Video: Klein Gidion se brandweerman-droom bewaarheid

Gidion saam met die brandweermanne van die Centurion brandweerstasie (Foto: Christine Henrico)

Al byna een dekade lank veg die negejarige Gidion du Toit dapper en verbete teen ʼn seldsame genetiese siektetoestand wat jaar ná jaar sy drome laat wankel. Nou is dié jong seun se gróótste droom, om eendag ʼn brandweerman te word, vir ʼn enkele dag bewaarheid.

Du Toit, ʼn leerder aan Bronberg Akademie in Olympus, is by geboorte met Fanconi-anemie gediagnoseer – ʼn genetiese siektetoestand wat die beenmurg aanval en uiteindelik daartoe lei dat die beenmurg sekere funksies nie meer kan voortsit nie, onder meer die produsering van witbloedselle, rooibloedselle en plaatjies.

Die negejarige gebruik reeds sedert hy ses jaar oud is anaboliese steroïede wat die beenmurg stimuleer, wat op sy beurt dan funksies verrig wat lewensnoodsaaklik vir die menslike liggaam is. Nadat dié steroïede van die mark verdwyn het, het Gidion se stryd selfs nóg vererger.

Du Toit is nou weekliks in die hospitaal om onder meer plaatjie-oortappings te kry, en tweeweekliks om bloedoortappings te ontvang. Sy ma, Tuschka Reynders, poog al sedert die begin van die jaar om genoeg fondse in te samel vir behandeling in die buiteland wat hom die beste kans op ʼn “normale lewe” kan bied.

Reynders vertel aan Maroela Media Gidion het vroeër dié week vir die eerste keer in ʼn lang tyd totaal van sy siektestryd vergeet.

Gidion saam met die brandweermanne van die Centurion brandweerstasie (Foto: Christine Henrico)

ʼn Konvooi van die veiligheidsmaatskappy High Risk Unit het die negejarige Dinsdag buite sy huis in Moreletapark kom verras nadat die GROOTfm-span van die #JouMenseMyMense-projek die maatskappy genader het om Gidion se droom te bewaarheid.

“ʼn Konvooi van ses voertuie het met sirenes, liggies en ʼn applous hier by ons opgedaag,” vertel Tuschka. “Ons het uitgestap en hulle het gesê hulle is hier om ons op te pik. Gidion se oë was verskriklik groot; hy kon nie glo wat hy sien nie. Hulle het vir hom gesê hy moet kies in watter een van die voertuie hy na die Centurion brandweerstasie wil ry, en hy het gesê hy wil óf in die vinnigste een óf in die een met die meeste liggies ry. Toe kies hy die vinnigste een.

“Dit was absoluut ongelooflik om sy gesig dop te hou en om hom te ervaar. Ons het al die pad van Moreletapark tot in Centurion by die brandweerstasie met sirenes gery. Mense het seker gedink dis die president – dís verseker hoe belangrik hy gevoel het,” vertel sy.

Tuschka sê met hul aankoms by die brandweerstasie was talle brandweerwaens uitgetrek en die personeel het buite vir Gidion gewag. “Die brandweermanne het met hom gepraat, hom toegelaat om water met die brandweerslang te spuit en stories met hom gedeel. Sy gesig het geskitter – dit was die beste dag van sy lewe.”

Lindie Strydom, GROOTfm-projekkoördineer wat aan die hoof van die program was, sê Gidion se storie het haar hart, én die harte van dié stasie se luisteraars, geroer.

Strydom sê die #JouMenseMyMense-projek is juis begin om mense soos Gidion by te staan en hulle te help om hoop te behou selfs al kan jy nié ʼn geldelike bydrae maak nie. “Wanneer die behoefte so oorweldigend is, mis ʼn mens dalk iets wat jy vir iemand kan beteken omdat jy vaskyk in die eindbestemming. Ek dink dieselfde geld vir Gidion: baie geld word benodig vir sy behandeling in die buiteland, maar ons moenie toelaat dat die bedrag ons afskrik of dink ons moet dit oorlaat aan die groot maatskappye of die ouens met die groot geld om te help nie,” sê sy.

Lindie Strydom saam met Gidion en die personeel van die Centurion brandweerstasie (Foto: Christine Henrico)

“Ons het dié bemagtigingsprojek sodat mense kan besef dat jy nie noodwendig net geld hoef te skenk nie – jy kan ʼn oom, tannie, ʼn ma of ʼn siek kind in die hospitaal gaan besoek, en dit kan ewe veel impak hê. Jy hoef nie derduisende rande te gee nie, ʼn R50 is ook genoeg. Ons is ʼn GROOT stasie wat wil GROOT gaan met klein dinge. Dis hoekom ons na die brandweer uitgereik het; ons wou ʼn gebaar van liefde aan hom en sy ma bewys, want dis iets wat almal van ons kan doen.”

Strydom sê die belangrikste doel van die #JouMenseMyMense-projek is dat mense sal besef hoeveel impak hulle werklik op ʼn ander mens se lewe kan hê sonder dat geld selfs ʼn faktor is. “As elkeen sy deel getrou doen, is dit gesamentlik ʼn reusagtige poging. Ek het dit met Gidion beleef. As ons almal saamkom en net iets doen, kan ons soveel bereik.”

Tuschka sê die fondsinsameling vir Gidion se behandeling het tot dusver byna ʼn kwartmiljoen rand opgelewer. Die koste van die beenmurgoorplanting en die 100 dae hospitalisasie ná die operasie kos altesaam $500 000 (meer as R6 miljoen).

Om betrokke te raak, kan jy op Gidion’s Blessed Life-Facebook-blad meer oor dié negejarige lees. Besoek ook die Fanconi anaemiaFacebook-blad, die Hope4Gidion-webwerf of die YouCaring-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.