Video: Hoofmeisie se boodskap raak duisende harte

Magé Troskie is die hoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) in Bloemfontein, wat op almal se lippe is. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video)

Lig jou ken en ken jou lig – Magé Troskie

Magé Troskie, die hoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) in Bloemfontein, het om al die regte redes soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei met haar inspirerende boodskap aan gr. 8-leerders van haar skool.

Die video van haar toespraak wat sy verlede Vrydag met die skool se nuwelingsgeleentheid gelewer het om dié leerders te verwelkom is al deur meer as ʼn halfmiljoen mense gekyk. Meer as 10 000 het dit gedeel en duisende het kommentaar daarop gelewer.

“Lig jou oë van die grond af en wees hier. Die Here sê stop, vat ʼn oomblik, kyk op en haal asem. Ek is met jou … Ek het jou lief.

“Lig jou ken en sien die mense rondom jou. Sien die nuwe dag en as jy gister geval het, dan staan jy vandag op met nuwe moed, nuwe krag en daai pragtige blinkbek-glimlag,” sê Magé (uitgespreek Maggie) in haar toespraak aan die graadagts, wat selfs al oor die landsgrense gedeel is.

Sy het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het nie in haar wildste drome gedink dié toespraak sal so ver gedeel word nie.

“Ek dag eers Facebook is effens deurmekaar toe ek sien hoe baie mense dit al gekyk het. Ek is regtig dankbaar dat dit iets vir só baie mense kon beteken.”

Magé sê sy skryf altyd haar toesprake uit haar hart uit.

“Die boodskap het eers gesukkel om na my toe te kom. Ek het later met my hande in my hare gesit en gestres oor wat ek die volgende dag in my toespraak gaan sê.

“Toe ek opkyk en my ken lig, toe kom die boodskap van ‘Lig jou ken en ken jou lig’ by my op. Ek verstaan nou hoekom die Here wou hê ek moes daardie boodskap deel.”

God dink jy is beeldskoon, hoe durf jy anders dink – Magé Troskie

Een van Magé se nuwe bewonderaars, Chanteé King, die hoofmeisie van Oranje Primêr, het haar Dinsdag kom ontmoet. Sy het vir Magé ʼn geskenkie saamgebring met ʼn briefie waarin sy haar bedank vir die boodskap. “Dit is woorde wat ek in my hart gaan saamdra.”

Een van die kommentare op die video is van Adele Nezar Smit. Sy skryf: “Ek het hierdie video seker nou al 30 keer gekyk en slaan nog steeds hoendervleis uit. Dis so mooi en iets wat ek wil hê my graadagt moet elke oggend van sy lewe luister en onthou hy is presies waar hy moet wees, dat die Here hom gemaak het met ʼn doel en natuurlik dat hy elke dag sy ken moet lig en sy lig moet ken! Dié toespraak sal vir altyd by my bly.”

Kyk die video van die toespraak:

Hoofdogter Magé Troskie se besonderse toespraak op OMS se Nuwelingsfunksie

Besonderse Nuwelingsfunksie-toespraak deur hoofdogter Magé Troskie.Kyk die volledige funksie se uitsending hier: https://digitv.co.za/#/video/28336/34100/Vod

Posted by Hoër Meisieskool Oranje on Sunday, February 28, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Wow jong dame, wat ‘n mooi toespraak. Ek sien ‘n blink toekoms vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.