Video: Motoris wat Tukkie-student tref: ‘Ons vergewe jou’

Frank Cato (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Frank en Juanita Cato, ouers van Adel Cato wat ernstige beserings opgedoen het nadat sy deur ʼn motor getref is, het die man vergewe wat hul dogter raakgery het en koester geen wrok teen hom nie.

Die tweedejaar-bedryfsielkundestudent aan die Universiteit van Pretoria is op 16 Julie omstreeks 22:30 by Duncan Yard in Pretoria deur ʼn motor raakgery. Sy en ʼn groep vriende het van een restaurant na ʼn ander oor die pad gestap en ander vriende wat nog by die vorige plek was, het haar teruggeroep. Sy het net ʼn ent in die pad terugbeweeg toe die motor haar tref.

Frank Cato het gesê hul gesin het dadelik besluit om nie die man kwalik te neem nie.

“Die aand van die ongeluk het hy ten minste die regte ding gedoen. Hy het stilgehou, uitgeklim en was ook baie besorg. So, ek en my vrou het toe so twee dae later met mekaar gepraat en, omdat ons gevoel het dit was regtig net ʼn ongeluk, het ons hom hospitaal toe genooi en vir hom gesê ons het hom vergewe.”

Volgens Cato was die besluit op geloof gegrond en het albei partye verlos van negatiewe gevoelens.

“Ons het besluit, om seker te maak dat God ons dogter uiteindelik laat herstel, moet ons hierdie persoon vergewe. Ek dink dit was ook goed vir hom, want ek glo nie hy het dit aspris gedoen nie. Hy moet dit ook nog verwerk, en dit help hom dat ons hom vergewe het,” het hy gesê.

Hy het ook aan Maroela Media gesê Adel se toestand toon die afgelope twee weke baie verbetering.

Adel Cato. Foto: Facebook.

“Dit gaan baie goed met haar. Sy was nou baie lank in die hoësorgeenheid waar sy geveg het om haar lewe, maar vandat sy uit die eenheid gekom het, het dinge regtig baie vinnig verbeter. Sy het skielik begin reageer en was net meer wakker elke dag.”

Adel het begin deur net haar oë oop te maak, toe het sy begin luister en nou het sy ook begin fluister.

“Sy kan nog nie praat nie, sy mompel redelik, maar sy fluister en ons kan al amper begin uitmaak wat sy probeer sê. Dit beteken sy wil al begin kommunikeer, so dit is baie goed. Sy het ook begin eet, wat fantasties is.”

Daar is onlangs bepaal dat Adel saam met die stamp teen haar kop en die bloeding op haar brein ook ʼn beroerte gekry het.

“Sy kan haar regterarm glad nie beweeg nie en haar glimlag is ook altyd skeef na die een kant toe,” het Cato gesê.

Cato het vertel dat hulle die boodskappe op Adel se selfoon vir haar begin lees het, noudat hulle weet sy luister.

“Ons het nou die dag ook vir haar ʼn video van haar boetie, wat in matriek is, gewys, en dit is die eerste keer ná die ongeluk dat sy régtig geglimlag het – albei haar mondhoekies het opwaarts beweeg. Dit was so mooi om te sien.”

Adel het Maandag met rehabilitasie begin, wat fisioterapie, arbeidsterapie en spraakterapie insluit. Sy sal dan só weer leer om behoorlik te praat en te begin loop.

“Twee weke gelede het ons nie geweet of sy gaan wakker word, of sy gaan reageer en of sy ooit gaan herstel nie, maar vandat sy uit die hoësorgeenheid is, gaan dit baie beter. Die dokters het gesê ons kan met 12-24 maande rehabilitasie ʼn herstelkans van 90-95% verwag.”

Adel moet nog minstens drie maande in die hospitaal bly waarna sy huis toe gaan, maar steeds elke dag hospitaal toe moet kom vir die verloop van haar rehabilitasie.

Cato het in hierdie moeilike tyd agtergekom dat daar baie mense is wat vir hulle as gesin omgee.

“Daar is soveel mense wat bereid is om te help en daar is ook baie mense wat omgee, wat jy glad nie eens ken nie. Dit laat mens amper sleg voel, want ek weet nie of ons dit verdien nie,” het hy gesê.

“Die huisouers van die koshuis waarin Adel was, Magrietjie, het nou al vir sowat tien weke hulle huisdeure vir ons oopgemaak omdat hulle baie naby aan die hospitaal woon waar Adel is. Dit het dit makliker gemaak vir ons om elke dag na Adel toe te gaan, sonder ekstra uitgawes vir ʼn gastehuis. Dit is ongelooflik en ons is só dankbaar daaroor. Ons waardeer almal wat omgee en ons ondersteun in hierdie tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sandy ·

Die Cato’s is ware christene. Dit is alklaar moeilik vir ‘n ouer om so iets te verwerk wat met hulle kind gebeur het, maar om die seun wat haar raakgery het te vergewe, spreek boekdele van hoe hulle is as mense.

willie ·

Dankie Maroela Media vir hierdie positiewe berig van ons mense as Christene! Dit laat jou hart so warm klop as kind van die Here! Aan die familie ons bid vir volkome herstel en ons glo dit sal gebeur! Abba Vader se seën vir julle! Amen

IK ·

Die tyd 22h30 sê vir my dat hier ‘n tragiese sameloop van omstandighede was. Was daar genoegsame beligting in die straat? Wanneer ‘n voertuig reguit na jou beweeg is dit maklik om afstand te onderskat veral waar jy net ligte sien aankom in die nag en tien teen een vir aankomende verkeer is die ligte ook gedomp van die voertuig wat jou nader wat dit moeilik maak vir die bestuurder van die aankomende voertuig om jou BETYDS te sien. Die motoris was ook nie voorbereid dat iemand (skielik?) oor die pad sou (hard?)loop. Gaan doen gerus die gevorderde bestuurskursus (myne was by BMW) en kom tot die besef watter afstand is nodig om ‘n voertuig tot stilstand te bring selfs met ABS-remme. Die stilhouafstand selfs teen ‘n ‘skamele’ 30km/h is angswekkend. Aan ons is demonstrasies gelewer tot 120km/h. Ook ek met 58 jaar ongeluksvry het beslis hieruit geleer deur die praktiese toepassing daarvan. My kleinseun is tans besig met sy leerlinglisensie maar hy gaan beslis by BMW op Zwartkops ‘n draai maak voordat hy met slegs ‘n K53 losgelaat gaan word op ons paaie. Ja, R5000 is ‘n klomp geld maar . . . Mag jy, Adel, ten volle herstel. Ek bid vir jou/julle.

Sandra ·

‘n Man het gebrand baie ernstig terwyl hy iemand anders se plaas beskerm het. Hy is alreeds 5 weke in hospitaal en dit gaan nóg baie lank wees. Eienaar van die plaas nog nie gebel om te hoor hoe dit met hom gaan. En tog na die video daar is goeie mense nê.

Phillip Groen ·

@Sandra

Jy kry mense en jy kry mense. Oor sie algemeen staan die boeregemeenskap saam as daar ‘n brand uitbreek en laat hulle alles los en sit lewe en eiendom op die spel om te red wat te redde is en verwag niks terug daarvoor nie. Ongelukkig is die teenpool ook waar, ek was al op n brand waar drade geknip moes word om beeste van ‘n gewisse branddood te red en waar die eienaar agterna kwaad is omdat die drade geknip was. En ons praat hier van ‘n gewone plaasheining nie ‘n wildsheining nie.

wag 'n bietjie ·

In die heel eerste berig na die gebeure is daar gemeld dat sy oor die straat geloop het en skielik teruggedraai het nadat sy geroep was en voor die aankomende motor beland.
Hierdie man is nie skuldig nie en Niemand hoef ‘n wrok teen hom te koester nie. Dit was ‘n ongeluk en nie sy skuld nie. Hy hoef nie om vergifnis te vra nie, maar sou seker want enigeen sal hom/haarself blameer as dit met hulle gebeur en daar sal ‘n skuldgevoel wees maar hy is nie skuldig nie.

Elvira ·

Sterkte sy SAL perfek herstel. Dankie Here vir haar vordering tot dusver.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.