[Video] Maroela maak geskiedenis met nuwe radiostorie

Marius Vermaak, Schalk Vorster, Bettie Kemp, Antowan Nöthling en Anton Dekker (Foto: Susan Lombaard)

ʼn Groepie bekende radiopersoonlikhede, saam met ʼn nuwe stem of twee, het Woensdagoggend geskiedenis gemaak toe die eerste episode van ʼn splinternuwe radiovervolgverhaal in Maroela Media se radio-ateljee in Centurion opgeneem is.

Vuurvreters, ʼn dertienweke-radiovervolgverhaal, is die eerste radiovervolgverhaal van dié omvang wat in ʼn suiwer digitale formaat opgeneem word. Die meeste byklanke word ook digitaal gegenereer.

Maroela Media, in samewerking met die ervare Bettie Kemp, vervaardig die afgelope vyf jaar jaarliks minstens een radiovervolgverhaal van tussen 8 en 13 weke wat, te danke aan die Dagbreek Trust, kosteloos aan gemeenskapsradiostasies gelewer word. Voorheen is dié vervolgverhaal opgeneem by die SABC se radiodrama-ateljees of by die ateljees van Wow Produksies in Johannesburg. Vanjaar het Bettie Kemp saam met Maroela Media besluit om Maroela se goed toegeruste, digitale ateljee in Centurion in te span om die vervolgverhaal op te neem.

Die span benut boonop die geleentheid om ervaring en kennis aan ʼn nuwe generasie radiomense oor te dra. Schalk Vorster, ʼn ervare klankingenieur wat tydens sy loopbaan van meer as 40 jaar by die SABC duisende radiovervolgverhaal-episodes opgeneem en verwerk het, skuur skouers met Marius Vermaak, Maroela Media se jong ateljeebestuurder, wat sy ervaring van digitale toerusting en verwerking tafel toe bring.

Marius Vermaak, Schalk Vorster, Antowan Nöthling en Anton Dekker (Foto: Susan Lombaard)

“Daar is baie ervare klanktegnici daar buite, maar dis belangrik dat ons hulle kennis en ervaring gebruik om nuwe talent in die bedryf touwys te maak,” sê Bettie Kemp, vervaardiger van Vuurvreters. “Terwyl Schalk vir Marius touwys maak oor die inmeng van byklanke en musiek, leer Schalk by Marius ʼn paar nuwe truuks op sy digitale mengbank.”

Ook nuwe, jong stemme kry die geleentheid om by die ouer garde te leer. Su-An Müller-Marais, wat die rol van agent Sally in die vervolgverhaal vertolk, is ʼn omroeper by Groot FM wat vir die eerste keer haar buiging in ʼn radiovervolgverhaal maak. Sy staan skouer aan skouer in die ateljee saam met ervare radio-akteurs soos Lochner de Kock (Septimus Steyn in die verhaal), Antowan Nöthling (in die rol van agent Henri Vogel) en Anton Dekker (wat die rol van direkteur Victor Fransman speel).

“Ek was verheug toe ek met my eerste toneel daarin kom slaag om te praat, omdat ek so oorweldig was toe ek skielik teenoor veteraan-akteurs soos Bettie Kemp en Lochner de Kock moes speel. Daarbenewens is dit ʼn ongelooflike ervaring om te sien hoe ʼn storie lewe kry in ʼn ateljee voordat die luisteraars dit op die radio hoor. Wat ʼn voorreg om gementor te word deur Bettie Kemp, gelei te word deur ervare akteurs, geduld te word deur gesoute tegnici, bederf te word deur Maroela Media en volledig teatraal vermaak te word met slegs klank,” vertel sy.

Marius Vermaak en Schalk Vorster werk aan Vuurvreters (Foto: Susan Lombaard)

Schalk meen hoewel Vuurvreters spesiaal geskryf is om nie té veel natuurlike byklanke te hê nie, is dit ʼn wonderlike uitdaging om dié storie met behulp van digitale byklanke lewe te gee. “Die natuurlike byklanke wat nodig is vir die verhaal, word in die ateljee vervaardig. Iets soos die kraak van ʼn deur of die geritsel van koppies en pierings word met behulp van ʼn mikrofoon opgeneem. In Vuurvreters gebruik ons egter ʼn kombinasie van digitale en natuurlik byklanke om die storie so eg as moontlik te vertel, so van ons klanke is reeds vermeng.”

Maroela Media het ʼn netwerk van 55 gemeenskapsradiostasies reg oor die land en internasionaal wat die geleentheid kry om dié radiovervolgverhale uit te saai. Episodes word ook ná uitsending op Maroela Media se webwerf gepubliseer om te luister.

Vir Lochner de Kock en Bettie Kemp is 2017 boonop die jaar waarin hulle ʼn vriendskap van 60 jaar vier.

“Ons was in 1960 saam in graad 1 in Laerskool Totius in Belville,” vertel Lochner. “Ons werk reeds die afgelope 40 jaar saam in die radio- en toneelbedryf. Dis ʼn voorreg om met Vuurvreters weer onder Bettie se leiding in die ateljee te wees.”

Schalk en Lochner kom ook ʼn lang pad – hulle het in 1982 vir die eerste keer saam begin werk toe Die Mannheim Sage vervaardig is.

Vuurvreters is tans in die vervaardigingsproses. Hou Maroela Media gerus dop vir meer inligting oor dié radiodrama en wanneer dit vir die eerste keer deur gemeenskapsradiostasies uitgesaai gaan word.

Kyk hoe Su-An en Bettie ʼn toneel opvoer:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fanie Kemp ·

Baie geluk en baie dankie!!
Ons bou, terwyl ander betoog en afbreek.
Ons sal met die hulp en seen van DIE HERE vir ons en ons nageslagte hier ‘n toekoms BOU .

Liza ·

Fantasties!!! Hoe klop my hart nou vinniger toe ek ook lees van Mannhein saga. Ek het elke middag na skool eers stories geluister.Wag in afwagting om Vuurvreters te volg. Dankie vir die harde werk.

Heidi ·

Hiep Hiep Hoera en welgedaan Susan! Kan nie wag nie,,,,ons sien uit daarna om dit weer op Whale Coast 96FM (Overstrand/Overberg) uit te saai.

Johanna Müller ·

Geluk Maroela Media en dankie vir heerlike vooruitsigte met goeie talent! Dis lekker dat julle ook aan nuwe radiostemme hierdie wonderlike geleentheid gee – mooi Su-an – ons sien uit!!

Sune van Heerden ·

Dagsê Yvonne

Die radiodrama sal op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai word – ons sal later meer hieroor op Maroela berig, bly dus ingeskakel! Die radiodrama sal ook op Maroela beskikbaar wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.