Video: Meisie kry verrassing by skool ná kankerbehandeling

Zanmari Kriel (Foto: Verskaf)

Zanmari Kriel (8), ’n gr. 2-leerder aan die Laerskool Danie Malan in Pretoria, het ʼn groot verrassing gekry toe sy ná haar kankerstryd – waartydens sy al haar hare verloor het – teruggekeer het skool toe.

Al haar skoolmaats het mussies gedra nés sy en haar met ʼn erewag ingewag.

Choriokarsinoomkanker is op 21 April by Zanmari gediagnoseer. Haar pa, Francois Kriel, het gesê Zanmari het vir ʼn tyd lank gekla dat sy nie lekker voel nie. Hulle het met haar dokter toe gejaag nadat sy in hul huis inmekaargesak het en oor pyn in haar buik gekla het.

“Ek het gedog ek jaag hospitaal toe vir ʼn blindederm-probleem, maar toe was dit baie erger. By die hospitaal het die dokter ʼn choriokarsinoom in haar vrouedele opgemerk,” het Kriel aan Maroela Media gesê.

“Sy het ʼn noodoperasie ondergaan waar hulle haar een eierstok verwyder het. Hulle het die kanker verwyder en ook ʼn stukkie limfvet in haar maag. Sy het toe ook twee weke later met chemoterapie begin, waarvan sy vier sessies moes ondergaan,” het hy gesê.

Asof die kankerskok nie genoeg was ni,e het Zanmari se ma, Yolandi, een maand ná die diagnose ʼn beroerte gekry. Sy is ook in die hospitaal opgeneem.

Zanmari was baie selfbewus oor haar hare wat uitgeval het weens die chemo, en was senuweeagtig om terug te gaan skool toe. Yolandi, Francois, vriende van die familie en baie ander mense het hul hare in solidariteit met Zanmari afgeskeer.

Haar skoolmaats het ook uit hul pad gegaan om vir Zanmari welkom te laat voel toe sy teruggekeer het skool toe.

Zanmari Kriel (Foto: Verskaf)

“Ek het vir die skoolhoof laat weet dat Zanmari op die Maandag weer terug skool toe gaan kom. Sonder dat ek weet, het die skoolhoof toe gereël dat al die ander kinders by die skool ook mussies op hulle koppe het, nes Zanmari,” het Kriel gesê.

In die video kan ʼn mens sien hoe die skoolkinders in ʼn erewag vir Zanmari tot by haar klas staan. Al die kinders het mussies op en hulle klap hande soos Zanmari instap.

“Toe ons by die skool inloop en ons sien die kinders het almal ook mussies aan, toe kon ek sien Lalla (Zanmari) raak stil en kyk net rond. Ek wou in trane uitbars, want dis ʼn groot skool met sowat 2 000 kinders en hulle almal het mussies aan! Ek het net na haar gekyk en gesê: ‘Lalla, sien jy? Dit is alles net vir jou!’

“Sy was vir vyf maande uit die skool voordat sy teruggegaan het; ek kon sien sy was so op haar senuwees en bang, maar sy het geglimlag toe sy dít sien,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel was die tydperk van Zanmari se behandeling baie moeilik. Hy het gesê die ondersteuning van die skool en gemeenskap het hulle deur die moeilike tyd gedra.

“Sy het maar baie swaargekry tydens die behandeling. Sy het verskriklik siek geword. Maar die ondersteuning wat ons gekry het is ongelooflik, almal het ons so goed bygestaan.”

“Zanmari is ʼn ongelooflike meisiekind. Sy is gewild in die skool en het baie maatjies in die hospitaal ook gemaak. Deur al die swaarkry het sy altyd vriendelik gebly. Ek kan nou met sekerheid sê sy is amptelik my hero,” het Kriel gesê.

Welkom terug Zanmari Kriel in graad 2! Zanmari het haar laaste chemoterapie ontvang en is terug by die skool. Haar maats het haar eerste dag vir haar bietjie makliker probeer maak deur ook mussies te dra. Hul het ook 'n erewag vir haar gestaan tot by haar klas. Ons is saam met jou bly dat jy kanker geklop het. Welcome back Zanmari Kriel. Zanmari received her last chemo therapy. Her friends wanted to make day 1 back at school easier for her. The wore beanies and stood a guard of honour. We are proud of you.

Posted by Laerskool Danie Malan on Monday, August 27, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

C ·

Ek sit met trane in my oë terwyl ek die video kyk dit was baie mooi gewees van al die kinders en die hoof om dit te gedoen het. Bly sy is gesond en baie bly sy het sulke goeie ondersteuning van almal af.

Elize ·

Uitstekend van die hoof om die kind so te ondersteun. Sterkte meisie vir jou vorentoe en weet dat jy nie alleen is nie. Dankie ook aan al die kinders wat haar so mooi verwelkom het. Dit is min dat mens sulke mooi goed lees en beleef.

Landi ·

Sjoe ja en hier sit en huil ek, waar kry jy nog sulke oulike skoolhoofde, dit is ongelooflik wat julle vir hierdie meisiekind gedoen het

Leser ·

Ja jinne, hier rol die trane sommer. Wat ‘n pragtige gebaar.

Shim ·

Lalla jy’s ‘n sterk meisiekind en haar familie, mag die pad voorentoe net vol blessings en vreugde wees!

Hannelie ·

Wow!!! Ek kry trane in my oë. So ‘n dapper meisie. Sterkte my kind, ons bid almal vir jou en hoop dit gaan goed met mamma na die beroerte.

Griki ·

Wat ‘n fantastiese gebaar deur die skoolmaats et al – julle is almal wonderlik. Lalla, baie sterkte vorentoe en jou hare sal gou-gou weer teruggroei. Moet sê, as ek so ‘n pragtige kop soos joune gehad het sou ek nie omgegee het om my hare af te skeer nie (net soos Sinead O’Connor).

Hallelujah ·

Hallelujah – hallelujah – Amen my God – dankie Laerskool Danie Joubert – ek het na die Video gaan kyk op my selfoon. Trane in my oge – want saam met Zanmari is daar ander kinnertjies daarbuite wat ook met die kanker probleem sit. Ek salueer julle ook en klap vir julle almal hande want wat julle deurgaan – ai daar kom die trane al weer. Amen

Louwnette ·

Ek moet net byvoeg, haar juf het ook n punt gemaak dat die klas vir haar n welkom terug partytjie gehou het. En baie van die mamma’s het bygedra om haar dag spesiaal te maak…

Francois Kriel ·

Hi daar.
Dankie Louwnette ek weet van die ouers wat betrokke was. Dankie vir die gemeenskap, ons vriende, ouers en maats, en Hettie Smith en al die onderwysers en maats by Danie Malan. Almal was ongelooflik en het ons en my spesifiek deur een van die moeilikste tydperke van my lewe gehelp. God seën almal van julle. Nou wil ons net graag aangaan met ons lewens en elke dag bid vir al ons nuwe maats by Unitas. xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.