Video: Selfs Covid-19 kan dansers nie stuit

‘n Skermgreep uit die video.

ʼn Video van MJ Mostert en Mieke van der Merwe, albei van Hoërskool Klerksdorp in Noordwes, wat in ʼn spontane oomblik ʼn besemstok gryp om sosiale afstand te behou terwyl hulle sokkie, het die verbeelding van duisende Facebook-gebruikers aangegryp.

Die gr. 10‑ en 11-leerders het heerlik op die maat van “Dis ʼn lekker ou Jan” geskoffel en Leon Bevan, direkteur van bemarking van die skool, het die video Donderdag tydens die skool se opedag geneem.

Hy vertel die opedag is weens die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp in ʼn ander formaat as gewoonlik aangebied. Gr. 7-leerders wat die opedag wou bywoon, moes vooraf bespreek en die kinders is in groepe van minder as 20 ingedeel om verskillende punte op die skoolterrein te besoek.

“In vandag se tyd is ʼn ou vreeslik ingestel daarop om alles reg te probeer doen. Die kinders het bykans nooit meer pret nie en daarom het ons besluit om as deel van die opedag ʼn tipe van ʼn lyndans aan te bied wat met die nodige sosiale afstand gepaard gaan.

‘n Skermgreep uit die video.

“Die kinders wat daarby betrokke was, het toe begin musiek speel en die volgende oomblik gryp die een ʼn besemstok en hulle begin saam dans. Ek het dadelik besef hoe oulik dit is en die video gemaak. Ek wou dit graag met die mense daar buite deel om ʼn impak te maak op ons direkte omgewing, min wetend hoeveel mense dit uiteindelik gaan bereik,” sê Bevan.

Hy sê mense landswyd sowel as in die buiteland het kommentaar oor die video gelewer. “Dit is interessant dat daar nog nie enige negatiewe kommentaar oor die video was nie. Baie mense het gesê hulle is mal daaroor hoe ʼn boer altyd ʼn plan maak en hulle haal hul hoede af vir die kinders wat op hierdie verantwoordelike manier wys daar is nog lekker in die lewe en daar is nog hoop.”

“Ons harte gaan uit na die kinders wat hierdie jaar van ʼn kinderlewe ontneem word. Ons moet die heeltyd met hulle raas en herinner om maskers te dra; dit voel vir hulle of hulle in ʼn tronk is. So dit is lekker dat twee van hulle kon besluit om net so ʼn bietjie vermaak te verskaf wat eintlik heel kreatief is,” sê Bevan.

Posted by KHS Klerksdorp on Friday, July 24, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.