Angels Follow-up: More hearts open up for the residents of Harmonie-Oord Old Age Home in Sunnyside and for young Keira Ruutherford.

Posted by Breakfast with Martin Bester on Tuesday, July 2, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dalena Coetzee ·

Hierdie skenkers doen wat Jesus van Sy kinders verwag. Ons salueer hulle.

Magaretha van heerden ·

Die Woord se ons moet sorg vir die weduwees en weeskinders. Dankie vir mense wat omgee.

wilma ·

En hoe traan my oë nou vir die goedheid wat daar nog in mense is. Mag die Vader julle almal oneindig seën sodat julle die goeie werk kan voortsit.

Lieflike dag vir almal en nogmaals baie, baie dankie vir wat julle aan julle naaste doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.