Video: Uitvoerende hoof gee motor vir jong man wat deur die nag werk toe stap

‘n Skermskoot uit die video van Walter Carr wat die motor ontvang.

ʼn Toegewyde werknemer wat besluit het om etlike kilometer ver te stap nadat sy motor onklaar geraak het eerder as om sy eerste dag by sy nuwe werk te mis, het harte reg oor die wêreld aangegryp.

Walter Carr van Alabama in die VSA se storie het mense só geraak dat sy werkgewer nie net besluit het om vir Carr sy persoonlike voertuig te gee nie, maar dat meer as $89 000 (ongeveer R1,19 miljoen) reeds geskenk is om Carr finansieel by te staan.

CBS42 News berig Carr het onlangs ʼn werk gekry by Bellhops, ʼn Amerikaanse verhuisingsmaatskappy. Verlede Sondag sou sy eerste werksdag wees en hy moes inval by ʼn huis in Pelham om die gesin te help trek. Die aand voordat hy met sy nuwe werk moes begin, het sy motor egter onklaar geraak.

Al sy pogings om ʼn ander manier van vervoer na Pelham te kry, was onsuksesvol. Eerder as om te laat weet dat hy dit nie tot by die werk sal kan maak nie, het Carr besluit om die sowat 30 km van sy huis in Homewood na die huis in Pelham te stap. Hy het om middernag by sy huis weggespring, vasbeslote om betyds om 08:00 aan te meld om sy werksverpligtinge na te kom.

Walter Carr by sy nuwe motor. Foto: Facebook

By sy aankoms in Pelham het plaaslike polisiebeamptes hom opgemerk en hom ʼn saamrygeleentheid gegee en vir hom ontbyt gekoop. Volgens CBS42 het Carr op die ou end voor die ander werknemers by die huis van die kliënt, Jenny Lamey, aangekom.

Die polisiebeamptes het Lamey van Carr se staptog vertel en sy het aangebied dat hy eers ʼn rukkie kan gaan slaap voordat sy kollegas arriveer. Hy het egter die aanbod van die hand gewys en gesê hy sal eerder die gesin solank help om klaar te pak.

Lamey was so beïndruk met Carr dat sy die storie op haar Facebook-blad gedeel het. “Ons het gesels terwyl ons gewerk het. Hy kom van New Orleans. Hy en sy ma het hul huis in Orkaan Katrina verloor. Hy was ʼn lid van die vloot. Ek het niks meer van sy storie gekry nie,” het Lamey geskryf.

“Ek kan nie aan julle beskryf hoe aangeraak ek was deur Walter en sy tog nie. Hy is nederig en gaaf en opgewek en hy het groot drome. Hy is hardwerkend en taai. Ek kan nie dink hoe baie keer op daardie eensame staptog hy dalk wou terugdraai, hoeveel keer hy gewonder het of dit die beste idee is nie, hoeveel keer hy ʼn plek wou vind om te sit of om te lê en te wag dat iemand hom oplaai nie. Maar hy het gestap tot hy hier aangekom het! Ek staan verstom oor hierdie jong man.”

Lamey se plasing is meer as 2 500 keer op Facebook gedeel en dit was nie lank nie voordat Luke Marklin, die uitvoerende hoof van Bellhops, ook van die storie te hore gekom het. Marklin het besluit om sy eie 2014 Ford Escape vir Carr te gee en so te help verseker dat Carr altyd ʼn voertuig sal hê om mee by die werk te kom.

ʼn Hartroerende video van Marklin wat die motor aan Carr oorhandig is sedert Dinsdag meer as 580 000 keer gekyk.

Talle media het oor Carr se storie berig en kort voor lank is ʼn skarebefondsingsinisiatief op die been gebring in ʼn poging om $2 000 in te samel om Carr te help. Dit fondsinsameling het alle verwagtinge oortref en meer as $89 000 is teen Sondag ingesamel.

Carr het besluit om ʼn groot gedeelte van dié geld aan die Birmingham-onderwysstigting te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Naas Vermaak ·

Al die nonsens wat in die wereld aangaan maak nie sin nie…daars baie meer goeie mense as die spul moeilikheidmakers…in ons land ook…mooi storie!

Helena ·

Naas, jy is so reg. Die handvol wat moles maak, laat dit lyk of almal sleg is, maar daar is beslis meer goeie as slegte mense. Ons moet net in liefde aanhou uitreik na almal om ons sodat hulle Christus se liefde in ons kan sien.

dirk ·

Wonderlik om die flukse man se gesig dop te hou. Stem saam met almal se kommentaar hierbo, en arbeid adel!

bgj van der westhuizen ·

wel dit kan baie suid afrikaners by hom leer om by die werk te kom maak jy in plan kom wat wil die man wil werk dit is verseker nie soos baie dit as n versoning sal gebruik het om by die huis te bly nie

Gemaskerde Sopbeen ·

En in Suid Afrika vanoggend: Goeie môre, hoekom is julle so laat vandag?” “Because you don’t want to give us cars to come to work!!!” En ek lieg nie…..dit was die antwoord op my vraag….

Chris ·

Mooi storie net een probleem die Bybel se jou linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie. Hoekom dit aan die groot klok vir die wereld gehoor hang. Dit is n goeie pligsgetroue werker waarvan in die nuwe wereld orde min gesaai is en n voorbeeld vir baie.

Peet Schabort ·

Wat natuurlik misgekyk word deur diegene wat net wil hê is sy wil om te wil werk. Hy het sekerlik ‘n goeie verskoning gehad om weens sy onklaar kar nie op te daag. Inteendeel het hy ongeag wat ookalbetyds by die werk opgedaag. Hier by ons is om laat op te daag aan die orde van die dag. Reeds in die 1980’s het ons baas gesê dat jy SAL vroeg vertrek vanaf jou huis dat sou jy ‘n pap band kry jy dit in jou eie tyd sou vervang en NIE in werkstyd!!

Jack ·

Werknemer lojaliteit is moeilik om te vind in ons samelewing. Juis nou onlangs iemand gehad wat ons as klein firma alles gedoen het om hom suksesvol te probeer maak. Ook ‘n firmamotor gekry om sy werk te kom doen. Internet leser geskiedenis het youtube op youtube op youtube gewys in werkstyd. Na dosyne leuens, het hy homself op ou end so vasgelieg en net weggeloop sonder kennis. En ons kar gelos met R40000 se stampe, krappe, gladde bande, dienste gemis, ens. ens.

HS ·

Wow so toegewyd!! Ek haal my hoed af vir hom. Hier by my werk…..kom sommiges werk toe om te kom slaap…..het heeldag tee en hou 2 uur ete. Die ander helfte rook hul dag om. Ek werk maar en sit alles in, want dis hoe ek groot gemaak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.