Video: Paarl-juffrou se oulike plan om kinders veilig te laat voel

Die kinders kan uit agt opsies kies hoe die juffrou hulle moet groet (Foto: Verskaf)

Juffrou Zuleka Smit van Klein Boishaai in die Paarl het ʼn unieke manier om haar “liefiekinders” veilig te laat voel: deur hulle elke dag die keuse te gee oor hoe sy hulle moet groet.

Dié bekende primêre seunskool het onlangs ʼn video op Facebook geplaas waar dié manier van Juffrou Zuleka gewys word. Dié video is al meer as 450 000 keer gekyk en die kommentaarafdeling loop oor van mense wat dink dié juffrou is baie oulik.

Smit (37) het aan Maroela Media gesê sy het dié idee van die internet af gekry, en toe besluit om dit in haar gr. R-klaskamer in te voer.

Die sesjarige seuns staan elke oggend in ʼn ry voor Smit se klas en kan dan kies hoe hulle gegroet wil word deur aan die gepaste metode op die klaskamerdeur te raak. Die opsies is vatvyf, drukkie, dans, elmboog-hallo, vuisgroet, glimlag, handdruk of pinkie-groet.

“Ek soek maar altyd nuwe maniere om goeie verhoudings met die kinders te bou,” sê sy. “Ek wil hulle van kleins af leer om keuses te maak deur hulle die keuse te gee hoe hulle my wil groet.”

Zuleka Smit (Foto: Verskaf)

“Dit skep net ʼn lekker atmosfeer in die klas en ek kan elke dag vir daardie kort tydjie net na die een kind kyk en net aan hom aandag gee. Dit is net ons twee se tyd waarin ek kan weet hoe die kind voel daardie oggend.

“Ek wil hê daar moet ʼn goeie verhouding tussen my en die kinders wees, want sonder ʼn verhouding kan leer nie plaasvind nie. Die kinders moet my vertrou, sodat as hulle iets nie verstaan nie, hulle die vrymoedigheid het om vir my te kom vra. Hulle moenie bang wees om vir Juffrou te vra nie.”

Smit het gesê dit is nie altyd ʼn gegewe dat die kinders ʼn lekker oggend by die huis gehad het nie; dus wil sy hulle ʼn tweede huis gee waar hulle hul drukkie, handdruk of vuisgroet kan kom haal en veilig voel.

“Die kind wat dalk altyd ʼn vatvyf verkies, sal op ʼn dag eerder ʼn drukkie kies, dan weet ek daardie kind het dit regtig nodig en hulle weet dan Juffrou is hier vir hulle.”

Volgens Smit is die kinders baie opgewonde oor hul nuwe groetstelsel. Wanneer hulle ouers hulle by die skool aflaai, kom vertel hulle reeds vir Juffrou hoe hulle haar later gaan groet.

“Hulle is mal daaroor. En ek kan sien as die kind dalk ʼn slegte oggend gehad het, het hulle sommer ʼn huppel in hul stap nadat ons gegroet het.”

Smit het gesê elke juffrou het maar hul eie manier om verhoudings met hul kinders te bou, maar dat sy haar manier met mense wil deel, omdat sy weet dit werk.

Juffrou Zuleka se Graad R-manne kies hoe hulle vir juffrou wil groet in die oggend.

Posted by Paarl Boys' Primary on Thursday, January 10, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ronel ·

Welgedaan juf Zuleka, jy gee om vir elke kind in jou klas en vir ‘n gr R kind is daai geborgenheid baie belangrik

Esme ·

Hier is nou ‘n juffrou duisend wat ‘n verskil in klein mensies se lewens gaan bring.
Ek glimlag heeltyd terwyl ek kyk oor die reaksie van die kindertjies en sommige wat ‘n rukkie neem om te besluit. Glo dit maak kinders vrymoedig om na haar toe te gaan. Groot blok ys vroeg in die dag gebreek. Wel gedaan juf Zuleka!

Penellope Jones ·

Verseker het dit die ys gebreek!
Baie, baie oulike idee!

wilma ·

Pragtig juffrou. Die kleurskakering van die prentjies is genadiglik ook in die kol!

wensbegeerte ·

as ek maar onderwysers gehad het wat so n verhouding met my gahad het sou skool vir my n plesier gewees het. ek het net twee onderwysers van korte duur gehad wat skool lekker gemaak het. ander het my n haat in skool gegee.

toy ·

Ek dink die kinders gaan sommer baie lief word vir jou en hulle gaan jou verseker onthou.

Riana ·

Wow dis wonderlik! Ek het soortgelyke gesien op youtube …iewers oorsee…. welgedaan!

Juffie ·

Oulik! Vir 26 jaar het ek elke middag -graad 3- die leerders die “groet-keuse” gegee – ‘n drukkie of ‘n soentjie op die wang of ‘n handskud. Die dierbàarste vir my was, aan die begin van die jaar het meeste van die seuns die handskud gekies – kyk jy moet onthou hulle is 8-9 jaar oud en hulle moet “tuff” wees -niks drukkies of soentjies nie – dis vir meisies – en dan teen die derde/vierdie kwartaal begin die seuns so een een eers net ‘n vinnige drukkie en “bye juffrou” -en dan later ‘n stewiger drukkie en dan teen die vierde kwartaal drukkie EN soentjie almal EN “juffrou ek is lief vir jou” En die laaste dag van die jaar huil ons almal want die jaar is verby en ons moet aangaan……DIT was die hoogtepunt van my 26 jaar onderwys…..wonder hoeveel van daardie kinders – nou reeds volwassenes – onthou dit nog?!

Maggies ·

Knap gedaan. Suid Afrika kort meer onderwyseressies soos jy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.