Video: Kliniek stap ekstra myl vir geestesgesondheid

Die Vista-personeel het Maandag ’n video bekendgestel ter bewusmaking van Wêreldgeestesgesondheidsdag (Foto: Verskaf)

Met Wêreldgeestesgesondheidsdag om die draai word mense opnuut weer bewusgemaak van die feite en mites oor geestesgesondheid.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is geestessiektes een van die grootste oorsake van ongeskiktheid ter wêreld. Meer as 300 miljoen mense ly wêreldwyd aan depressie, met meer as 800 000 mense wat jaarliks hand aan eie lewe slaan. Selfmoord is tans ook die hoofoorsaak van sterftes onder meisies tussen die ouderdom van 15 en 19.

Sowat 75% van Suid-Afrikaners ly aan ’n geestessiektes, maar gaan soek nie hulp nie. Volgens Nicolene Cronjé, bemarker en projekkoördineerder van die Vista-kliniek in Pretoria, word talle mense ontmoedig om wel behandeling te soek omdat ’n sekere stigma rondom geestesgesondheid ontstaan het. Dié stigma wat aan geestesgesondheid kleef, word assosieer met die woord “mal”.

Die Vista-personeel het Maandag ’n video bekendgestel ter bewusmaking van Wêreldgeestesgesondheidsdag (Foto: Verskaf)

Die Vista-personeel het Maandag ‘n video bekendgestel ter bewusmaking van Wêreldgeestesgesondheidsdag op 10 Oktober. Met dié video wil hulle die stigma rondom geestesgesondheid help verbreek deur die boodskap uit te stuur dat “jy nie mal is as jy depressie het nie” en dat “jy nie skaam hoef te wees om te erken dat jy aan ’n geestessiekte ly nie”.

Vista stuur ook die Crazy for Walkingveldtog op Wêreldgeestesgesondheidsdag van stapel waar deelnemers uitgedaag word om 12 uur lank te stap. Vista, in samewerking met BloemCare in Bloemfontein en die Crescent-kliniek asook Life Path Health in Kaapstad, gaan op dié dag pretlope onderskeidelik in Bloemfontein, Pretoria en Kaapstad aanbied.

Cronjé vertel dié inisiatief het in 2017 begin toe Hannetjie Buitendag, administratiewe bestuurder van Vista, die idee gekry het om van Pretoria na Kaapstad te stap ter bewusmaking van geestesgesondheid. Dit is tóé dat die veldtog teen die stigma van geestesgesondheid ontstaan het. “Sy wou bewys dat om van Pretoria na Kaapstad te stap ’n ‘mal’ idee is, nie depressie nie, en mense moet dit kan onderskei van mekaar.”

Vista stuur ook die Crazy for Walking-veldtog op Wêreldgeestesgesondheidsdag van stapel (Foto: Verskaf)

Ná twee jaar het die veldtog se gewildheid net toegeneem en deelnemers kan eersdaags ’n nuwe app vir hulle selfone aflaai om elke tree te meet tydens dié “mal” staproete. Deelnemers kan as groepe of individueel vir dié staptog inskryf.

Pretlope vind op 10 Oktober van 06:00 tot 18:00 plaas by die Pretoria Botaniese Tuin in Pretoria, die Vrystaatse atletiekstadion in Bloemfontein en by die Seepunt-promenade in Kaapstad.

Besoek gerus Crazy for Walking se Facebook-blad of webblad vir meer inligting oor die pretlope en om uit te vind hoe jy hieraan kan deelneem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.