Video: Olifant help blinde maat

Skermgreep uit die video

Olifante staan algemeen bekend as “sagmoedige reuse”. ʼn Video wat op Instagram gedeel is, is nóg ʼn bewys dat ons as mense baie by hulle kan leer.

Lek Chailert, stigter van ʼn olifantpark in Thailand en die liefdadigheidsorganisasie Save the Elephant, het die video op haar Instagram-profiel gedeel.

In die video lê kos op die grond gelê en een van die drie olifante is besig om daaraan te vreet. Chana, een van die olifante, wil egter nie vir Ploy Thong agterlaat nie. Ploy Thong is heeltemal blind, aldus die beskrywing by die video.

Mens kan sien hoe Chana Thong help om by die kos uit te kom deur agteruit te loop – terwyl sy die heeltyd haar maat dophou om seker te maak Thong weet ook waar die kos is.

Thong volg waarskynlik Chana se voeteval om te weet waar die kos is.

“Kyk hoe Chana vir Ploy Thong, haar aangenome oppasser wat in albei oë blind is, na die kos toe lei,” skryf Lek. “As ek kyk hoe hulle vir mekaar sorg, dan sien ek elke dag opnuut die mooi kant van olifante – veral hoe hulle mekaar liefhet en onvoorwaardelik vir mekaar sorg. Dis ʼn les vir ons almal!”

Lek het in antwoord op ʼn kommentaar verduidelik Thong het in ʼn olifantritkamp gewerk en toe sy gered is, was sy reeds blind. “Sy het bly werk selfs al was sy blind. Dit is egter nie duidelik hoe sy haar sig verloor het nie, want mense kan enigiets sê. Dit is slegs Ploy Thong wat weet hoe sy haar sig verloor het.”

Die video het kykers se harte geraak. “Ek staan elke dag al hoe meer verstom oor hul intelligensie en deernis vir mekaar,” het een persoon geskryf. Ander sê mense kan beslis meer by hulle leer.

Die olifantpark is in die noorde van Thailand geleë. Dit is ʼn redding- en rehabilitasiesentrum vir die sagmoedige reuse.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Lek Chailert (@lek_chailert)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moeilikheid ·

Dit is darem ongelooflik wat olifante kan doen en hoe hulle optree die Liewe Vader het sy diere darem perfek geskape. Altyd so mooi om oor die natuur te lees en wat die diere alles kan doen.

Anoniem ·

Jammer dat diere die mensdom in die skande moet steek wat menslikheid aanbetref.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.