[Video] Jy kan voluit leef, meen dowe studente

studente

Markus en David. Foto: Skermskoot uit die video

Markus Maartens (24) en David Nkosi (25), twee dowe studente wat besig is om hulle aan Sol-Tech in Pretoria as elektrisiëns te bekwaam, het die afgelope tyd heelwat aandag gekry toe ʼn klomp media-organiasies ʼn besoek aan Sol-Tech afgelê het om te sien hoe dié twee werk en studeer. Maroela Media het onlangs by dié twee studente gaan kuier om te hoor hoe die blootstelling hul lewens geraak het.

Hoewel ʼn mens met die hulp van ʼn tolk met Markus en David moet gesels, is dit hul sagte gees wat jou hart raak. Die twee sê hulle het baie goeie terugvoer van vriende en familie ontvang, maar dat dié blootstelling soveel meer vir hulle beteken as net erkenning.

David meen hy en Markus wil rolmodelle vir dowe kinders wees om vir hulle te wys dat hulle enigiets kan doen. “Dowe kinders moet weet hulle kán gaan werk of studeer ná skool – hulle hét ʼn toekoms,” sê David.

Vir Markus gaan dit ook oor geleenthede vir ander dowes. Hy sê hy is hartseer dat daar so min geleenthede vir dowe kinders is. “Die wêreld vir dowe mense is só klein en ek wil hê die wêreld van werkgeleenthede moet net so groot wees vir dowe mense as wat dit is vir mense wat nie gestremd is nie.”

Markus en David sê die aandag wat die media op hulle gevestig het, het hopelik vir ander gewys dat ʼn mens enigiets kan bereik, maak nie saak wie jy is nie – jy moet net bereid wees om hard te werk.

Volgens hul dosent Lynette Schultz is Markus en David hardwerkend en nederig – selfs met al die positiewe beriggewing het hul gedrag nie verander nie. Sy sê dié twee laat steeds die ander studente les opsê. “Die ander studente word beslis gemotiveer om harder te werk, want hulle het nie eintlik ʼn verskoning nie – hulle sien wat hierdie twee studente kan doen.”

Dis baie duidelik dat Markus en David nog baie gaan bereik, want daar is ʼn brandende begeerte om sukses te behaal. David het ʼn groot lus vir leer en sê hy is bereid om baie hard te werk en om nog verder te studeer. Hy wil nog meer in die lewe bereik omdat hy nie net ʼn ambagsman wil wees nie.

Vir Markus is harde werk tweede natuur en hy meen hy is gemotiveerd om nog harder te werk omdat hy graag eendag vir sy gesin wil sorg.

Phillip Minnaar, hoof van Sol-Tech, sê hy is uitermate beïndruk met Markus en David en dat hulle hom inspireer. “Hulle het verskeie kere aansoek gedoen by Sol-Tech, en ondanks moeilike omstandighede het hulle dit wat hulle tot beskikking gehad het gebruik om deur te druk. Hulle werk hard en gee nie moed op nie.”

Markus en David se verhaal is net weer ʼn bewys dat mens werklik jou drome kan verwesenlik, indien jy net aanhou en nooit moed opgee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M A ·

Natuurlik kan dowes net so goed doen soos enige ander mens en partykeer beter. Dowe mense is geneig om te prober bewys hulle kan dit doen, wat meer werd is as ‘n horende, lui student. Ek het dit reggekry om ‘n meestersgraad in chemie te behaal alhoewel ek doof is. Ek is glad nie anders as horende mense behandel nie. Dit was moeilik maar die moeite werd. Noudat ek kogleêre inplantings het gaan dit sommer baie goed. Die telefoon is nog ‘n euwel in my lewe omdat daar soveel instansies is wat weier om jou te help tensy jy hlle bel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.