Video: Rugbybulletjie dans terwyl hy drieë druk

Arno du Preez is nie skaam om sy heupies te swaai nie. (Foto: Skermgreep/YouTube)

Wie sê jy kan nie heupies swaai terwyl jy drieë op die rugbyveld druk nie?

ʼn Video waarin klein Arno du Preez, ʼn gr. 1-leerder van Midstream College Primêr in Pretoria, die bekende Macarena-danspassie te midde van ʼn Bulletjierugby-wedstryd doen, het die afgelope naweek soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Dié kosbare oomblik is op 20 Mei deur Arnold de Wet tydens ʼn Bulletjierugby-toernooi by Laerskool Lynnwood in Pretoria vasgevang en is al meer as 600 000 keer op Facebook gekyk.

In die video maak Arno lekker sy litte op die rugbyveld los terwyl dié gewilde treffer oor die luidsprekers speel voordat ʼn maatjie hom nader trek om weer by die res van die spanmaats aan te sluit.

Klein Arno saam met sy pa, Jonathan, sy suster, Annemie en sy ma, Larissa. (Foto: Verskaf)

De Wet, wat twee dogters in Laerskool Lynnwood het, het aan Maroela Media vertel dat hy die oulike blondekop opgemerk het terwyl hy gehelp het om kos by dié geleentheid te verkoop. “Ek en my skoonpa was daar en ons sien toe die oulike seuntjie wat so lekker dans. Ek het dit aanvanklik net opgeneem om vir my vrou te wys, maar besluit toe om dit op Facebook te plaas.”

De Wet sê dat hy nie gedink het die video sou soveel trefslae kry nie. “Dit is só onverwags, maar daardie seuntjie het my dag gemaak en kyk hoeveel ander sʼn maak hy nou ook.”

Volgens Larissa du Preez, Arno se ma, som dié kosbare oomblik haar borrelende blondekopseun perfek op.

Sy het aan Maroela Media vertel dat die veelsydige sewejarige baie lief vir musiek én rugby is en sê hoewel hy graag heupies swaai as daar ʼn lekker deuntjie speel, neem hy sy Bulletjierugby ook ernstig op.

Arno tydens ‘n Bulletjierugby-wedstryd. (Foto: Verskaf)

“Dit klink of ek nou spog, maar hy het danspassie en al ʼn baie goeie wedstryd gespeel en selfs drie drieë gedruk,” sê sy laggend.

Sy en haar man, Jonathan, het óók ʼn video van Arno se “Macarena”-oomblik opgeneem, maar aanvanklik besluit om dit nêrens te plaas nie. “Nóg ek nóg my man is op Facebook, maar toe mense ons begin nader en sê hulle het die oulike video van Arno gesien, het ons besluit om tog ons eie video op YouTube te sit.”

Sy voeg by dat dit vir haar verblydend is dat haar seun soveel positiewe kommentaar ontlok het.

“Arno is ʼn baie gelukkige kind en neem nie homself óf die lewe te ernstig op nie. Dit is vir my so lekker dat hy gemaklik is met wie hy is en nie omgee wat mense van hom dink of sê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danny ·

Kostelik! Mag hy ‘n voorbeeld wees vir ons almal, wees jouself en dans asof niemand kyk nie, ongeag omstandhede!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.