Video: Jong man het sosiale media gaande

Coenie Strydom (Foto: Facebook)

ʼn 21-jarige Afrikaanssprekende verkoopsman van Johannesburg sê daar is glad niks eienaardigs of prysenswaardigs daaraan dat hy vlot Venda praat nie – daarom maak die histerie op sosiale media oor ʼn video van hom wat moeiteloos ʼn gesprek in dié taal voer byna glad nie sin nie.

Coenie Strydom vertel Dinsdag aan Maroela Media sy selfoon het byna nog nie een oomblik ophou lui sedert dié video van hom soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het nie.

Sommige van dié oproepe is om hom te nooi om op te tree as spreker, ander wil hê hy moet op die lug gesels, party reik ʼn hand van vriendskap uit en ʼn handjievol het selfs al ʼn huweliksaanbod gemaak. Op sosiale media word hy ook wyd en syd geloof, maar hy self het nog nooit ʼn groot bohaai daaroor gemaak dat hy Venda met dieselfde gemak as Afrikaans praat nie.

Strydom vertel in ʼn telefoniese onderhoud hy het by ʼn vriend in Johannesburg gekuier toe een van sy kollegas hulle gesprek – wat hulle in Venda gevoer het – verfilm het. “My vriend het geweet dat sy kollega besig was om ʼn video te neem, maar ek het nooit besef dat die kamera op my was nie,” sê-lag hy. “Ons het klaar gesels en ek is later werk toe en toe ná werk huis toe. Eers later daardie aand het ek agtergekom iets is aan die broei op sosiale media. Skielik het almal my ge-tag en die video gedeel – dit was mal.”

Hy sê vir meeste sosialemediagebruikers is dit vreemd dat hý – ʼn jong Afrikaanssprekende man – Venda praat. Maar vir hom is dit doodgewoon; om die waarheid te sê, sy pa en jonger broer praat dié taal ook vlot.

“Ek het nooit met ʼn boek gesit en die taal geleer nie,” vertel hy. “My pa is ʼn sitrusuitvoerder van Limpopo. As jong seun het ek in ʼn omgewing grootgeword waar die taal baie gepraat word en ek het dit op só ʼn manier aangeleer. Ek dink dis hoekom ek dit nie sommer sal afleer nie; dit was ʼn baie natuurlike proses om die taal aan te leer.”

Voordat hy Limpopo vir die goudstad verruil het, het hy juis vir sy pa op die plaas gewerk, waar hy daagliks die taal as gesprekstaal gebruik het. “Ek het heel onder begin en was self ook op die lande om vrugte te pluk. In daardie tyd sou ek daagliks Venda praat, daarom praat ek dit baie vlot.”

Buiten Venda, Afrikaans en Engels, kan hy ook Noordelike Sotho (Sepedi) verstaan. “Mense is oor die algemeen verbaas wanneer hulle hoor dat ek ʼn Afrikataal kan praat,” lag hy. “Dalk is dit die laaste ding wat hulle verwag wanneer hulle my sien.”

Wat dink hy oor dié bohaai wat sosialemediagebruikers oor die video maak? Hy lag uitbundig. “As dit ander mense aanmoedig om ook hul horisonne te verbreed, sal die video ʼn goeie doel dien,” sê hy.

Strydom het ʼn enkele versoek: Hy kan nie elke huweliksaanbod individueel van die hand wys nie, maar hy wil van dié geleentheid gebruik maak om dit te verkondig: Hy is reeds in ʼn “wonderlike verhouding” met die “meisie van sy drome” – sy is juis die rede dat hy na Johannesburg verhuis het. Dus, jammer, dames; dié kêrel is reeds geneem. Of, soos hy in Venda sal sê: “Ndina Mufumakadzi. Sorry Masadzi.”

Mama this white guy is speaking TshiVenda mama , please we don’t know his intentions. Please show us a signal

Posted by No Chill in Mzansi on Sunday, April 15, 2018

Kyk nog ʼn video van hom hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

mir ·

Ons bly in Noord Natal. In Zululand. My dogtertjie van 3 leer Zulu. Ek voel dis belangrik dat ons kinders ‘n Afrika Taal leer.

Disnet.ek ·

Ek admireer ouers wat só ‘n goeie bydrae tot hul kinders se lewens maak. Ek glo dat enige kind, hul ouers ewig dankbaar sal wees vir só ‘n geleentheid.

B-man ·

Dis ‘n lekker brokkie nuus. Wens nou dat ek ook ‘n TWEEDE Afrika-taal aangeleer het… my EERSTE Afrika-taal is immers Afrikaans!

Disnet.ek ·

Hi Patrys, indien jy beskik oor ‘n “android” selfoon, gaan soek gerus op die “Play Store” vir ‘n toep wat jou met hierdie taak kan help.

1. Sleutel die woorde: “Information Systems Dept” in die soekbalk, en SOEK!

2. By die resultate sal jy ‘n hele klomp toeps vind soos: “Sotho Phrases language tutor”, “Pedi Phrases language tutor”…ens.

Hierdie tipe toeps deur “Information Systems Dept – University of Cape Town” hoef nie gekoop te word nie en kan jou help met Zulu, Xhosa, Tswana, Sotho & Pedi.

Wonder ·

Hiert jou nonsens! Maar jy is ouliker as ‘n mens.
Nou kan jy by die howe aansoek doen vir ‘n vertaler.

Hansie ·

As ons as kinders n landstaal eie aan die omgewing waar jy skool gegaan het, as verpligte vak gehad het, sou ons land nie in hierdie toetand gewees het nie

AJ ·

Al die mense op die planeet word opgevoed in hulle moedertaal.

Slegs in Afrika word Afrika kinders opgevoed in ‘n ‘vreemde’ taal … naamlik VROT ENGELS.

Die jongman het maklik vlot Venda leer praat omdat sy denkvaardigheid goed vasgelê was in sy MOEDERTAAL Afrikaans.

Jy moet éérs denkvaardigheid ontwikkel in jou moedertaal … en met ‘n skerp ontwikkelde brein kan jy daarna enige iets vinnig aanleer … ook vreemde tale.

Blondie ·

Pleks ons almal daai tyd op skool op gelet het in die Zulu klas en dit ook as taalvak gehad het dan sou daar dalks ook meer duidelikke kommunikasie tussen ons landsburgers gewees het. Altans oorloë is al begin as gevolg van misverstande

Lana ·

Ma ma het op ‘n plaas in die Vrystaat groot geword. Sy praat Sotho vlot. Teen die tyd dat sy skool toe is, kon sy net Sotho praat. Geen ander taal! (Sy is vandag Afrikaans sprekend).
Dit is verstommend om te sien hoe mense se gesindheid verander wanneer sy met hulle in hul eie taal begin praat!
Dit is nodig om die taal van jou omgewing (behalwe jou moedertaal) te kan praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.