Video: Só ploeg AVBOB terug in gemeenskappe

Mara Glennie, stigter en direkteur van die Tears-stigting, en Carl van der Riet, AVBOB se uitvoerende hoof, by die amptelike aankondiging van AVBOB se borgskap van die Tears-stigting se gratis USSD-hulplyn (*134*7355#). (Foto: Verskaf.)

AVBOB belê in gemeenskappe met verskeie projekte wat geletterdheid bevorder, biblioteke in skeepsvraghouers vestig en ʼn poësiekompetisie wat woorde aan ʼn gevoel van verlies verskaf.

Die een tema wat al dié projekte saambind, is AVBOB se filosofie dat die begrafnisondernemingsgroep deel is van die gemeenskap wat eintlik maar net ʼn groter familie is.

AVBOB is ʼn integrale deel van die gemeenskappe waarin ons ons onderneming bedryf. Dit is vir ons belangrik om deel van so ʼn gemeenskap se ekostelsel te wees, en daardie gemeenskappe moet kerngesond wees,” sê Marius du Plessis, AVBOB se bemarkingsbestuurder.

Du Plessis meen AVBOB belê juis in gemeenskappe om sukses te verseker. “As ons gemeenskappe gesond is, kan AVBOB ook as ʼn onderneming daar floreer.”

Dit is ook dié filosofie wat AVBOB verlede jaar genoop het om toe te tree tot die stryd teen die vlaag van geslagsgebaseerde geweld in die land.

Die ondernemer het die borgskap van die Tears-stigting se gratis USSD-hulplyn (*134*7355#) in Augustus 2020 oorgeneem. Dit vorm deel van die onderlinge genootskap se veldtog genaamd 365+, wat ook ʼn verdere skenking van R30 000 ingesluit het aan talle organisasies wat bystand aan slagoffers van dié soort geweld verleen.

“Geweld teen weerlose vroue en kinders is ʼn euwel wat wortel en tak uitgeroei moet word. Die projek lê AVBOB en Carl van der Riet, ons uitvoerende hoof, besonder na aan die hart.”

AVBOB borg die Tears-stigting se hulplyn teen R360 000 per jaar.

Nog ʼn projek waarvoor AVBOB tans dalk die bekendste is, is die jaarlikse poësiekompetisie waar digters in al 11 amptelike landstale gedigte kan inskryf.

“Een van ons kollegas het destyds die begrafnis bygewoon van ʼn seuntjie wat sy stryd teen kanker verloor het. By die begrafnis kon die seuntjie se bedroefde oupa slegs die woorde ‘tata kiewiet’ in sy spreekbeurt uiter. Dit het ons laat wonder hoe ons mense kan help om woorde te vind wat hulle hartseer in ʼn tyd van groot verlies kan verwoord.”

AVBOB se webwerf vir die poësiekompetisie spog nou al met meer as 40 000 gedigte wat uit talle nuwelinge en digters se pen in verskeie tale sedert 2017 gevloei het. Die projek en sy digbundels wat daaruit spruit word dikwels as ʼn monument vir al die tale van Suid-Afrika beskryf.

Du Plessis voeg by dat nog ʼn tema wat al AVBOB se gemeenskapsprojekte voed onderwys en opleiding is. “Selfs iets soos hierdie kompetisie het ʼn literêre waarde vir ons gemeenskap.”

Hy sê die fokus van AVBOB se gemeenskapsprojekte moes noodgedwonge verskuif te midde van die COVID-19-pandemie.

“Dit beteken egter nie ons strategie het verander nie. Op korttermyn het ons besluit om hulp te verleen hoofsaaklik met die verspreiding van kos, persoonlike beskermende toerusting en ontsmettingsmiddels.

AVBOB hoop egter om ná die inperking weer die fokus terug te verskuif op projekte soos die verskaffing van vraghouerbiblioteke.”

Besoek www.avbob.co.za vir meer inligting oor die AVBOB-stigting en die gemeenskapsprojekte wat hulle bedryf.

Lesers wat belangstel in meer inligting oor AVBOB se begrafnisdienste en -voordele kan enige AVBOB-kantoor of AVBOB se webwerf besoek, of die inbelsentrum by 0861 28 26 21 skakel. Lesers kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected].

Kyk hier na die video-opname van die onderhoud:

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus, Verbruikersake

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.