Video: Oues van dae lekker bederf

Personeel van Helpende Hand kuier saam met tannie Alida van der Walt, Nakkie Barnard en Willie Bouwer by die Ons Tuis-aftreeoord in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand het in Oktober gesorg dat minstens 44 bejaardes wat in 2020 ’n honderd jaar of ouer geword het, elkeen ’n spesiale partytjie kry om dié mylpaal te vier.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, sê die partytjies is landwyd gehou by ouetehuise wat deur Helpende Hand bygestaan word en is juis in Oktober gedoen omdat dié maand die internasionale maand vir bejaardes is.

“Ons moes net ietsie spesiaal doen om ons bejaardes te bederf, veral omdat die meeste van hulle gedurende die grendeltydperk verjaar het en hulle weens Covid-19-beperkings nie saam met hul families of geliefdes kon wees nie,” sê sy.

Benette noem dat daar onder die 44 bejaardes wat Helpende Hand met lekkernye en pamperlangprodukte bederf het, net een man was. By die Ons Tuis-aftreeoord in Pretoria se Moot, het vier van die inwoners al ’n eeu beleef. Een van die oudste bejaardes wat bederf is, is van die Wes-Kaap en sy is 106 jaar oud.

Welman sê een van die hoogtepunte was ’n bejaarde vrou wat in die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein versorg word.

“Dit was ’n mooi geleentheid en die tannie was besonders dankbaar. Ons het al ons dae gehad om haar te oortuig dat ons daar is om haar te bederf want sy het aanhou sê sy het nie geld om vir al die goedjies, waaronder ’n paar splinternuwe skoene, te betaal nie. Dit was tegelykertyd kosbaar, maar ook hartseer. Sy is die enigste bejaarde in die tehuis wat geen medikasie hoef te gebruik nie,” vertel Welman.

Welman benadruk bejaardes se welstand is vir Helpende Hand ’n hoë prioriteit.

“Ons kan nie toelaat dat hulle weens Covid-19-regulasies vereensaam en depressief raak nie. Om dié negatiewe gevolge teë te werk, het Helpende Hand die Grendelgenoot-projek van stapel gestuur. Die Grendelgenoot is elektroniese inhoud wat weekliks uitgestuur word en bestaan uit ʼn geestelike boodskap, ʼn emosionele boodskap, ʼn liggaamlike aktiwiteit om die immuunstelsel ’n hupstoot te gee en gemoedere te lig, en ʼn lekkerluisterstorie wat voorgelees word. Verder ontvang bejaardes aktuele inhoud wat opbeur, resepte, en kinderstemme van oral oor wat vertel hoeveel hulle na oupa en ouma verlang en wat hulle alles gaan aanvang sodra die grendelstaat heeltemal gelig is,” voeg sy by.

Welman moedig mense aan om hierdie pakkies na oupas of oumas, ooms of tannies of enige bejaarde met wie jy in aanraking is, te versprei. Die publiek kan die grendelpakkies van Helpende Hand se webwerf aflaai, of die telegramkanaal “Grendelgenoot” volg om die weeklikse grendelpakkies te kry.

Word vandag deel van die Helpende Hand-familie en help so om kwesbare mense in Afrikaanse gemeenskappe by te staan SMS FAMILIE na 45763 (’n SMS kos R2) of besoek www.helpendehand.co.za en klik op “sluit aan”.

  • Die insetsel is deur Gehard Pretorius van eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, DStv-kanaal 144, elke aand om 19:00.

Kyk die video oor die projek hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.