Video: Moedersdagmooimaak-wenner: ‘Ek lyk soos die ma in my meisiekind se drome’

Sanet Nel (Foto: Simoné Venter)

Deon Nel is vir ʼn oomblik sprakeloos toe die elegante vrou met die sjarmante haarstyl en vleiende blou rokkie by die hotel se deur uitgestap kom.

“Sjoe, my skat, ek het jou amper nie herken nie,” is sy eerste woorde toe hy sy vrou sien. “Dit voel soos ons troudag, jy lyk pragtig!”

Sanet Nel (45) van Boksburg aan die Oos-Rand in Gauteng is tot onlangs nog aangesien as haar kinders se ouma en haar man se ma. Toe wen sy Maroela Media se Moedersdagmooimaak-kompetisie: twee dae se skoonheidsbehandelings, voorkomskonsultasies en mooimaaksessies met ʼn algehele waarde van R32 100. En nou, vertel Sanet, het sy nuwe energie en lus vir die lewe.

Maroela Media se Moedersdag-kompetisie is in Maart van stapel gestuur. Lesers is aangemoedig om hulself of ʼn spesiale ma in hul lewe in te skryf om ʼn mooimaaksessie te wen. Die kompetisie is aangepak in samewerking met Carina Nel van Centurion, ʼn voorkomskonsultant met ʼn onderneming genaamd Fashion and Style Club. Carina staan ook aan die stuur van die Tall Women Movement.

Sanet Nel voor die mooimaak-sessie (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Verlede Donderdag, op 2 Mei, kom Sanet, ’n teruggetrokke ma van twee, met ʼn denim, T-hemp en tekkies by die Forever Resorts Centurion Hotel ingestap om met haar twee dae lange mooimaaksessies te begin. Haar sout-en-peperkleurige hare hang lank oor haar skouers.

Sanet het vir die kompetisie ingeskryf omdat sy glo sy lyk veel ouer as wat sy is, het haar inskrywing gelui. Sy het gesê sy voel nie so oud soos wat baie mense dink sy is nie, en dat dit haar seermaak as mense dink sy is oud.

“Ek wil net weer ʼn bietjie mooi en spesiaal voel. Ek wil hê my man en my kinders moet trots wees op my,” het Sanet geskryf. Haar 11-jarige dogter, Kina, was een van haar grootste inspirasies om in te skryf. Dit is ook sý wat die foto’s van haar ma geneem het om vir die kompetisie in te stuur.

“Ek wil vir haar ʼn inspirasie wees vir eendag as sy groot is. Sy moet weet dit is belangrik om na jouself te kyk. Ek wil, as vrou, goed voel oor myself, sodat sy ook eendag dieselfde kan doen.”

Twee dae se bederfsessies

Carina en Sanet (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die twee dae lange bederfsessies begin met ʼn heerlike kuier saam met voorkomskonsultant Carina Nel,  wat Sanet help om haar stylpersoonlikheid te ontdek. Hulle bespreek kleure wat goed saam met haar velkleur sal werk. Haar stokperdjies, werk en roetine word in ag geneem om vir haar ʼn volhoubare nuwe styl te skep.

Hierna gaan Carina en Sanet by House of Superior Clothing inkopies doen waar Sanet ʼn verskeidenheid uitrustings aanpas sodat hulle kan sien waarin sy goed lyk en voel. Hulle besluit saam sy lyk en voel goed in kleure soos blou en pers, maar dat sy eerder van swart moet wegbly. Om haar ʼn bietjie uit haar gemaksone te haal, het hulle ook ander kleure uitgetoets. ʼn Hele paar van Sanet se gunstelinguitrustings word vir haar ingepak om saam te neem huis toe as deel van haar prys.

Donderdagmiddag is ontspantyd: Die Annique Skoonheidsalon en Dagspa in Centurion bederf Sanet van kop tot tone met ʼn volledige spa-pakket wat haar sowat drie uur lank besig hou. Sanet was nog nooit tevore in ʼn spa nie, vertel sy, so dié ervaring was vir haar ʼn ongekende luuksheid.

Sanet Nel (Foto: Simoné Venter)

Ná ʼn heerlike nagrus in die Forever Resorts Centurion Hotel is dit tyd vir ʼn nuwe haarstyl. As volwassene het Sanet nog altyd lang hare gehad, waarskynlik omdat sy as dogtertjie nie toegelaat is om lang hare te hê nie, sê sy. Vir gerief het sy haar hare in ʼn lae poniestert gedra. Hoewel sy van haar lang hare hou, is sy nie bang vir verandering nie. Sy en Anita Baatjies van Hair at the Hub besluit op ʼn kort bob wat haar gesigstruktuur aanvul en vlei, asook goed by haar nuwe voorkoms sal pas. Anita sit ook ligter strepies in Sanet se hare om haar ʼn jonger maar volhoubare voorkoms te gee. Op die koop toe word Sanet se tande gebleik deur Anita sélf en haar naels geverf deur Nastasia Tait.

Met Sanet se splinternuwe haarstyl is daar skielik ʼn groot verandering in haar houding en selfvertroue te sien. Sy staan onmiddellik regop, glimlag meer en loer elke nou en dan skelmpies vir haarself in die spieël.

Die laaste stukkie van die legkaart is ʼn grimeersessie, geborg deur Martie Kruger van Martie’s Salon. Martie sorg dat sy vir Sanet talle wenke gee oor hoe sy haar grimering self kan aanwend en in stand hou wanneer sy terug is in haar normale lewe sonder fotosessies, inkopie-uitstappies en spabehandelings.

En toe word die splinternuwe Sanet op kamera vasgevang tydens ʼn fotosessie in die hotel se tuin deur die bekroonde fotograaf Simoné Venter – ʼn fotosessie waartydens Sanet uit haar dop kruip en vir die wêreld wys wie sy regtig is. Dié mooi vrou sal voortaan allermins vir ʼn ouma aangesien word.

Die groot oomblik

Deon, Sanet, Kina en Michael Nel (Foto: Simoné Venter)

Uiteindelik het die oomblik aangebreek om Sanet se nuwe voorkoms aan haar man, Deon, en twee kinders, Michael en Kina, te wys.

Sanet se man, Deon, snak behoorlik na asem.

“Dis hoe my mamma in my drome gelyk het,” sê die 12-jarige Kina verstom. Selfs Michael, wat ʼn bietjie benoud was dat sy ma dalk as ʼn donkerkop by die deur gaan uitstap, sê sy lyk baie mooi.

“Een van die spesiaalste dinge van hierdie prys was die feit dat almal wat my help mooimaak het, my laat voel het dat my selfwaarde van binne kom, en dat hierdie uiterlike mooimaak maar net ʼn uitbeelding daarvan is,” sê Sanet terwyl almal vir oulaas in die tuin saamkuier. “Almal met wie ek te doen gehad het, dien die Here en het my regtig met ʼn mooi gesindheid bederf.”

Deon en Sanet Nel (Foto: Simoné Venter)

Terwyl Carina en Sanet haar nuwe klere gaan inpak, gesels Deon en die kinders met die span van Maroela Media.

“Sanet is die een wat altyd alles vir almal om haar doen,” vertel Deon aangedaan. “Sy dink altyd heel laaste aan haarself en werk haar morsdood vir die mense wat sy liefhet. Saterdagoggende laat sy my darem toe om haar met ʼn koppie koffie in die bed te bederf. Daar is nie iemand wat hierdie prys meer as sy verdien nie.”

Terug in die “regte lewe”

“Ek voel soos ʼn nuwe mens; ek voel weer jonk,” laat weet Sanet ʼn dag ná die mooimaaksessies. “Ek het sommer weer lus vir goedjies waarvoor ek minder lus begin voel het.”

Ná ʼn week met haar nuwe voorkoms vertel Sanet vir Maroela Media sy voel steeds fantasties.

“My man en kinders het die hele naweek na my gestaar om seker te maak ek is hulle mamma en die vrou van die huis. By die werk kyk mense, en dan kyk hulle weer, met soveel verbasing en opgewondenheid. Ek het soveel komplimente van vriende en familie gekry. Ek voel so anders en jonger, ek kan nie genoeg dankie sê nie,” vertel sy.

Sanet moes Saterdag, die dag ná haar mooimaaksessies, vir Kina vat om aan ʼn trompoppie-kompetisie deel te neem.

“Sy was so opgewonde en wou tog net hê die maats en juffrouens moet haar ma sien,” sê Sanet. “Ek is bly ek kan haar trots maak.”

Dankie aan die borge

ʼn Groot dankie aan die volgende borge wat Maroela Media se Moedersdagmooimaak-kompetisie moontlik gemaak en Sanet se pryse geborg het:

  • Carina Nel, voorkomskonsultant, vir konsultasies en inkopiesessie ter waarde van R4 050 en bykomende klere en bykomstighede ter waarde van R2 400.
  • Mercia van der Walt van House of Superior Clothing vir klere ter waarde van R4 000.
  • Annique Skoonheidsalon en Dagspa vir spabehandelings ter waarde van R2 000.
  • Forever Resorts Centurion Hotel vir Sanet se verblyf en etes ter waarde van R3 000, asook die gebruik van die hotel en tuin vir die fotosessie.
  • Anita Baatjies van Hair at the Hub vir Sanet se nuwe haarstyl, Wella-haarprodukte, die bleik van Sanet se tande en ook verdere haarstilering vir ʼn jaar, ter waarde van R13 210.
  • Martie Kruger van Martie’s Salon, vir die grimeersessie en Annique-produkte ter waarde van R650.
  • Nastasia Tait vir Sanet se naels ter waarde van R290.
  • ʼn Fotosessie van Simoné Venter Photography ter waarde van R2 500.

Die algehele waarde van Sanet se prys beloop R32 100.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Devill ·

Die foto met die hele gesin is mooi maar die een waar sy en haar man so kop teen kop staan is vir my die heel mooiste!

Wat ek uit die foto kry is dat julle waarlik lief is vir mekaar en dat julle die sak sout al so paar happe gegee het!

Verlang sommer nou na my vrou!

Feite ·

Welgedaan aan almal! Hierdie dame lyk pragtig en dit straal van binne ook uit.

kolla ·

Sy’t eintlik maar net ‘n ordentlike hair-do en klere nodig gehad. Glo nie dat die duisende rande nodig was nie.

Adelheid ·

Wat n sprokie! Julle gee hoop aan ander dat n mens so pragtig kan transformeer, Sy lyk “stunning”. So lekker om iets opbouend te lees.

Jerry ·

Mooi Carina, jy is inderdaad n wonderwerker! Die sprankel is nie net terug in Sanet se lewe nie, maar duidelik ook in haar hele gesin!

Jane ·

AARDE MAAR SY LYK PRAGTIG . baie geluk . dit was ‘n GROOT SUKSES .. geniet jou nuwe look !!!

jessica ·

i don’t have words, she looking stunning, i wold love to be in her shoes, what a dream come true.

Nettie ·

SJOE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Dis al wat ek kan en gaan sê.

Roos ·

Sanet, jy is ‘n baie mooi vrou. Lang hare doen niks vir meeste van ons nie. Bietjie kleur in die gesiggie, doen baie vir ons almal. Nou gaan ek bietjie my klerekas bekyk na die stukkie inspirasie. ❤️

Foxi ·

Vreeslik mooi en aantreklik nou. Ek sê altyd, n mooi haarstyl en n bietjie grimeering kan jou hele voorkoms verander.

Patch ·

Oe stunning!!!! Jy is ‘n pragtige vrou! A change is as good as a holiday…. nou gaan jy net vakansie hou :)

GM ·

Kolla, vir die ‘look’ was als seker nie nodig nie, maar kyk ‘n man rugby sonder sy vriende, biltong, chips, brandewyn en coke? Gaan die ervaring dieselfde wees sonder al daardie dinge?
Netso ook met die spa-sessie ens. Dit was deel van die ervaring. Dit het die vrou laat ontspan, haar vel gloei sommer. In geheel het als haar ekstra spesiaal laat voel.

Ekself sal nooit soveel geld op ‘n mooimaak-sessie spandeer nie, maar dis nou die lekker van die kompetisie – sy het dit gratis gekry, en sy lyk absoluut ‘stunning’. Dit is ook goeie publisiteit vir die mense betrokke. So dis ‘n wen-wen.

Lollie ·

Almal wat gehelp het om haar natuurlike mooi uittebring wil ek dankie sê. Sanet jy is pragtig!

Angelique ·

WOw Wow Wow…. Sanet jy lyk nou so pragtig soos wat jy altyd is.Jy is een amazing ma en nou skyn jou prag nog meer. Ek mis ons geselsies langs die rugbyveld.Ek kan net sê wow,ek kan nie dink aan n beter wenner nie,jy verdien dit.Jy het een pragtige gesin.Love jou fotos en ek kan sommer sien hoe jaloers gaan ons ander mammas wees.Ek is al klaar.Great job sponsors en dankie dat julle so n n kosbare mamma bederf het.

Rina ·

Jy lyk nou so pragtig!
Ek besef net dat dit wat sy sê so waar is, ons is in hierdie dolle gejaag. Gee nie altyd genoegsaam aandag aan ons voorkoms nie. Daarmee saam is ‘n haarkapster darem die wonderlikste mense… jou hare het vir my die grootste verskil in die finale afronding gemaak.

Angelique ·

WOw Wow Wow…. Sanet jy lyk nou so pragtig soos wat jy altyd is.Jy is een amazing ma en nou skyn jou prag nog meer. Ek mis ons geselsies langs die rugbyveld.Ek kan net sê wow,ek kan nie dink aan n beter wenner nie,jy verdien dit.Jy het een pragtige gesin.Love jou fotos en ek kan sommer sien hoe jaloers gaan ons ander mammas wees.Ek is al klaar.Great job sponsors en dankie dat julle so n n kosbare mamma bederf het.Ons het ons eie ssuperster

Susan ·

Sjoe!!!!! Jy lyk pragtig!!!! Mens kan sien jy is mooi, nie net van buite nie, maar van binne ook. Jy het die mooiste oë – WOW!!!!!!!!!

Elzette ·

Wow!!! Sy lyk so verskriklik mooi. Oulike gesin!! Kan sien sy het elke oomblik geniet. Pragtig.

T ·

My trane loop sommer. Wat ‘n mooi storie. Sanet jy is pragtig. Mag die Here julle huwelik en gesinslewe so seën. Dankie MM vir die pragtige berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.