Video: Karaoke-vriendinne het sosiale media gaande

Lilian Masser en Nicolene Nel (Foto: Verskaf)

Nadat die Britse komediant en televisieaanbieder James Corden groot sukses met sy Carpool Karaoke-insetsels behaal het, het twee plaaslike vroue van Pretoria sosiale media nou ook behoorlik aan die gons met hul weergawe van dié gewilde insetsels.

Nés Corden het hulle ook een doel voor oë: om kykers te laat skater.

Nicolene Nel (36), ʼn motiveringspreker, en Lilian Masser (34), ʼn sangeres, vertel hulle was vroeër dié jaar op pad na ʼn tandartsafspraak toe die idee vir dié video’s ontstaan het. Toe die vriendinne, albei ma’s, vroeg vir die afspraak opdaag, het hulle besluit om sommer net daar en dan hul eerste video op te neem.

“Dit was net voor Valentynsdag vroeër vanjaar toe ons besluit het om met die video’s te begin,” vertel hulle. “Ons het sommer Lionel Richie se liedjie ‘Hello’ gesing en toe besluit om dit op Facebook te deel. Mense was gaande daaroor en ons het besluit om meer daarvan te doen.”

Op Valentynsdag het die vriendinne Backstreet Boys se “As long as you love me” opgeneem. Toe besluit hulle sommer om ʼn Facebook-blad te begin en minstens een keer ʼn week dié video’s te maak. “Ons redenasie daaragter was eenvoudig: As ons so lekker lag, moet daar sekerlik ook ander mense daar buite wees wie se dag ons kan opkikker. Selfs al lag die mense ook vir ons – en nie saam met ons nie – is dit ook reg. Die belangrikste is net om te lag.”

Hulle sê die terugvoer vir dié video’s is oorweldigend en baie positief. “Veral ma’s geniet dit om ons video’s te kyk en te deel,” sê hulle. “Dalk is dit omdat ons albei ook ma’s is. Sosialemediagebruikers sê hulle lag te lekker; en dit is ons enigste doel agter die video’s.”

Anderdag het ʼn “tannie” op een van hul video’s gereageer en gesê hulle is “ridiculous, vertel hulle en lag dan uitbundig. Maar as jy nié daarvan hou nie, het hulle ʼn eenvoudig oplossing: “Moet dan nie kyk nie!”

Die twee het reeds ʼn voorlegging aan Via gestuur en wag nog net vir die oproep van dié televisiekanaal af. Met dié program wil hulle ook nes Corden opkomende en gevestigde sangers nooi om saam met hulle in die motor te kom sing. Maar wees gewaarsku: Jy sal die agterste sitplek moet inneem! “Ons het gehoop dat mense die video’s sal geniet en dat dit op sosiale media sou versprei. Noudat ons dit bereik het, mik ons vir televisie, en hoe groter die gehoor is wat na die video’s kyk, hoe meer mense kan ons laat lag.”

Om op hoogte te bly van die karaoke-vriendinne se kaskenades, besoek hulle amptelike Facebook-blad.

BFFKaraoke

#bffkaraoke Niks soos 'n lekker Country tune #momsmakinglifebetteronevideoatatime Share! Comment + like ons page. Da vat hy country style!!! Masser Lilian Nicolene Nel

Posted by BFFKaraoke on Wednesday, March 7, 2018

https://www.facebook.com/masser.lilian/videos/1018458391625471/

https://www.facebook.com/masser.lilian/videos/1014189425385701/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ponyvanbenoni ·

Julle is absolutely amazing ek love elke sekonde van julle

Ponyvanbenoni ·

Hartseer dat mense net slegte en hartseer nuus wil lees julle is regtig cool het n lekker vibe en maak mense smile

jean ·

Wat’n vrolikheid om die dag mee te begin!…Julle sing pragtig!

Lielile ·

Julle sit ‘n groot glimlag op my gesig! Doen so voort! Pragtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.