[Video] Inge het reeks planne vir klimraam

‘n Skermskoot uit die video van die opvolgvergadering tussen Inge Gerber en haar skoolhoof.

Inge Gerber (8), die gr. 2-leerder van die Laerskool Delmas in Mpumalanga wat talle harte verower het toe sy self haar skoolhoof oor ʼn tekort aan klimrame by die skool gaan spreek het, het in ʼn opvolgafspraak met die skoolhoof reeds ʼn lys planne gereed gehad om aan hom voor te lê.

Maroela Media het vroeër berig die skool het ʼn video op sy Facebook-blad gedeel van Inge se vergadering met die skoolhoof, Johan de Beer. Hierdie video is reeds meer as 200 000 keer gekyk en duisende kere gedeel.

Tydens hierdie vergadering het Inge aan De Beer verduidelik dat daar vier klimrame vir die seuns in die skool is, maar slegs een vir die meisies. Hulle het toe ooreengekom om nog ʼn klimraam vir die meisies aan te koop en Inge is opdrag gegee om vas te stel wat so ʼn klimraam sal kos.

Inge se ma, Althea, het vroeër gesê sy is nie verbaas oor Inge se gedrag nie. “Sy sal altyd haar stem laat hoor wanneer sy voel iets is onregverdig of sy word ingeloop.”

Laerskool Delmas het Vrydag nog ʼn video gedeel van Inge se opvolgafspraak met De Beer waarin hulle saam deur ʼn lys opsies gaan en Inge vir hom wys watter klimraam sy voel die beste sal werk. Hierdie klimraam kos R38 000.

“Dis ʼn klomp geld. Ek weet nie of die skool soveel geld het vir ʼn klimraam nie,” sê De Beer. “Ek het baie planne,” antwoord Inge vinnig. Sy vertel aan De Beer dat haar oom ingestem het om ʼn fiets te skenk en dat die skool dan lootjies kan verkoop en ʼn gelukstrekking kan hou. Sy stel ook voor dat die skool ʼn inkleurkompetisie hou en dat daar in hierdie kompetisie ook ʼn prys gewen kan word. “Nou wie gaan besluit wie kleur die mooiste in?” vra De Beer. “Meneer,” antwoord Inge beslis.

Haar derde plan behels dat die mammas by die skool ingespan word om kolwyntjies te bak en dat die kolwyntjies dan verkoop word om geld in te samel. “As een plan nie uitwerk nie, dan het ons nog ʼn plan,” verduidelik Inge.

De Beer stem in dat al drie planne na ʼn goeie idee klink en sê hy sal selfs ʼn versoek aan die beheerliggaam rig om te hoor of hulle die helfte van die koste van die klimraam sal dek. “Dankie, Inge, ons gaan weer gesels. Hierdie klimraam gaan ons een van die dae op sy voete hê,” sê De Beer.

https://www.facebook.com/laerskooldelmas.delmasprimary/videos/968406419967504/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alta Potgieter ·

Baie dankie vir die opvolg …. ek hoop dat die besighede in Delmas … wat hulp aangebied ook die berig sien …

Letitia ·

Ag jinne, hierdie pop is so braaf en kreatief! En net so gee hierdie hoof haar die spasie om so mooi te groei. Well done!

Zana ·

Hi Inge..jy Moet mooi leer op skool..ons het iemand soos jy nodig om die President Te word van S A…wat kan onderhandel en opvolg..met oplosings. .hou so aan??? ons is trots op jou

Net maar ek ·

Hou haar dop sy gaan n hoofleier van die skool word, mooi so meisiekind hou aan om jou standpunt te lig oor dinge wat jou hinder. Jy is n leier in die ware sin.

Ron3 ·

Ek en my dogter het presies dieselfde gesê toe ons die oulike meisiekind se eerste video gesien het. Wat my hart ook warm maak os dat die hoof haar toelaat om haar opinie te lug.
Bravo mnr. De Beer. Jou skool sal nog baie bereik!

madels ·

Wat ek so waardeer van Inge is dat sy nie net gekla het oor die tekort aan klimrame vir die meisies nie, maar sy het iets daaraan begin doen. As meer mense so n gesindheid het in ons land sal daar soveel meer gedoen word. Mooi so Inge, jy stel n voorbeeld vir jonk en oud.

Pierre ·

Ek dink ons almal kan ‘n bladsy neem uit hierdie kind se dryfkrag. Dit behoort te dien as voorbeeld vir my en elkeen wat hierdie berig met passie volg. Dalk moet iemand dit aan ons agbare president stuur dat hy ook kan sien wat passie en motivering is om eerder te bou as om af te breek en te kla. Mag jy werklik geseen word vir jou voorbeeld.

Arsène Lupin ·

Kan ons nie maar vir Inge help met haar fondsinsamelings projek nie? Seker daar is baie mense watnie sal omgee om ‘n geldjie vir die projek te skenk nie. MM vind asb uit vir bank besonderhede van die skool.

Theresa ·

Hoe VERFRISSEND dat die jongmensie nie op en af gespring het en plakkate rondgeswaai het omdat sy voel iets is nie reg nie. Insig en respek = wenner karaktertrekke. EN dan nogals werkbare oplossings beding. 10/10 vir jou Inge. En dankie Meneer de Beer dat jy tyd gemaak het om te luister na ‘n vindingryke dogter se voorstel en oplossings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.