Video: Oorbespreekte vlugte – wat is jou regte?

Riëtte van der Merwe, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, tydens ʼn onderhoud op Die GROOT Ontbyt. (Foto: Skermskoot)

Met die feesseisoen om die draai, is talle Suid-Afrikaners se vlugte reeds bespreek vir daardie langverwagte plaaslike óf buitelandse vakansie.

Maar hoe gemaak as jy by die lughawe kom net om te hoor die vlug is oorbespreek en daar is nie vir jou ʼn sitplek beskikbaar nie?

Volgens Riëtte van der Merwe, ʼn assosiaat by Weavind & Weavind, is daar wel wetgewing om die verbruiker in só ʼn geval te beskerm.

Van der Merwe het in ʼn onderhoud op die ontbytprogram Die GROOT Ontbyt gesê die Wet op Verbruikersbeskerming is in só ʼn geval van toepassing. “’n Lugredery mag geen diens aan jou bied of jou geld aanvaar indien die redery rederlikerwys behoort te weet dat hulle nié die diens aan jou kan verskaf nie,” verduidelik sy.

“Indien die lugredery meer kaartjies verkoop as wat daar sitplekke op die vliegtuig is, behoort hulle redelikerwys te weet dat hulle nie vir elke persoon ʼn sitplek sal hê nie.” Die onus rus dan op die lugredery om alternatiewe reëlings te tref.

Van der Merwe sê in só ʼn geval moet die lugredery vir dié verbruiker ʼn alternatiewe, soortgelyke vlug bied, wat van dieselfde standaard of beter is. “As jy byvoorbeeld ʼn eersteklasvliegkaartjie op ʼn vlug om 20:00 New York toe bespreek het, kan hulle jou op ʼn 22:00 vlug sit New York toe waar jy ook eersteklas sal vlieg.”

Sy sê indien daar bykomende onkoste aangegaan moet word, byvoorbeeld indien die passasier in ʼn hotel moet oornag of die passasier ʼn verbindingsvlug verpas en ʼn nuwe kaartjie hiervoor moet koop, sal die lugredery vir dié kostes moet pa staan.

Indien die lugredery nié in staat is om ʼn alternatiewe vlug te bied nie, moet die verbruiker se geld plus volle rente terugbetaal word.

“Ek sukkel om te verstaan hoe die lugrederye steeds kan voortgaan met dié praktyk om vliegtuie te oorbespreek, maar ons as verbruikers word in so geval beskerm – solank jy weet wat jou regte is.”

Skakel gerus Woensdag 28 November in op Die GROOT Ontbyt wanneer Louis van Bergen sal gesels oor die regsimplikasies van matriekvakansies. Die GROOT Ontbyt word elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks uitgesaai op GROOTfm 90.5 of DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Beulah ·

SAL het dit met my 2 dogters gedoen. Kaartjies maande voor die tyd betaal en bevestig. Dit was ‘n baie onaangename ervaring. Om op die laaste oomblik nuwe reëlings te tref was ontstellend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.