[Video] Mathys Roets agt jaar ná die ongeluk: Gebonde, nie gebroke

Mathys Roets (Foto: Cyril Blackburn)

Die donker traliehek skuif moeisaam oop toe ek voor die huis met die groot vensters stilhou.

Swaar onweerswolke hang steeds oor Pretoria nadat ʼn reënvlaag die oggend ʼn tak op die spoor van die hek laat beland het.

Die hekmotor laat hom egter nie afskrik nie – hy speel kraak-kraak vinnig klaar met dié onwelkome tak wat per ongeluk op die verkeerde spoor beland het.

Onder my leerstewels jil ʼn paar bessies ook hul laaste gesang terwyl ek na die swaar houtdeur stap. Hulle het ook onwillekeurig op die geplaveide pad beland toe die hoë bome die water uit hul hare geskud het.

Lank terug het hy dié dubbelverdiepinghuis juis vir die bome en die voëls gekoop, vertel Mathys Roets later toe ons om die marmerblad in sy kombuis kuier.

Dít was nog voor die motorfietsongeluk wat hom vir die res van sy lewe in ʼn rolstoel gekluister sou hou. Toe het hý ook soos die hekmotor ʼn hindernis op sy spoor gekry: ʼn sameloop van omstandighede, iets waarin jy geen keuse het nie, wat jou lewe ingrypend verander.

6 April was dit agt jaar gelede.

ʼn Volle 11 dae rondom daardie tyd in 2009 is vermis uit sy geheue – 11 dae wat volgens sy vermoë om te onthou, nooit gebeur het nie, vertel hy terwyl hy vir Catness, ʼn advertensiekat met groen pieringoë, en Asterix, sy Jack Russel-baba, elkeen ʼn koekie voer.

Hy het ʼn uur of wat voor die ongeluk nog by ʼn koffiewinkel op Bloemfontein stilgehou. By daardie einste koffiewinkel het hy sy handtekening op ʼn muur gemaak en geterg dat net Dozi se handtekening hoër as syne is.

Daarna onthou hy eers weer toe hy in die hospitaal wakker geword het ná ʼn medies geïnduseerde koma van 11 dae.

“Tot vandag toe, agt jaar later, weet ek nie wat gebeur het nie,” vertel hy terwyl sy oë oor die oopplanvertrek beweeg waar Asterix oorvriendelik na Catness blaf.

“Ek het al my eie ondersoek in my kop voltooi – ek moes, ʼn mens soek antwoorde. ʼn Mens móét weet. Al wat sin maak, is dat ek vir ʼn oomblik dalk met die navigasiestelsel gespeel het. Of dalk was ek in vervoering oor die landskap. Dit was ʼn oomblik en toe is my motorfiets van die pad af. Ek onthou niks; nie ʼn dooie duit nie.”

Twee motoriste, een van voor en een van agter, het stilgehou toe ʼn stofwolk oor die Bloemfonteinpad gehang het. Hy was verlam van sy middellyf – dit was die laaste keer dat hy geloop het.

Mathys Roets (Foto: Cyril Blackburn)

Toe die dokter dié verdoemende nuus gee, het hy homself ʼn enkele ding belowe: Dié rolstoel gaan nooit ʼn beperking wees nie.

“Skielik is jy bewus van jou verganklikheid – enige oomblik kan ʼn laaste wees. Ek wou méér doen as ooit vantevore, ek wou steeds sing, ek was steeds ʼn avonturier. Ek was nie van plan om vir die res van my lewe hier op aarde gekneg aan ʼn rolstoel te wees nie.

“Wanneer iets só ingrypend in jou lewe verander, is dit asof jy wakker skrik en besef hoeveel jy kan mis. Dan wíl jy elke mylpaal saam met jou kinders vier, jy wil daardie ding gaan doen waaroor jy al lank wonder en jy wil meer liefhê. Daar is niks stroperigs daaraan nie – ek staan nie elke oggend op en ruik die blomme nie, maar die lewe beteken nou meer. Die lewe is nie meer vanselfsprekend nie; dis ʼn geskenk,” vertel hy.

Intussen het Catness na veiligheid op sy skoot gespring. Blitse weergalm ver teen die horison, op die marmerblad spin ʼn kat genoegsaam en tevrede.

Vandag onderskei hy nie meer tussen vóór en ná die ongeluk nie – en die voorval is nimmer ʼn “gewraakte dag” nie.

“Om vrede te maak, is die belangrikste deel van die herstelproses. As jy nie vrede maak nie, dan bly jy kwaad, en dan beperk jy jou lewe nóg meer. Jy gaan sit en vra jouself: Hoe kan ek die beste wees in die situasie waarin ek tans is? Hoe gaan ek voort om te lééf, en nie bloot asem te haal nie? Jy trek ʼn streep in die sand, en dan sê jy hiér is waar my nuwe lewe begin, en ek omarm dit omdat ek nog ʼn kans gekry het.”

Hy raak steeds kwaad – maar nie omdat hy nie kan loop of vrede kan maak met dié rolstoel nie. Nee, oor mense se persepsies van rolstoele en hul optrede teenoor diegene wat in ʼn rolstoel rondbeweeg.

“Daar is ʼn stigma rondom mense in rolstoele – dat ons hulpeloos is en nie self oor die weg kan kom nie. Wanneer ek êrens is en iemand langs my stap, wil hulle altyd die rolstoel stoot. En ek is nie kwaad dáároor nie, maar ek wil hê mense moet weet ons is oukei. Inteendeel; ek het nou die dag valskerm gespring en ek gaan ski steeds elke jaar. As my reëlings uitgewerk het, was ek vanjaar weer op my motorfiets op pad KKNK toe. Maar nou ry ek in my motor – alleen, want ek kán.

“En dis nie ék wat wonderlike goed doen nie, dis almal in rolstoele wat ek ken. Maar daar bly die stigma rondom ʼn rolstoel, en ek wens ek kon dit verander.”

Met hom en Jané van Litsenborgh, sy vriendin van die afgelope paar jaar, gaan dit baie goed. Hulle het juis saam besluit om vir Asterix ʼn huis te gee – en net langer as ʼn jaar bring die hondekind met die sagte pels net vreugde in die huis in.

Mathys Roets (Foto: Cyril Blackburn)

“Dis wonderlik om saam met iemand te wees wat my ondersteun en my nie met handskoene hanteer nie, maar tog so baie vir my doen. Sy laat my wees, ek laat haar wees, en saam ís ons net,” vertel hy.

Hy wys na ʼn muur vol fotorame – van die mooiste herinneringe hang geraam teen een muur. Dít is nóg ʼn les wat hy geleer het, vertel hy terwyl sy oë die foto’s bly ondersoek.

“Neem foto’s – neem báie. Verewig jou herinneringe sodat jy alles vir altyd kan onthou. Dis belangrik en dis ʼn les wat die ongeluk my geleer het. Deesdae as ek kyk na ʼn foto waar ek op die verhoog staan, is dit vir my vreemd. Ek kan nie meer onderskeid tref tussen toe en nou nie, maar ek is bly ek het daardie foto’s om my te herinner.”

Met sy loopbaan gaan dit óók goed. Hy stel op 17 April sy jongste album, Songs of Leonard Cohen, by die Atterbury Teater in Pretoria bekend.

Hy sing al jare die liedjies van dié ontslape kunstenaar. In die negentigs, voor Mathys nog ʼn huishoudelike naam was, het hy konserte uitverkoop met sy weergawes van Cohen se melodieë.

ʼn Paar jaar later het hy nóg vertonings by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein uitverkoop.

Toe Cohen op 7 November oorlede is, het hy ʼn ode aan hom gedoen by ʼn konsert in die Oos-Kaap.

“Sy woorde was nog altyd vir my tydloos – hy kon daarin slaag om nie eragebonde te skryf nie. Maar daardie aand het die woorde van sy melodieë my meer as ooit vantevore getref. Cohen het altyd gesoek na iets meer in die lewe, en ek kan my daarmee vereenselwig.

“Té veel mense vra die vrae, en te min mense soek die antwoorde. En dit is belangrik dat ons soek en aanhou soek. Dalk is die antwoorde te brutaal – en dalk wil niemand werklik die antwoorde hê nie. Maar daarom glo ek Cohen was so ʼn groot gees: hy het gesoek tot hy nie meer hier was nie. Só sal ek ook wees tot die einde: ʼn soeker; iemand wat nimmer as te nooit opgee nie.”

Songs of Leonard Cohen is die klankbaan van een van sy konserte in 2003 wat ook al op DVD uitgereik is.

WEN: Drie lesers kan elk ʼn Mathys Roets-album wen. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontakbesonderhede, woonadres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is die naam van Roets se jongste album? Inskrywings sluit 17 April. Wenners word per e-pos in kennis gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Michael ·

Ek was ook in n ernstige motorfiets ongeluk jaar en 2 maand terug hou van sulke leesstof want dink ons kan van mekaar leer in sulke tragedies.Was in dieselfde Nasorg as hy ook.Alle sterkte en groete

mariki van Heerden ·

Awesome! Het nog altyd jou sang en musiek gewaardeer. Nou het jy n pragtige gesindheid van “to be content”

Shaan ·

Dis baie mooi geskryf Cyril Blackburn. Jy het omtrent ‘n prentjie geskep.

fransa ·

Nie stigma nie dis net empatie. Laat ander toe om betekenisvol te voel al is dit net om di stoel te stoot. Mens dink dit kon net sowel ek in di rolstoel gewees het. Dit laat mens opnuut besef jy moet voluit lewe…

Leon van Rensburg ·

Mnr. Roets, Mathys,
in die dae wat ek verlore en verwese (ja, ek voel ook so ) voel is jou boodskap so positief, ek lig my hoed vir jou.

Met jou en Maroela se toestemming sal ek jou graag wil kontak.
My e-pos is: [email protected]
Hoop om van jou te hoor, Leon

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.