Video: Jong sierskaatsers laat harte smelt

Taria Coetzee en Vincent Grun (albei sewe jaar oud) is die jongste paarskaatsers ter wêreld. (Foto: Verskaf)

Elke tweede weeksoggend spring klein Taria Coetzee om 04:00 uit die bed om saam met haar ouers die pad tussen Rayton en Pretoria aan te durf om haar geliefde sportsoort, sierskaats, te beoefen.

Die sewejarige Taria, wat tans in gr. 1 aan Laerskool Rayton is, en haar tienjarige sussie, Elmary, is albei kranige sierskaatsers wat reeds op ʼn baie jong ouderdom hulle liefde vir dié sportsoort ontdek het.

Volgens Taria en Elmary se ma, Yolandi Coetzee, is hulle op Maandae, Woensdae en Vrydae om 05:00 aan’t skaats op die skaatsbaan van The Grove Mall in die ooste van Pretoria voordat hulle weer teen 07:00 die pad terug Rayton toe aandurf sodat Taria en Elmary die skooldag kan aanpak.

“Die kinders werk verskriklik hard en is uiters toegewyd. Op die enkele dae wat ons as ouers nie onsself so ver kan kry om uit die bed te klim om hulle te neem vir oefening nie, is die dogtertjies maar lekker dikbek,” lag Yolandi, wie se kinders so jonk as twee jaar oud reeds ʼn liefde vir ys- en sierskaats ontwikkel het.

Sy vertel Elmary het op tweejarige ouderdom haar eerste sogenaamde akademie by die ysskaatsbaan van The Grove Mall bygewoon. Dit was egter eers op vyfjarige ouderdom wat sy by die afrigters Yolande en Konrad Giering van die Gauteng-Noord Sierskaatsvereniging (GNFSA) begin lesse neem het. Taria was toe twee jaar oud en die ysskaatsgogga het haar ook toe reeds gebyt.

“Ek onthou nog die dag toe Elmary haar eie paar skaatse gekry het. Daar was ʼn winkel wat skaatse verkoop het wat ons genader het met die piepklein skaatse en gesê het aangesien dit nie verkoop nie, kan ons dit maar kry. Daarna het ons nooit weer teruggekyk nie,” vertel Yolandi.

Taria Coetzee en Vincent Grun (albei sewe jaar oud) is die jongste paarskaatsers ter wêreld. (Foto: Verskaf)

Volgens Yolandi fokus Elmary en Taria slegs op sierskaats aangesien dit reeds soveel van hulle tyd in beslag neem en neem hulle nie tans deel aan ander sport soos netbal of tennis nie.

Dié toewyding tot sierskaats het onlangs vrugte afgewerp toe Taria en haar skaatsmaat, die sewejarige Vincent Grun, die jongste paarskaatsers ter wêreld geword het. Die Suid-Afrikaanse Sierskaatsvereniging (SAFSA) moes spesiaal ʼn “bloedjong”-kategorie skep vir dié twee jong uitblinkers in sierskaats, aangesien daar slegs ʼn junior- en senior-afdeling vir pare was.

Vincent is tans in gr. 2 aan die Duitse skool in Pretoria. Volgens Yolande Giering, Vincent en Taria se trotse afrigter, is dit vir haar kostelik hoe dié twee kleintjies saam skaats sonder dat hulle mekaar behoorlik kan verstaan.

“Die een praat Duits en Engels en die ander een kan glad nie Engels praat nie – sy kan net Afrikaans praat. Tog maak hulle dit op ʼn manier werk en hulle is só gemotiveerd. Taria is ʼn show queen en haar ogies mis nie ʼn kamera nie. Vincent is weer uiters gefokus en hy doen die praat- en telwerk,” vertel Yolande, wat self sedert die ouderdom van vier ʼn kranige skaatser is.

Sy en haar man, Konrad, het mekaar deur die beoefening van dié sportsoort ontmoet en het saam vir meer as ʼn dekade aan die gesogte Disney on Ice– en Holiday on Ice-produksies regoor die wêreld gewerk – Konrad as hoofskaatser en Yolande as produksieregisseur.

“Ons was jare lank elke week in ʼn ander dorp op ʼn ander vasteland en het uiteindelik 52 lande besoek met ons reise saam met Disney on Ice en Holiday on Ice,” vertel Yolande aan Maroela Media.

Taria en Vincent saam met hulle afrigter, Konrad Giering. (Foto: Verskaf)

Die Gierings het egter onlangs besluit om op een plek nes te skrop en is die ouers van ʼn driejarige seuntjie en het ook ʼn babadogtertjie ryker geword.

Hulle het ook sowat vier jaar gelede die ys- en sierskaatsklub, Evolution on Ice, op die been gebring. Hulle rig tans altesaam 130 kinders van alle ouderdomme by die The Grove Mall se skaatsbaan af.

“Ysskaats is aangewys as die 18de moeilikste sportsoort ter wêreld om te beoefen en dit vereis werklik talent om dit te kan doen. As ʼn kind talent het, kan jy dit ook blitsvinnig raak sien. Ysskaats is baie bevrydend en wanneer ʼn mens op die ys klim, voel jy hoe alles in die buitewêreld wegsmelt,” sê Yolande.

“Ons moes tydens die pandemie vir sewe maande ons deure sluit en van die kinders het verskriklik gesukkel sonder die terapeutiese uitwerking wat die ys op hulle het. Ysskaats is ʼn ontvlugting van die alledaagse skoolroetine vir talle van die kinders en ons vind dat ons nie die kinders hoef te motiveer om te oefen nie, omdat hulle dit self so geniet.

Taria se sussie, Elmary Coetzee, is ook ‘n kranige sierskaatser. (Foto: Verskaf)

“By ons klub moedig ons die kinders aan om mekaar te ondersteun en op te beur. Almal van vier jaar oud tot 16 jaar oud oefen en speel saam en is daar vir mekaar. Dit is hoekom ek mal is oor die klub,” sê sy.

Elmary en Taria se ma beaam dit. “In die oggende op pad na die ysskaatsbaan slaap die kinders nog ʼn bietjie, maar sodra ons daar kom, is die moegheid vergete en skop die adrenalien en opgewondenheid in. Ek haal my hoed af vir die kinders dat hulle dit daarna nog deur ʼn skooldag kan hou en selfs ná skool is hulle nie doodmoeg nie.”

Sy voeg by dat die skaatsery goed is vir die kinders se ontwikkeling. “Hulle fynmotoriese vaardighede en balans is uitstekend. As ons nader aan die baan gebly het sou hulle beslis daagliks op die ys wou wees. As ouers moet ons self soms motivering vir die vroeë oggende en lang dae langs die baan bymekaarskraap, maar hulle het soveel passie daarvoor en geniet hulleself gate uit op die ys.”

Om meer uit te vind oor Evolution on Ice, besoek die webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.