[Video] Pta-man konkel met polisie om jawoord te vra

‘n Skermskoot uit die video

Sosialemediagebruikers gons vandeesweek behoorlik oor ʼn Pretoriase paartjie se verlowingsvideo waarin dit wil voorkom asof die polisie die man hardhandig hanteer voordat hy op sy knieë gaan en in die teenwoordigheid van die polisielede die jawoord vra.

Francé Grobler het Maandag aan Maroela Media vertel sy is steeds uit die veld geslaan nadat haar verloofde, Wouter van der Merwe, met die polisie én hul vriende gekonkel het om haar verlowing “een vir die boeke” te maak. Die paartjie het Vrydag verloof geraak.

Grobler vertel hulle was onlangs saam met twee vriende vanaf Pretoria op pad na haar familieplaas op Verkykerskop in die Vrystaat toe die polisie hulle van die pad afgetrek het. Volgens haar wou die polisie ʼn “roetineondersoek” doen, en moes hulle almal uit die bakkie klim.

“Oomblikke vantevore het ons ʼn afdraai na die grondpad geneem terwyl ons altyd met die teerpad langs na die plaas ry,” vertel sy. “Dit was vir my vreemd, maar almal het aangedring dat ons dié pad moet ry en ek het nie vrae gevra nie. Die polisie het ons skuins voor die plaas afgetrek vir dié ‘ondersoek’. Ek was moedeloos nadat ons reeds vier uur gery het, maar ons het maar uitgeklim sodat ons so vinnig moontlik by die plaas kon aankom,” vertel sy.

Volgens haar het die polisie toe vir Wouter en Jan-Chris, hulle vriend wat saam met hulle gereis het, “hardhandig” hanteer tydens die ondersoek.

“Dit was asof die polisie spesifiek iets by Wouter wou hê. Ek het begin huil en was verskriklik emosioneel. Ek wou my boetie op die plaas bel, maar kon nie genoeg fokus om dit te doen nie. Ek het gedink: ‘Ek het my trouman ontmoet, ek wil hom nie nou verloor nie.’ Die trane het net bly loop.

“Toe hulle na sy sakke wys en aandring dat hy wys wat binne sy sakke is, het ek gewonder wat op aarde aangaan. Toe hy die kissie uithaal, het dit gevoel of ʼn koue golf oor my spoel. Ek het eers gedink dat hy nou beplan het om my op die plaas te vra om te trou en nou mors die polisie sy hele plan op. Maar toe sak hy op sy knieë neer, die polisie vorm half ʼn sirkel om hom, en hy vra my om te trou. Ek was so emosioneel, ek kon nie eers iets sê nie. Ná ʼn stilte sê hy: ‘Sê nou iets, asseblief.’ En toe sê ek: ‘Ek sal natuurlik met jou trou.’”

Die paartjie is al ʼn jaar saam en beplan om volgende jaar op dié Vrystaatse familieplaas af te haak. Sy sê dié verlowing weerspieël wie hulle is as ʼn paartjie.

“Humor is ʼn groot deel van ons verhouding. Ons spot altyd wanneer mense uitvis en sê dan dat ons in Spar ontmoet het – ek het iets laat val, hy het dit opgetel en toe het ons in mekaar se oë gekyk. Maar dit is nie so nie. Ons het mekaar op Instagram ontmoet nadat hy ʼn kommentaar gelos het op een van my foto’s. Ons het daarna ontmoet vir koffie en die res is – soos hulle sê – geskiedenis. Dit is alles perfek, ek is die gelukkigste meisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kwaaitjie ·

Ek is mal oor die “O, baie mooi” aan die einde van die video.

Haha ·

Ag dit was nou regtig oulik…ek stem Kwaaitjie, daai “O, baie mooi” het als so mooi saamgevat.

Lienkie Barnard ·

Dit was wonderlik om sulke goeie nuus te lees vir ‘n verandering. Baie geluk julle twee en ons wens jul Liefde, Geluk en Voorspoed vir die toekoms!

tru ·

In hierdie tyd van ons waar niemand vertrou kan word nie sou ek baie onsteld gewees het oor die manier van die ja-woord vra. My kinders was al gekaap en mishandel deur die SAPS en dit is vir my glad nie snaaks nie. Maar whatever rocks your boat, nê!

Darius Els ·

Hulle kan nie misdaad beveg nie,maar kan tyd maak vir Cupideo speel.

Ria ·

Dis nou regtig baie oulik en baie geluk aan die paartjie. Baie dankie aan die polisie wat hom daarmee gehelp het om dit vir haar ‘n onvergeetlike oomblik te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.