Video: Komediante skeer gek met toerismeraad ná Tottenham-debakel

Themba Robin en Bouwer Bosch. (Foto: Skermgreep/Facebook)

Die musikant en akteur Bouwer Bosch het te midde van die opspraakwekkende Tottenham Hotspur-borgskapooreenkoms besluit om Suid-Afrika se “unieke besienswaardighede” in ʼn skreeusnaakse en eerlike toerisme-advertensie uit te lig.

In dié video vertolk Bosch en die komediant Themba Robin die rol van twee Suid-Afrikaanse toergidse, Johannes Burg en Nepho Tism, wat in “samewerking” met die Suid-Afrikaanse Toerisme (SAT) ʼn unieke toer van Johannesburg aan potensiële buitelandse besoekers gee.

Gedurende dié toer spog hulle tergend oor die land se wêreldklas vervoerstelsel, betroubare kragvoorsiener en unieke swembaddens, oftewel “firepools”.

Toeriste wat nie kans kry om die groot vyf in die Krugerwildtuin te sien nie, word aangemoedig om hul verkykers sommer in Edenvale nader te gryp om een van dié omgewing se vermiste tiere te gewaar.

Die Tottenham Hotspur-ooreenkoms het as hoofinspirasie vir die video gedien. (Foto: Skermgreep/Facebook)

Slaggate blyk ook volgens dié “gidse” ʼn goeie alternatief vir die Kango-grotte te wees.

“Die regering spog kort-kort met van hul sogenaamde prestasies soos om nuwe stadions te bou, maar dan is dit gewoonlik net ʼn groot grasveld en pawiljoen. Ek het toe net gewonder hoe sal dit lyk as mens ʼn eerlike en opregte toerisme-advertensie van Suid-Afrika maak, wat lyk asof ons die leuens wat hulle aan ons probeer verkoop nie net glo nie, maar net só aan toeriste oordra,” het hy aan Maroela Media vertel.

Die Tottenham Hotspur-ooreenkoms en die verskillende wyses waarop die voorgestelde R1 miljard wat SAT aan dié sokkerspan wou gee, het as hoofinspirasie vir die video gedien.

Dit wys selfs hoe Johannes en Nepho op die fiktiewe “Mamelodi Hotspurs” se nuwe en effens verlate geriewe oefen.

Maroela Media het vroeër berig dat SAT se handelsmerk as deel van dié borgskap aan die kant van die sokkerspan se sportsakke aangebring sou word, en dus buitelandse toeriste na Suid-Afrika sou lok. Die portefeuljekomitee vir toerisme het intussen dié voorgestelde borgskap gekanselleer. SAT het hierna ’n forensiese ondersoek gelas teen die fluitjieblaser wat dié voorgestelde borgskap aan die media uitgelek het.

Slaggate blyk ook volgens dié “gidse” ʼn goeie alternatief vir die Kango-grotte te wees. (Foto: Skermgreep/Facebook)

In lig hiervan, glo Bouwer dat die video se trefkrag juis daarin lê dat dit nie ʼn bespotting is nie, maar eerder ʼn eerlike en gevolglik humoristiese blik op die land se uitdagings gee.

Dit sluit selfs af waar die einste kamera waarmee Johannes en Nipho hul advertensie opneem deur ʼn boef gegryp word, enkele oomblikke nadat hulle buitelanders gerusstel oor die land se veiligheidsituasie.

“Ek dink die geheim met humor is om saam met mekaar en nie vir mekaar te lag nie. Ons het genoeg drama op politiese en ekonomiese vlakke in Suid-Afrika, maar beslis ʼn gedeelde humorsin. As ons saam kan lag oor die chaos gaan ons dalk die gevolge daarvan makliker trotseer.”

Die video is Maandag in Randburg geskiet en reeds teen Woensdag – kort voor Donderdag se chaotiese Staatsrede – op verskeie sosialemediaplatforms gedeel.

“Dít was blote toeval, maar werk perfek omdat ons in die video selfs met kabinetskommeling spot.”

Hy voeg skertsend by dat hulle nog nie terugvoer van SAT oor hul “advertensie” ontvang het nie.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Watsenaam ·

Wel gedaan manne, plaas julle ook so n bietjie met ons wêreld klas perdewedrenne voorspellers spog. My oorlede skoonma sal enige dag enige van die voorgeselde gunstellinge wen. Want hulle wen omtrent nooit. Wat n klugspul!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.