Video: Hond hou lyf ‘akteur’ om huis te kry

Richie tydens die maak van die musiekvideo (Foto: Verskaf)

Richie, ʼn tweejarige straatbrak by die Woodrock-diereskuiling in Johannesburg, het onlangs op nuwerwetse wyse die kollig op diere-aanneming geplaas toe ʼn kletsrym-video oor hom vrygestel is.

Richie is goed met kinders, hou van ander diere én is op datum met sy inentings. Daarom het ʼn groep jong mans dit goedgedink om juis vir hom ’n musiekvideo te maak sodat hy in ʼn liefdevolle huis aangeneem kan word.

Darren Morris is ʼn vrywilliger by die Woodrock-diereskuiling en het vir Richie só ontmoet. Elke vrywilliger kry ʼn dier wat hy of sy vir aanneming moet bemark. Morris se hond was Richie.

“Richie is ʼn rondloperhond wat in Diepsloot gevind is. Hy het merke aan sy gesig gehad omdat iemand hom met olie gebrand het, en daarom wou niemand hom aanneem nie. Hy is al langer as ʼn jaar by die diereskuiling en dit het basies die hele jaar geneem vir die merke op sy gesig om heeltemal te genees,” het Morris aan Maroela Media gesê.

Morris het Richie se foto en inligting op Facebook gedeel, maar dit het nie veel aftrek gekry nie. Tot een van sy vriende aangebied het om ʼn fotosessie met Richie te doen.

“Dít het die idee by my laat opkom om ʼn musiekvideo vir Richie te maak. Ek is in die advertensie-bedryf en ek en my vriende maak musiek en musiekvideo’s vir die pret. Ek het toe vir hulle gevra om my te help, en dieselfde naweek nog die video gaan skiet.”

Richie (Foto: Verskaf)

Morris het saam met sy vriende Paul Samuels, Ed Blignaut, Sebastian Mkizha en Adan Bracher die video aanmekaar gesit.

“Dit is ʼn jammerte, maar ook ʼn werklikheid dat mens so baie van hierdie diere wat wag op aanneming op sosiale media sien, so ek wou iets anders, iets kreatief, met Richie doen, sodat hy ʼn huis kan kry,” sê Morris.

Die groep mans het op die dag wat hulle die video geskiet het, vir die eerste keer vir Richie ontmoet.

Morris vertel hulle was aanvanklik bang dat Richie gaan rondspring of dat dit moeilik gaan wees om ʼn goeie video van hom te neem, maar hulle was aangenaam verras toe hulle by Woodrock aangekom het.

“Hy is so ʼn oulike hond, hy is baie rustig. Wanneer ons vir hom gesê het om te sit of om te loop, dan het hy dit gedoen. Hy is die tipe hond wat jy enige plek heen kan vat, en hy sal soet wees. Hy het dit baie maklik vir ons gemaak.”

In die musiekvideo sing hulle ook dat Richie goed is met volwassenes, kinders en ander diere, dat al sy inentings op datum is en dat hy gesteriliseer is. Hy weet ook om nie glipse in die huis te kry nie, en om eerder buite toe te gaan as hy ʼn nood het.

Die musiekvideo speel af in ʼn “tronk” wat die diereskuiling uitbeeld. Richie word dan vrygelaat ná ʼn jaar in die tronk en soek nou ʼn huis waarheen hy kan teruggaan.

“Ons wou die video ʼn hip-hop gevoel gee, net om ʼn bietjie snaaks te wees. Ons het baie van die ander honde ook by die video ingesluit, want hierdie gaan nie net oor Richie nie, dit gaan oor hulle almal. Ons wou oor die algemeen aandag op Woodrock vestig en ons wou mense aanmoedig om diere aan te neem,” sê Morris.

Richie (Foto: Verskaf)

Hoewel Richie se video al amper 15 000 kyke op Facebook gekry het, het hy steeds nie ʼn huis gekry nie.

“Dit is vir ons baie sleg, want die video het reeds so baie kyke en is so baie keer gedeel, maar niemand het nog aangebied om hom aan te neem nie,” sê Morris.

“Ons het almal ook verlief geraak op Richie, maar ongelukkig bly nie een van ons in ʼn plek waar ons ʼn hond kan aanhou nie, so ons kan hom nie sélf aanneem nie. Ons gaan sonder twyfel aanhou druk tot Richie ʼn huis gekry het.”

Morris het sê hulle wil graag aanhou daarmee om dié tipe video’s te maak, omdat hulle gesien het hoeveel aftrek Richie se video gekry het vir die bewusmaking van diere in diereskuilings.

Vir meer inligting oor Richie of ander diere wat wag op aanneming, bel Woodrock-diereskuiling by 082 431 1333 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

???????????? Meet Rich ???????????? A story of a dog from the Jozi streets, the cutest pavement special you have ever seen!He hasn't got a home 'cause of the scars on his face. Some dude burnt him with oil, what a dumb disgrace. Thank you to Darren Morris Paul Samuels Ed Blignaut Sebastian Mkizha and Adan Bracher. for this phenomenal video of Richie!!! We KNOW that this will get Richie noticed, and find his fur-ever home ❤️

Posted by Woodrock Animal Rescue on Friday, 7 June 2019

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

7 Kommentare

Janine ·

Persoonlik voel ek dat BAIE diere nie huise kry nie, a.g.v. die aannemingsfooi. Ek weet wat kos sterilisasie/spuite ens. Maar om diere teen R1000 plus te laat aanneem, is bokant meeste se vermoë. Ons veaartsrekening het minstens R500-R1500 per maand beloop; met honde verskillende ouderdomme. (Inentings, oepsies(soos een wat klippe sluk ens) DIT is ook die grootste rede hoekom mense eerder kyk vir diere aanlyn; GRATIS!

smurfie ·

Asb MM hou ons op hoogte. Sal graag wil weet as hy n huis kry. Sal vir hom bid. Sou hom graag wou aanneem, maar bly in n woonstel

Marinda ·

Sal hom graag wil aanneem vir my en my man, maar dis ongelukkig buite my vermoë.
Hys ñ pragtige hond

Kay ·

ASB hou ons op hoogte!!! Kan nie glo hy het nog nie n huis nie!!!! So sad!!!!

Annelise ·

Dit is regtig wonderlike dat hulle vir Richie probeer help, maar dis regtig ‘n crap liedjie, jammer dis net my mening, ek wil nie enige iets weg vat van hulle Mooi intensies nie. Richie ek hoop jy kry jou eie huisie my liefie.

Westrandpets ·

Dis awesome idee die video, ons doen baie shelter werk en mense sal nie glo hoe krieses dit is met die arme diere wat net agter gelaat word , shelters kry honderde honde en katte maandliks in ,ons kan net nie voor bly om kos aan die diere te skenk nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.