Video: SA veldwagter ontdek besonderse vetplant

Die ontdekking van ‘n nuwe soort harpuisbos sorg vir groot opgewondenheid in die Noord-Kaap. (Foto: SANParks – |Ai-|Ais/Richtersveld Transfrontier National Park/Facebook)

ʼn Veldwagter van Alexanderbaai het onlangs een van die grootste natuurontdekkings in dekades in die Noord-Kaap gemaak.

Pieter van Wyk, die trotse kurator van die kweekhuis en Richtersveld se woestyn- botaniese tuin, het ʼn splinternuwe skaars plantspesie in die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark ontdek.

Van Wyk het in September ʼn berghang in die ooste van dié park verken. Goeie reënval in die streek het talle skaars plantspesies laat blom, maar die ontdekking van ʼn nuwe soort harpuisbos het hom uit die veld geslaan.

Die spesifieke nuwe vonds groei 3 m hoog, waar die ander spesies in die genus klein en minder skouspelagtig voorkom. “Ek het myself onmiddellik afgevra: Hoe is dit moontlik dat so ʼn groot vetplant deur al hierdie jare nog nooit raakgesien is nie? Dit het my laat besef ek is nou in ʼn plek in ʼn groot wildernisgebied waar daar dalk nog niemand anders was nie.”

Van Wyk bestudeer plante in die gebied vandat hy 14 jaar oud is, en het al 25 ander plantspesies ontdek. Hy wil die spesie na sy geliefde Richtersveld-omgewing vernoem en droom daarvan om ʼn boek te laat verskyn wat die plantegroei van die gebied volledig dokumenteer. Die droom word aan die einde van vanjaar bewaarheid.

Die spesifieke ligging van die plant word tans geheim gehou en die besonderhede sal eers bekend gemaak word wanneer daar genoeg van die plantspesie in die kwekery is. Volgens Van Wyk vind stropery in die plaaslike vetplant-plantestreek en rondom die park tans op ʼn ongekende skaal plaas. “Derduisende plante word jaarliks uitgehaal en dit rig reuseskade aan die omgewing aan.”

  • Die insetsel is deur Nadine Theron van eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, DStv-kanaal 144, elke aand om 19:00.

Kyk die video oor die ontdekking hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Die Wolf ·

Corana het ook sy positiewe sy gewys. Minder voete beter groei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.