Video: Kleuterskool wil video by Bokke kry

Siya Kolisi ontvang ‘n trofee na die Springbokke se oorwinning van 41-7 oor Japan op 6 September. Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Daar is geen twyfel nie dat omtrent die hele land saam gaan staan wanneer die Springbokke teen Wallis uitdraf in Japan die naweek, maar Bokkoors het tot die jongste ondersteuners begeester.

In ʼn video wat op hul Facebook-blad gedeel is die week, staan sowat 140 van die Heidi Kleuterskool in Delmas se leerders in groen en geel getooi en wys hul beste danspassies op die ritme van “Back die Bokke” deur Early B. Die kleinspan raak dan heel stemmig wanneer hulle uit volle bors die Suid-Afrikaanse volkslied sing.

Die video sluit af met vlae wat wapper en hande wat waai op die ritme Jay se “Bring die beker huis toe”.

Riëtte Wheler, die skoolhoof van Heidi Kleuterskool, vertel aan Maroela Media dat die skooltjie aanvanklik aan die Hoërskool Warmbad se #BackdieBokkechallenge wou deelneem en ʼn vinnige roetine is tussen die onderwysers uitgewerk.

“Ons het Vrydag die idee voorgestel en Maandag besluit om te doen. Dinsdag moes al die kindertjies groen en geel aantrek en na een oefening is die video opgeneem. Die gemeenskap van Delmas is passievol oor rugby. Die kindertjies was verskriklik opgewonde.”

Wheler sê die teleurstelling was egter groot vir die skooltjie se gr. R-leerders toe hulle agterkom dat daar nie enige Springbokke saam met hulle die dans kom uitvoer nie. “Hulle wou weet waar is die Springbokke, soos Siya, Faf, Eben en Mapimpi dan en ons moes verduidelik dat hulle tans in Japan is.”

Die skool se doel is dus nou om dié ondersteuningsvideo by die Bokke in Japan te kry. Wheler het selfs die video op verskeie Bokke se sosiale media-blaaie gedeel in die hoop om hul aandag te trek. “Ons het die kinders belowe om te probeer om die video by die Bokke uit te kry. Ons hoop om terugvoer van een of meer van die Bokke te ontvang, dit sal die kinders se harte so bly maak,” vertel sy.

Die video is al meer as 1 200 keer gekyk en is al 30 keer gedeel. “Ons hoop dat die video wel raakgesien sal word deur iemand wat dit vir hulle sal kan aanstuur.”

Maroela Media deel die video met toestemming van die kinders se ouers.

Heidi Kleuterskool Bokke Challenge

Heidi Kleuterskool is Backing the Boks!!

Posted by Heidi Kleuterskool on Tuesday, October 22, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ongelooflik mooi! ·

Wow die video is ongelooflik mooi, ek glo die ondersteuning gaan help!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.