[Video] Skool se roerende huldeblyk aan Brink-gesin

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

“Laat, Heer, U seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel – en dit geskied, wil, Heer, u seën oor hul gebied…”

Die Dirk Postma Gereformeerde Skool in Waverley, Pretoria, het Woensdag dié roerende woorde van “Die Seënbede” tydens die skool se jaarlikse verwelkomings-seremonie aan die Brink-gesin opgedra.

Dié skool het die hartsnare behoorlik geroer in ʼn video waarin 330 studente dié liedjie aan die gesin opdra.

Ds. Hannes Noeth, van die Dirk Postma Gereformeerde Skool, sê dié gesin se leed raak elkeen by die skool “geweldig aan”. “Brink word nog altyd beskou as ʼn belangrike figuur in die onderwys en aangesien dié skool dieselfde waardes het as hy, voel ons ʼn spesiale band. Sy nood raak ons en ons kan onsself nie indink deur watter seer hy gaan nie,” het hy gesê.

Noeth sê “Die Seënbede” was ʼn voor-die-hand-liggende liedjie om aan die gesin op te dra. “Ons gebed is dat God met hulle sal wees en hulle sal seën en dra. Ons harte is saam met hulle stukkend en ons bid vir hulle.”

Maroela Media het vroeër berig dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sy vrou Lise (43) en hul vyf kinders, was op 16 Desember 2016 in ʼn ernstige motorongeluk. André en Rachel is in die ongeluk oorlede, terwyl Lise kritieke beserings opgedoen het.

Lise word tans in die waakeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion behandel. Haar linkerbeen is geamputeer en haar galblaas is verwyder na die ongeluk. Sy moet nog rug- en kaakchirurgie ondergaan. Lise is Maandag meegedeel haar been is geamputeer. Sy weet egter nog nie twee van haar kinders is oorlede nie.

ʼn Gedenkdiens vir André en Rachel word op 22 Januarie gehou.

Vir meer inligting, besoek Nuus oor Danie Brink en gesin op Facebook.

Lees alle vorige berigte oor die Brink-gesin op Maroela Media.

Gereformeerde skool Dirk Postma het vanoggend tydens ons saalopening in besonder ook aan julle as familie gedink. As skool sing ons vir julle spesiaal Psalm 134:4, ons bid julle die seën van die Here toe.

Posted by Hannes Noeth on Tuesday, January 10, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Disselboom ·

“Die liedjie” is natuurlik Psalm 134 vers 4 (berym). Ai, as psalms nou sommer “liedjies” genoem word?

Hannes ·

Moet darem sê ins ons skool, Dirk Postma, praat ons net van Psalms. En hiedie kinders ken werklik al 150 Psalms.

Speedguard ·

Disselboom , doen maar soos die ander , stig af en begin jou eie ding, waarom moet daar altyd mense wees wat fout soek , dit was ‘n uiters goeie gebaar en dit is wat tel!!

Piet ·

Hierdie saak is so hartroerend dat ek nie mooi verstaan hoe Disselboom nog kan dink aan die fynskrif nie. Siestog hierdie mense gaan deur n harde tyd- sterkte.

Ongelooflik mooi en dierbaar ·

In tye van krisis soos waardeur die Brink gesin deur hierdie Desember gegaan het, kort mens elke greintjie ondersteuning en Dirk Postma Gereformeerde skool julle is fantasties, jul sal nooit die waarde van die gebaar kan skat nie. Liedjie / Psalm, dit bly een van die mooiste liedere en die perfekte boodskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.