Video: Singende peuter maak vriende op strand

‘n Skermgreep uit die video.

ʼn Video van ʼn skattige seuntjie wat op ʼn strand “Shosholoza” uit volle bors sing en ʼn groep plaaslike seuns wat op ʼn rots naby speel dan spontaan begin saamsing, het sosialemediagebruikers aan die gons.

Die driejarige Arlo Venter van Paarl was saam met sy ma, Sonnika, pa, Dawie, en ʼn groep vriende met vakansie op die strand by Glenmore naby Port Edward toe hy skielik “Shosholoza” begin sing het.

Sonnika, ʼn musiekonderwyseres, het aan Maroela Media gesê sy het die video geneem. “Ons het van die strand af gekom en was op pad boontoe met die paadjie. Ons het stilgestaan, want ons wou ʼn foto neem.”

Sy sê sy het haar foon se verstellings na video verander toe Arlo begin sing. “Ek het afbeweeg na die strand om die foto van Arlo en Dawie te neem, toe Arlo besluit om ‘Shosholoza’ te begin sing. Hy het seker maar gedink dit is sy oomblik toe sy pa hom optel,” lag Sonnika. “En die volgende oomblik, tot ons verbasing, het die kinders op die rots ook begin saamsing.”

Sy sê die oomblik was vir hulle “spesiaal”. “Toe ons wegstap, het die kinders op die rots vreeslik gewaai en totsiens gesê. Daar was dadelik ʼn vriendskapsgevoel.”

Klein Arlo (links) en sy boetie Leon (regs) hou van musiekmaak. (Foto: Verskaf)

Sonnika vertel dit was sy wat vir Arlo die liedjie geleer het. “Ek gee skool by albei my kinders se skole. Arlo is in die Montessori-skool en hy en sy ouer boetie, Leon (7), sing gereeld in die huis. ‘Shosholoza’ is een van hul gunstelinge om te sing. Leon bou vir hulle tromstelle met koffie- en melkblikke en hy is ook die een wat seker maak Arlo spreek al sy woorde reg uit.

“Ek het toe besluit dat ons “Shosholoza” sommer in die skoolkonsert moet inwerk. ʼn Xhosa-sprekende klas-assistent, Nolita, het my gehelp.”

Sy sê musiek is ʼn kragtige medium wat mense onmiddellik oor grense heen kan bind. “Sang is ook ʼn wonderlike manier om terneergedruktheid te vernietig. Dit lig dadelik die hart en die gees. As enigiemand iets uit hierdie video moet wegneem, is dit die volgende: Sit af die radio en sing saam met jou kinders!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mareli ·

Lovit!Sonskyn dis amazing!!!! Special! Arlo jy is superawesome!!!! Go neef go!!!!

Anika Strydom ·

Woweee Arlo jy maak ons trots hoor! Hierdie video is so spesiaal en raak my diep! Wel gedaan Sonnika en Dawie julle is super ouers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.