Elke dag om 18:00 kom Brett Nash by die Superspar in die Retail Crossing-winkelsentrum in Johannesburg ingestap, en dan skree hy: “Hallo!” na die tellers se kant toe.
Kassiere, bakkers, motorwagte, bestuurders en selfs mense wat hul inkopies doen, skree dan terug: “Hallo, Brett!”
Almal ken hom al aangesien hy al die afgelope vier jaar elke dag die Spar besoek. Maar dit is net die begin van die daaglikse tradisie wat onlangs ʼn glimlag op derduisende mense se gesigte geplaas het.
Brett Nash (14) ly aan ʼn ongediagnoseerde siekte wat hom nieverbaal laat en hy het die verstandelike vermoë van ʼn tweejarige. Sy ma, Tammy, het hom sowat vier jaar gelede na dié Spar geneem om inkopies te doen, maar dít het later ontaard in ʼn singtradisie wat nou ʼn daaglikse ritueel is.
ʼn Video van Brett wat saam met die mense in Spar sing, is intussen al meer as 40 000 keer op Facebook gekyk en positiewe kommentaar stroom in vir Brett én die Spar.
“Ons het net eendag daar gaan inkopies doen. En Brett is nie verbaal nie, maar hy het altyd musiek in sy kop, en hy neurie altyd iets. Toe ons by die teller kom om te betaal, was hy toevallig besig om die volkslied te sing. Die vrou wat agter die toonbank gewerk het, het toe saam met hom begin sing, en dit is hoe dit begin het,” het Tammy aan Maroela Media gesê.
“Hoe meer ons daarheen gegaan het, hoe meer het mense begin saamsing. Ander mense wat daar werk, het begin saamsing, mense het van agter af van die bakkery af gekom, die sjefs het begin sing en selfs mense wat gereeld hul inkopies daar doen, ken nou al vir Brett, en sing ook nou saam,” het sy gesê.
Tammy sê dit het al so ʼn tradisie geword dat hy vandat hulle in die parkeerterrein stop, begin gereedmaak vir wat kom.
“Wanneer hy by die motor uitklim, begin hy altyd deur vir die motorwagte ‘eita, eita!’ te roep. Hulle groet hom dan vriendelik. Hulle het al baie lief vir hom geraak. Brett kies dan ʼn winkelwaentjie – iets waaroor hy baie kieskeurig is – en hulle loop die winkel binne. Nadat hy almal gegroet het, moet ons deur elke gangetjie in die winkel stap.”
“Wanneer die winkel stil is, sal van die rakpakkers of kassiere saam met Brett verby al die rakke loop. Dit is lekker, want dan kan ek my eie ding doen. Maar sodra ons na die tellers toe begin stap, skree hy weer ‘eita, eita!’ en dán begin die gesingery.”
Tammy het gesê Brett en die personeel sing meestal twee liedjies, naamlik ʼn liedjie wat klink soos “Vader Jakob” asook” Nkosi sikelel’ iAfrika”. Sy sê dit is liedjies wat hulle almal ken.
“Ons is baie gelukkig. As daar vir jou ʼn kind met spesiale behoeftes gegee word, wil jy hê dit moet Brett wees. In die video is hy soos hy in sy normale dag-vir-dag-lewe is. Hy het sy oomblikke, wanneer ons nie kan verstaan wat hy wil sê nie en hy gefrustreerd raak, maar hy is oor die algemeen ʼn baie gelukkige seun.”
Tammy het nooit verwag om soveel aandag met die video te trek nie.
“Ek het dit eintlik op Facebook geplaas vir familie wat ver is, want ons het al baie gepraat oor hoe Brett in die Spar sing, maar hulle kon dit nog nooit sien nie, so ek wou eintlik net vir hulle wys waarvan ek praat,” het sy gesê.
“Vir my is die beste ding van die video wat so bekend geraak het, dat dit ʼn glimlag op talle mense se gesigte geplaas het. Die kommentaar is amazing en daar was al soveel glimlagte en trane van blydskap. Daar is soveel slegte nuus daar buite, maar dit het so baie geluk en vreugde gebring. Vir my is dít hoe Suid-Afrika móét wees.”
Wie het nou uie ge kap. So lekker om iets positief te lees vir n slag
Dit is nog die beste storie wat ek hiwr gelees het. Ongeag van als wat mens elke dag sien en lees, is daar nog goed in die wereld.
Hier by my het iemand ook nou uie gekap!
Wonderlike mense wat hom gelukkig maak.
Wat ñ wonderlike storie.
So het ons almal maar ons plekkie in die son.
Ag ou Brett…. dat jy nou op jou eie manier soveel geluk en positiwiteit kan bring!
Geseend is jy en jou gesin.
Gelukkig is musiek ‘n taal wat ons almal verstaan.
Mag jy nog vele lewens aanraak op jou lewenspad.
Genade is onbeskryflik groot. Duidelik is hier omgeeliefde vir mekaar.
Soooo mooi!!!!!! Lekker nou gehuil..
Ahhhaa dis vrek dierbaar! Sjoe mamma jy doen n uitstekende werk om na jou seun te kyk en so dankbaar vir die gemeenskap wat dit makliker maak vir die mamma.
#Supertrots op julle