Video: ʼn Kuiertjie saam met Pippie Kruger en haar ma

Pippie Kruger. (Foto: verskaf)

Suid-Afrika se liefling, Pippie Kruger, is byna ’n volwaardige tiener, maar haar ouers se geliefde meisiekind sal sy bly.

Maroela Media het by Pippie en haar ma, Anice, gaan kuier tydens een van hul vele doktersbesoeke waartydens die dapper jong meisie dr. Ridwan Mia besoek het vir ’n botoksprosedure om met spierverslapping te help.

Sedertdien het Suid-Afrikaners hulself behoorlik oor Pippie ontferm en Anice vertel dat sy die dag van haar ongeluk byna onmiddellik volksbesit geword het.

Dit is vanjaar 11 jaar sedert Pippie in 2011 op Oujaarsaand met vuuraansteekjel gebrand en 80% brandwonde oor haar lyfie opgedoen het.

Terwyl haar ma haar styf teen haar lyf vashou, lag Pippie oopmond wanneer daar oor haar verjaarsdag gesels word.

“Pippie staan steeds op met die grootste glimlag. Sy is haar ma se kind, sodra die oë oopgaan, wil ons eet,” het Anice skertsend oor ’n dag in dié gesin se lewe vertel.

“Dit is so normaal as wat ons dit kan maak. Ons wil haar net gemaklik en gelukkig hê.”

Vir Anice is die afgelope 11 jaar sedert Pippie se ongeluk soos ’n rolprent.

“Dit gebeur nie met mense nie. Waardeur ons is, gebeur net nie. Ek dink Liewe Jesus het my baie gespaar, want as ek terugdink, onthou ek nie baie van die slegte goed nie.”

Anice vertel dat sy ’n week voor die ongeluk haar skildklier laat verwyder het en dat sy vreeslik uitgeput was.

“Ek het vir Pippie gesê dat ek net nie krag vir haar gehad het nie. Sy was twee en ’n half jaar oud. Dis die dag wat sy vir my gesê het dat as ek nie krag het nie, kan ek maar van hare kry. Elf jaar later is dít wat my nog dra. Dit kom alles van haar af. As ek net ’n goeie mamma vir haar en vir Arno kan wees, wat meer wil ek hê?”

Kyk ’n video van die kuier hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Maggies is dit al so lank? Sterkstaan Pippie en mamma- julle het dit tot hier gemaak en sal nog baie verder baie sterker deurgaan. Hou ons op hoogte asb…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.