Video: Onnie, leerders se danspassies het internet gaande

ʼn Skermskoot uit die video van Ammiël Smith en leerders van Laerskool Vryburg se danspassies. (Video: Facebook)

By die meeste skole het die vreugdevure hoog gebrand toe die Junie-skoolvakansie onlangs aangebreek het, maar by Laerskool Vryburg in Noordwes weet hulle hoe om behóórlik fees te vier.

ʼn Video van ʼn paar leerders wat saam met ʼn onderwyser hul beste danspassies op die skool se trappe uithaal om die koms van die vakansie te vier, het sosialemediagebruikers gaande.

Die video is sowat ʼn week gelede op die skool se Facebook-blad geplaas en reeds byna 650 000 keer gekyk.

Die onnie wat saam met die leerders lyf skud, is niemand anders nie as Ammiël Smith (28), die hubare enkellopende wat in 2015 wyd bekend geword het toe hy besluit het om sy trouvrou op straat te gaan soek deur met ʼn kartonbordjie by ʼn verkeerslig in Bloemfontein te gaan staan.

Smith is deesdae die liggaamlikeopvoeding-onderwyser vir gr. 4 tot 7 by Laerskool Vryburg, asook die skool se atletiek- en landloopafrigter.

Ammiël Smith soos hy destyds by ‘n verkeerslig gestaan het op soek na sy trouvrou.

Hy vertel aan Maroela Media dat hy en die leerders graag dans as deel van fiksheid, maar dat hulle dié dag wat die video geneem is, juis die vakansie en al die leerders se goeie punte wou vier. “Die dansery gee die kinders baie selfvertroue; dit laat almal deel voel en oor die weg kom,” vertel hy.

En die leerders se vreugde is aansteeklik vir almal wat die video onder oë kry. “Ek is mal oor hierdie onderwyser! Fantasties, sy leerders is die gelukkigste!” skryf een Facebook-gebruiker. “Dít is pragtig. Goeie werk deur die onderwyser! Ek is seker hulle het net soveel pret in sy klaskamer,” skryf ʼn ander.

En het die “romantiese bedelaar” al sy trouvrou gevind? “Ek is nie nou in ʼn verhouding nie,” bieg Smith.

“Ek het voordat ek ʼn onderwyser geword het in die korporatiewe wêreld gewerk en dit was net ʼn gejaag na geld. Op ʼn tydstip in my lewe het ek gedink daar is quick fixes vir alles – trou op 25, kind op 30, ryk man op 40 … Maar ek het hard geleer dat dit nie so werk nie,” sê hy. “Ek is op ʼn baie goeie plek in my lewe nou. Ek dink ek is meer volwasse en kyk nou anders na die lewe.”

Hy mag dalk nog nie die toekomstige mev. Smith gevind het nie, maar dié onnie het duidelik geen tekort aan liefde vir kinders en die onderwys nie.

Mooi loop.Take care.Tsmaya sentle.

Posted by Laerskool Vryburg on Friday, 14 June 2019

Indien die video nie speel nie, kyk dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Risa

Darm iets wat mens se hart bly maak na al die aaklige nuus wat hierdie land en di ANC mens gee…leka meneer!!

LADY

Wow meneer..wat n onnie!!!Wens daar meer sulke onderwysers.Kan sommer sien jy is n kind mens. Dis awesome en ek salueer jou meneer. Hoop jy vind gou jou droomvrou.

Lee

Dis nou ‘n oulike brokkie nuus. Great Onnie en kids. Goeie dans-moves.

LADY

Awsome meneer.Gelukkige kinders met so onderwyser. Hoop jy vind gou jou droomvrou, Ek dink dis awesome verby

Smirre

Te oulik. Gaan ongelukkig niks aan daai 30 % slaagsyfer doen nie. SA steeds laaste op UN lys van wisk en wetenskap vermoe.