Video: Ooievaarstee vir ongewenste babas reusesukses

Ooievaarstee vir ongewenste babas was ‘n reusesukses. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die opwinding van ’n nuwe pienkvoet word deur mense wêreldwyd gevier tydens gesellige kuiers soos ooievaarstees en doekebraaie, maar dié vreugde is egter nie iets wat elke huishouding beleef nie.

Die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) en die welsynsorganisasie Unchain our Children het op Vrydag 26 Augustus kragte saamgesnoer deur ’n ooievaarstee en doekebraai vir ongewenste babas by ATTSA se kantoor in Pretoria te hou.

“Ons is so opgewonde wanneer ons hoor dat een van ons familielede of vriende ’n baba verwag, dan is daar ongelooflik baie voorbereiding vir daardie baba. Daar is sommige babas wat dit eenvoudig net nie het nie,” het Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) aan Maroela Media gesê.

“Die ouers van die baba is dalk nie in die emosionele toestand om na die baba te kyk nie, of is aan dwelms of alkohol verslaaf.”

Talle mense het heerlik saam gekuier en elkeen het ’n doeksak vol bababenodigdhede as toegangsfooi saamgebring.

Mense van regoor die land het hul harte oopgemaak en pakkies met babaprodukte, klere en ander benodigdhede het deur die week met afleweringsdienste ingestroom.

Hoewel daar ’n eenmalige ooievaarstee gehou is, duur die projek regdeur die jaar voort. Diegene wat graag betrokke wil raak word aangemoedig om steeds hul hulp aan te bied, hetsy deur hul eie ATTSA-ooievaarstee vir ongewenste babas in hul dorp of stad of deur ’n pakkie wat hulle graag wil laat aflewer.

Die pakkies word deur ATTSA versprei aan pleegsorghuise, maatskaplike werkers en aan staatshospitale.

“Die wrede waarheid in ons land is dat daardie babas eenvoudig weggegooi word. Vir daardie babas wil ons vandag sê dat ons aan julle dink, julle ís deur God geskape.”

Mense wat graag betrokke wil raak of skenkings wil maak, kan ’n e-pos na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antie Sarie ·

Geskape om verwerp te word? Op straat op te eindig? Verniel te word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.