Video: Teken die Virseker Geesfees in jou dagboek aan

Virseker en Solidariteit Helpende Hand is besig om planne te beraam vir ʼn kunstefees om mense se gemoedere én kinders se honger magies te voed.

Die Virseker Geesfees gaan vanaf 18 tot 20 Maart 2022 by die Lekwena Wildlife Estate, ongeveer 10 km buite Potchefstroom, aangebied word ten bate van Helpende Hand se #StopHonger-projek. Kunstenaars soos Adam Tas, Ricus Nel, Ruhan du Toit, Willem van der Ryst en vele meer gaan oor dié drie dae vir vermaak sorg. Daar gaan ook verskeie stalletjies, insluitend lekker kosstalletjies, asook aktiwiteite vir oud en jonk wees. Die kunstenaars se vertonings sal regstreeks op verskeie aanlyn platforms uitgesaai word, sodat kykers wêreldwyd die fees saam kan geniet. Van der Ryst se musiekvideo, “Gee ʼn bietjie”,  is spesiaal aan #StopHonger opgedra en het die tema van die kunstefees geinspireer.

Adam Tas (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Volgens René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie, poog die fees se organiseerders en borge om voedsel vir die siel te verskaf, asook om bewusmaking oor hongersnood onder die land se kleuters te skep.

“Om feestelik te wees is een ding, maar ons wil ook graag die fees aan ʼn groter doel koppel. Die realiteit is dat daar elke aand kleuters is wat honger gaan slaap, want hul ouers kan net eenvoudig nie bekostig om vir hulle kos te voorsien nie. Daar is tans meer as 8 000 kleuters wat deel van Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema uitmaak. #StopHonger help kleuterskole in Afrikaanse gemeenskappe met koopbewyse om kos vir hulpbehoewende kleuters aan te koop, en vir vele van dié kleuters is dit hul hoofmaaltyd vir die dag,” sê Roux.

Willem van der Ryst. (Foto: Verskaf)

“Ons nooi graag die publiek uit om ʼn knoop in die oor te maak en om solank die fees se datum in hul dagboeke aan te teken. Kaartjieverkope open binnekort op TixSA, en die opbrengste word aan #StopHonger geskenk.

Van nou tot die fees plaasvind, kan die publiek reeds ʼn verskil maak en sorg dat daar nie nóg ʼn kleuter honger gaan slaap nie. SMS die woord “STOP” na 45763 (ʼn SMS kos R2) en ons sal jou skakel om jou meer te vertel oor hoe jy ʼn hulpbehoewende kleuter hierdie feesseisoen kan help,” sê sy.

Besoek www.stophonger.co.za vir meer inligting oor die #StopHonger-voedingskema en om ʼn donasie te maak.

Hier is Willem van der Ryst se “Gee ʼn bietjie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.