Video: Oom Jakkie trap fiets vir erfenis

Oom Jakkie van der Colff gaan binnekort weer fietstrap, en die keer doen hy dit vir erfenis. (Foto: Verskaf)

Jakkie van der Colff kan net nie uit die saal bly nie. Op sy jeugdige ouderdom, waar hy vanjaar 80 jaar oud word, is dit weer tyd vir hom om die naastenby ondenkbare te doen.

Oom Jakkie, soos hy geliefd bekendstaan, gaan tussen 15 en 16 Desember meer as 450 km op sy fiets aandurf. Sy tog begin by die Voortrekkermonument in Pretoria en hy sal dan deur die nag ry om voor twaalfuur die middag op Geloftedag by die Bloedrivier-erfenisterrein, in KwaZulu-Natal, aan te kom.

Dít doen hy natuurlik vir niks minder as ’n goeie doel nie. Die fietstraprit is om geld in te samel vir dié erfenisterrein, wat soos vele ander in die land onder enorme finansiële druk is weens die nadraai van die Covid-19-pandemie.

Op die tog sal hy verby verskeie erfenisbakens ry in dorpe soos Bethal, Amersfoort, Volksrust en Utrecht.

Vyf van sy fietsrymakkers het van sy plan te hore gekom en kon dit nie weerstaan om hulle name self in die hoed te gooi vir die avontuur nie.

Oom Jakkie glo sy grootste uitdaging gaan die hitte in Desember wees.

“Ek het baie tyd op hande en as jy nie die tyd gebruik wat jy het nie, dan beteken dit jy gaan maklik dood, en ek wil nog graag lank lewe en die lewe geniet.

“Volgens my trek die Bloedrivier-erfenisterrein baie swaar. Hulle het geld nodig om dit wat daar is en bestaan én wat bymekaargemaak is vir my kinders en ons kleinkinders en agterkleinkinders te bewaar. Ek dink nie mense besef hoe belangrik erfenis vir ’n mens is nie.”

Oom Jakkie het in 2019 manalleen van die Voortrekkermonument tot by die Taalmonument in die Paarl gery.

Sy jongste oornagreis gaan hom en sy makkers se uithouvermoë tot die uiterste toets.

Hy vra mense om ’n skenking te maak en of om aan te sluit as ’n vriend van die Bloedrivier-erfenisterrein. SMS dus nou BLOED na 34158 en SMS’e kos R1,50.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanja ·

Ons het die voorreg hehad om vir Oom Jakkie in 2019 te ontmoet in George by ons NG Moeder Gemeente saam met die George- en BlancoNiqua Voortrekker Komando’s met sy groot tog van Pretoria tot in die Paarl.
Wat ń ongelooflike wonderlike inspireerende Oom!
Baie dankie Oom Jakkie vir al Oom se liefde vir ons mooi land en sy mense!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.