Video: ‘Skaaphuis’-dogtertjie laat die land skaterlag

Chloe Aylward hou die skapie vas (Foto: Skermgreep uit die video)

Chloe Aylward, ’n driejarige kleuter van Centurion in Pretoria, het die afgelope week die internet gaande met ’n video wat haar ma van haar op Facebook gedeel het.

In die video kan ʼn mens sien hoe Chloe ’n lammetjie vashou en haar pa vra of sy dié lammetjie huis toe kan vat, dít terwyl sy bang raak vir die ooi in die stoor.

Zuleika Aylward, Chloe se ma, het aan Maroela Media gesê hulle gesin is vir ʼn naweek na Thaba Manzi Ranch naby Rustenburg waar Chloe toe die klein lammetjie gesien het.

“Chloe is versot op diere! Elke diertjie wat sy sien, wil sy huis toe vat, maar dié lammetjie het haar hart gesteel. Ons moes elke dag van die naweek teruggaan om vir die lammetjie te gaan kuier,” het Aylward gesê.

Chloe se pa, Kevin, is ook in die video te hoor. Hy het die video van haar geneem en dit toe later vir haar ma gewys.

“Toe ek die video sien, het ek haar eintlik so jammer gekry, want ek kon sien sy was regtig verskriklik bang vir die ooi. Die ooi het nie daarvan gehou dat Chloe heeltyd aan haar ‘babatjie’ vat nie. Sy het haar hoewe gestamp toe Chloe hom wou vashou.”

In die video kan ʼn mens sien hoe Chloe bang raak vir die ooi wie se lammetjie sy vashou. Sy sê saggies “help”, voordat haar pa vir die skape gaan sê om “my Chloe” uit te los. Chloe raak dan opmerklik ongeduldig met haar pa en beveel: “Kom nou, Pappa, asseblief, tel my en die skaap op en dan gaan ons huis toe!”

“Eintlik is sy ʼn baie rustige en skaam kind, sy praat nie gewoonlik so baie voor vreemde mense nie.  Sy is vreeslik erg oor haar pa en sê altyd hoe sterk hy is en dat hy vir niks bang is nie, dié dat sy sê die skape dink hy is ʼn reus. Sy kry ook haar liefde vir diere van haar pa af,” het Aylward gesê.

Die video is op 2 Mei op Facebook gelaai en het sedertdien al meer as 100 000 kykbeurte gekry en is al meer as 3 000 keer gedeel.

Volgens Aylward het hulle glad nie verwag dat die video soveel reaksie sal ontlok nie.

“Ons het dit eintlik net daar op Facebook gelaai sodat dit nie moet verlore gaan nie, en ons oor ʼn paar jaar weer daarna kan kyk. Toe het ons gesien daar is baie mense wat dit kyk en deel. Baie mense lewer ook kommentaar oor hoe oulik Chloe is en watse goeie maniere sy het omdat sy so mooi ‘asseblief’ vra. Ons is baie trots op haar; sy is ons enigste dogtertjie, so dis vir ons baie oulik.”

Aylward het gesê elke keer as iemand vir Chloe ʼn kompliment in die kommentaar los, sê hulle vir haar die mense dink sy is oulik.

”Ons kyk nou gereeld die video, en dan herhaal Chloe weer dat sy nie in die skaaphuis wil bly nie,” het Aylward gesê.

“Dit is eintlik so snaaks, want Chloe is baie lief vir diere, maar sy is eintlik só ʼn poppie ook. So met al die vlieë op haar bene en die skape rondom haar, dink ek dis eintlik hoekom sy gesê het sy wil nie in ʼn skaaphuis bly nie – want sy hou van die diere, maar nie van hoe vuil dit is nie,” het Aylward gesê.

Chloe het darem nie die skapie huis toe gevat nie, maar hulle het elke dag daar gaan kuier. “Ons het amper die hele langnaweek in die ‘skaaphuis’ deurgebring,” het Aylward gelag.

 

Chloe, sy soek so graag die ou skaapies. Ons het so lekker gelag vir haar

Posted by Zuleika Aylward on Tuesday, May 1, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Siestog ·

“Ek wil nie in ‘n skaap huis bly nie” so cute. En pappa trek behoorlik haar siel uit. Dit is so kosbaar en spesiaal.

jessica ·

Not so nice, flies all over on her legs, lying a quick egg on her legs, eish.

Skerp Spioen ·

En dan. Dan eendag proe sy ‘n skaaptjoppie. Ai die lewe darem.

Essa ·

Wat ‘n heerlike Pa en dogter oomblik. Slim klein Chloe kan onderhandel hoor. Kyk, my dag is nou sommer gemaak. ??

Chloe fangirl ·

Agge moeder! Sy is die oulikste pop in die wêreld, “die skaaphuis” HAHAHA!! Dankie Chloe pop jy het my dag soveel beter gemaak!

Adri de Lange ·

Sy is pragtig n dogtertjie waarop n mens trots kan wees.

Liefie ·

Ai die mense wat tog so kerm oor die vliee. Die kind is in n skaap kraal wat presies verwag julle nou eintlik van n skaap kraal? Ten minste sit sy nie agter n tablet of rekenaar nie. Ek dink sy is super cute en haar pa n doring. Weet jy wat gebeur alles in n wegneem ete se kombuis met daardie burger en skyfies waaraan jy so lekker eet? Vertrou my die stories in n kombuis is baie meer as n paar vliee in n skaap kraal so hou tog op kerm en kou jou burger vol……

Mads ·

Ja regtig – moet daar altyd die ou suurknolle in die wêreld wees, wat niks meer mooi in niks sien nie?

Oulik.. ·

Oulikste meisiekind en haar skapie! En amen Liefie…dink Albert Einstein som mooi op :
“There are only two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle.”

― Albert Einstein

Wonder ·

Sy is ons toekoms vir diere beskerming en diere regte. Onthou mense vlieë het ook ‘n doel in die lewe. Al is dit net om die mensdom te irriteer.
Rustige dag vir almal.

ronel ·

Ek het nou so lekker gelag, wat ‘n pragtige kind!! en haar vertroue en verhouding met haar pappa is te pragtig, hy is haar” Reus” en sy vertrou so ten volle hy sal haar en “haar” skapie huis toe vat, – wat die klakouse en suurknolle mis, is die feit dat hierdie baie jong kind reeds die vermoe besit om te onderhandel, om n probleem te asseseer en dan ook n oplossing binne haar ondervindings veld te opper, Cloe, jy is super!!!

Tertia Lotter ·

Sy wil so gou as moontlik daar uit kom met haar lammetjie, voor sy ma kom pla, n regte klein planmakertjie!!! dierbaar!!

MARIA ·

AG MOEDER TE CUTE… TOE MY DOGTERTJIE 4JAAR DIE VIDEO SIEN WIL SY OOK MET ALLE GEWELD N SKAAP HE. SY IS NET SO LIEF VIR DIERE. SY SOEK AL DIE DIERE WAT SY IN AANRAAKING KOM. TEL AL KLAAR VOELTJIES OP WAT SEER GEKRY HET DAN MOET MAMMA HELP VERSORG. ONS KAN NET LEKKER LAG VIR ONS KINDERTJIES. KOESTER DIE VIDEO OM EENDAG VIR HAAR KINDERS TE WYS. TE OULIK

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.