[Video] Mathys Roets ‘loop’ met spesiale masjien

Mathys Roets (Foto: Facebook via Mathys Roets)

Mathys Roets (Foto: Facebook via Mathys Roets)

ʼn Video, waarin die Afrikaanse sanger Mathys Roets met  behulp van ʼn spesiale masjien loop, het blitsvinnig opslae op sosiale media gemaak.

Roets, wat sedert 2009 verlam is ná ʼn motorfietsongeluk, het aan Maroela Media vertel dié masjien is die enigste van sy soort in Suid-Afrika. Die masjien, wat aan die biokinetika-onderneming Justen-Jeffrey behoort, word dikwels gebruik as terapie vir mense wat verlam is.

“Die masjien word ongelukkig net vir terapie of oefendoeleindes gebruik. Dit beteken vir mense ongelooflik baie om weer te kan ‘voel’ hoe dit voel om te staan of loop,” het hy vertel.

Volgens Roets is die masjien nie funksioneel vir kwadrupleë nie. “Parapleë was al in staat om weer van hul spiere te oefen en versterk en derhalwe weer te begin loop. Dit kan egter nie so werk vir mense wat heeltemal verlam is nie en daarom word dit gebruik vir terapie.”

Hy sê die gevoel om weer te ‘loop’ is “wonderlik”. “Ek wou dit bloot doen om te kan sê ek het dit ervaar, maar dit was wonderlik. Die masjien doen byna al die werk, maar dit verg baie inspanning om jou nek en skouers regop te hou en nie vorentoe te hang nie,” het hy bygevoeg.

Roets sê hoewel daar nog nie planne vir die toekoms is dat só ʼn masjien die lewe van ʼn kwadrupleeg drasties kan verander nie, is dit genoeg om net weer te voel asof jy loop. “Dit hou ook baie gesondheidsvoordele in, aangesien die motoriese bewegings baie meer is as in ʼn rolstoel en so jou spiere laat oefen. Dis ʼn ongelooflik apparaat en ek sal dit beslis weer doen.”

Loop soos Robocop. Dankie aan Justen-Jeffrey biokinetikus. Ongelooflik om my bene te sien beweeg.

Posted by Mathys Roets on Thursday, July 7, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

charlene ·

Mathys dis goeie nuus dat jy weer jou spiere kan oefen maar loop of nie jy stem bly ongelooflik amazing en jy bly `n wonderlike mens.

Oudste ·

Mathys, jy is ‘n yster en ‘n inspirasie vir my, wat nie ‘n liggaamsgebrek het nie. Ek haal my hoed af vir jou en wil vir andere se: Stil, kyk, daar is ‘n man besig! Shalom.

annatjie ·

Wonderlik! Maar wanneer kan ons n cd verwag. Hoekom so stil met daardie mooi stem. Net Afrikaans asseblief!

Maryna ·

Dink my seunkind sal weier om uit te klim as hy so ‘n kans kry! Dit klink heerlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.