Video: Koop of skenk ’n hoender en hou magies vol

Talle welsynsorganisasies het hierdie week by Everest Wealth se Skenk ‘n Hoender-projek gebaat. (Foto: Jislaaik JA Photography)

Hoe help jy ʼn hoenderboer om sy onderneming volhoubaar te vestig? Dit kos die vindingrykheid van ʼn passievolle beleggingsmaatskappy wat die potensiaal van die boerdery raaksien, maar terselfdertyd ook wil help om die nood in hul plaaslike gemeenskap te verlig om ʼn projek van stapel te stuur waarby almal baat.

Die Skenk ʼn Hoender-projek is ʼn nuwe inisiatief van Everest Wealth, ʼn beleggingsmaatskappy in Centurion, wat ingespring het om Alwyn Kleinhans, die stigter van Kleinhans “Free Range” Hoenders, te ondersteun om op die nodige skaal doeltreffend in markomstandighede te boer.

Kleinhans glo sy hoenders moet vry op sy boerdery kan loop. Hulle word so natuurlik as moontlik grootgemaak, sonder hormone of enige voermanipulasietegnieke. Die uitkoms is ʼn gesonder, groter hoender wat minder spanning ondervind, en soos Kleinhans met passie verduidelik: “ʼn Mens kan die verskil duidelik proe”.

Everest Wealth het besluit om twee uitdagings op een slag aan te pak. Die Skenk ʼn Hoederveldtog het onlangs afgeskop, waar die maatskappy ʼn totaal van 15 000 top-gehalte vryloop‑hoenders vooruit by Kleinhans gekoop het.

Daarna het Everest Wealth hande met GROOTfm 90.5 gevat wat toe ʼn paar gemeenskapsorganisasies sonder winsoogmerk, wat die noodsaaklike deursigtige strukture het, genader het om die hoendervleis doeltreffend te versprei.

So is 3 500 hoenders reeds geskenk en versprei. Die organisasies sonder winsoogmerk wat tans by die projek baat vind, sluit in Atterbury Trust se Terugploeg, Helpende Hand, PEN, Eleos, die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis, die Pres. Kruger-kinderhuis, Hanna Charity, SA Cares for Life, Kairos, Kungwini Welfare Organisation en Diakonale Pleegsorg.

Sanet Fagan van SA Cares for Life het na afloop van die oorhandiging gesê na ʼn hele ruk van “nee” sê as ʼn versoek om hulp aan die organisasie gerig word, kan hulle uiteindelik weer “ja” sê.

“Die ergste ding wat jy vir iemand kan doen as organisasie wat altyd help, is om hulle weg te wys.” En toe bars sy in trane uit.

Volgens Fagan het sowat 80% van SA Cares for Life se donateurs na die inperkingstyd hul maandelikse bydraes onttrek. Talle welsyn- en liefdadigheidsorganisasies sit tans in dieselfde bootjie en dit beteken hulle kry geweldig swaar.

Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis, en Ina Kotze, bemarkingsbestuurder van die twee kinderhuise, het ook met oorgawe hierdie skenking van hoendervleis ontvang.

“Die massiewe skenking is so ʼn seën. Dit bring verligting aan ons begroting. Die geld wat ons sou spandeer het op hoender, kan nou ʼn ander gaatjie help toestop. Ons het baie planne en droom groot, maar mens kort geld vir sulke projekte. Dankie dat julle saam met ons droom en groot dink,” het Grobler gesê.

“Ek dink daar moet meer sulke hoendervleis-oomblikke wees in ons gemeenskap en ons vra ander instansies om ook betrokke te raak en terug te ploeg. Om te gee en om te help is altyd lekker en opsigself ʼn reuse-seëning,” het Thys van Zyl, hoof van produkte by Everest Wealth, gesê.

Volgens Van Zyl wil die beleggingsmaatskappy met die projek daarop fokus om ʼn volhoubare siklus te skep met die inkoop van die publiek en ander sakeondernemings. ʼn Mens kan een hoender teen so min as R50 aankoop en dit dan weer aan ʼn behoeftige organisasie skenk. Lesers kan Kleinhans “Free Range” Hoenders verder ondersteun deur hul hoenderprodukte direk aanlyn by dié plaas aan te koop. Die produkte word tans weekliks by huishoudings en organisasies in Pretoria en Johannesburg afgelewer.

Verder word 15% van dié boer se hoenderboerdery se aanwas aan die Skenk ʼn Hoender-projek geskenk. Alles met die eindelike doel om proteïne aan die gemeenskap te verskaf, en sodoende begunstigdes deur beter voeding in staat te stel om nog ʼn treetjie tot selfstandigheid te neem.

“Voedselsekerheid is ʼn voortdurende uitdaging, nie net in ons eie land nie, maar op wêreldwye gebied. Ons is dankbaar vir almal wat hande vat om hierdie uitdaging stuk-stuk te oorwin en oorkom. Honger magies het ʼn massiewe uitwerking op die gemoedstoestand en gedrag van landsburgers, om nie eers te praat van onderontwikkelde kinders as gevolg hiervan nie,” het Sonet Stofberg, skakelbeampte van GROOTfm 90.5, gesê.

As jy ʼn hoender wil aankoop of aan ʼn organisasie wil skenk, besoek Everest Wealth se webblad vir die projek vir meer inligting.

Kyk ook hier na Pieter Cloete se video van die Skenk ʼn Hoender-projek:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.