Video van 11-jarige plaasseun het SA gaande

Van visvang en perdry tot jag en bakkiebestuur, daar is niks wat die 11-jarige Henk Geyser nie voor kans sien nie. (Foto: Verskaf)

Dit is vir die 11-jarige Henk Geyser niks vreemds om ʼn bakkie se band om te ruil nie – hy is immers ʼn plaasseun van Limpopo!

Maar ʼn video van dié jong seun wat ondanks die feit dat hy net een hand het binne slegs ʼn paar minute behendig sy ma se bakkie se band ruil, het Suid-Afrikaners gaande. Dié video, wat ʼn week gelede op Facebook geplaas is, is reeds meer as 215 000 keer gekyk en 4500 keer gedeel.

“Hy is ʼn regte ou rakkertjie! Hy doen alles self, daar is niks wat iemand anders vir hom hoef te doen nie. En hy wil ook nie hê jy moet goed vir hom doen nie – hy is heeltemal in staat om na homself te kyk,” sê ʼn glimlaggende Juanita Geyser oor haar jongste spruit.

Henk is die jongste van vier kinders en met net een hand gebore. Juanita vertel dokters kon nooit regtig met sekerheid sê hoekom nie, maar een van Henk se arms het net nie ten volle ontwikkel nie. Juanita was 32 weke swanger toe sy uitgevind het Henk het net een hand, maar sê dit het hulle as ouers nooit in die minste gepla nie.

“Ons het hom van kleins af dieselfde grootgemaak as ons anders drie kinders. En van kleins af het hy alles gedoen wat die res van sy maatjies doen.”

‘n Skermskoot uit die video van Henk Geyser wat die bakkie se band omruil. (Video: Facebook)

Juanita vertel behalwe dat Henk sommer blitsig self ʼn band kan omruil, help hy sy pa met die boerdery op die plaas, stoot hy handig kruiwaens vol sand aan en kan hy selfs die bakkie bestuur. Hy is ook ʼn kranige rugbyspeler vir sy laerskool op Naboomspruit en jag gereeld saam met sy pa.

“As ek daaroor dink, is daar net een ding wat hy nie self kan doen nie. Hy kan nie self sy veters vasmaak nie. Die res doen hy self!” lag sy.

Juanita sê mense was nog altyd verstom oor Henk se ongelooflike ingesteldheid en vasbeslotenheid om ondanks sy gebrek ʼn normale lewe te leef. Die jong seun het selfs verlede jaar by sy skool ʼn Diensbaarheidstoekenning ontvang wat tekenend van sy positiewe uitkyk op die lewe is.

Henk Geyser is ‘n regte plaasseun. (Foto: Verskaf)

“Ons het van kleins af vir hom gesê hy is spesiaal en dit is net hoe Jesus hom gemaak het. En ek het hom nog nie een dag hoor kla daaroor nie. Hy het homself nog nooit jammer gekry nie,” sê Juanita.

Sy sê sy is ook dankbaar vir die wonderlike gemeenskap waarin Henk grootword en dat hy nog nooit by die skool gespot is oor hy anders lyk nie. “Hy het so baie maatjies en sy maatjies is so lief vir hom. Henk is net hulle held,” sê sy.

Juanita erken sy is baie trots op Henk se positiewe ingesteldheid en word self daagliks deur hom geïnspireer, maar is ook nederig omdat sy weet dit is danksy die Here se genade dat hy so ʼn positiewe, borrelende kind is. “Dit is lekker om te weet my kind is ʼn inspirasie vir ander, omdat ek graag iets wil teruggee vir ander – hierdie wêreld het dit so nodig. Hy is ʼn ongelooflike kind en net ʼn bewys dat waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg.”

En wat sê Henk van al die aandag wat die video hom besorg het? “Hy is baie nederig, maar tog so ʼn bietjie trots op homself!” lag Juanita. “Hy sal maak asof hy nie omgee nie, maar soms as hy so iets doen, sal hy vra: ‘Mamma, maak bietjie daar ʼn video van my toe?’”

https://www.facebook.com/juanita.geyser.94/videos/327657527937297/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Leser ·

Sjoe Henk…JY is ‘n voorbeeld vir ons ALMAL! Welgedaan seun!!

Delani ·

Wow!!!! Henk, jy is n inspirasie vir almal. Die hele wêreld Kan by jou leer. God is goed!

Trots ·

Ek haal my hoed af vir jou jong man. Ekt twee hande en kan nie ‘n wiel omruil nie. Jys ‘n inspirasie.

pieter ·

Fantasties hy word reg grootgemaak kan sien hy wil alles doen my klein seun help my net so baie en hys 5 jaar oud onder di kar tot in di tuin alles van di beste jong man hou so aan trots op jou

HPV ·

Na ‘n week van plunder, breek en brand is dit lekker om so iets positiefs te lees.
Henk jy is ‘n opbouer, rolmodel, motiveerder vir baie, bestem vir sukses!

Maria ·

Fantasties seun!!!
Heel moontlik gebore met amniotiese band sindroom. Verloor ledemate tydens swangerskap omdat die amnion(inner lining) skeur, toutjies maak, ledemate raak verstrengel en dit amputeer.

maryna smit ·

Ag hy is n dierbare seun.. Regtig iemand wat dit nog ver gaan bring in die lewe.

Luister ·

Mooi so, Henk. Jy is regtig ‘n inspirasie vir almal. Jou ouers is met reg trots op jou.

Rina Strydom ·

Henk jy is `n voorbeeld en inspirasie vir almal van ons. Mooi so!!

Arno ·

Jongman jy is n voorbeeld vir die hele land. Wees trots, jou nederigheid skyn ook sterk deur.

Ronel ·

Sjoe, wat n inspirasie! Hou so aan seun! My 2jarige dogtertjie is ook met slegs een hand gebore en haar arm is ook korter soos joune Henk. Sy is net so n gelukkige, “go getter” soos jy en die liefde en vreugde straal uit haar uit. Ek is so bly om van jou te hore te gekom het. Hou so aan!

Anton ·

Henk “Staal” Geyser! Krag kom deur die brein en die hart van Jesus af. Jong man jy is n inspirasie! Jou ouers moet so trots wees op jou!

Marianne Scherman ·

Ek is mamma van 2 gestremde kinders, Henk jy is voorbeel vir so baie, dankie Mamma hy ken Ons Vader waar sy krag van daan kom.

Jeremia ·

Henk – jy is ‘n wonderlike seunskind! En met hierdie ingesteldheid van jou en jou ouers se voorbeeld gaan jy dit nog baie ver bring.

Heksie ·

Doen so voort my kind, moet NOOIT dat die wreedheid van mense jou onderkry nie! Want glo my, die ou mensdom is maar vals en wreed.

Sandy ·

Hy is sommer ‘n bakgat laaitie wat nie dat die feit dat hy ni ‘n tweede hand het hom laat terughou nie. Dis iets om op trots te wees, vir hom en sy ouers.

Amanda ·

My dogtertjie (nou 3 jaar oud) is ook gebore met net een hand. Haar linker hand het nooit ontwikkel nie. Sy maak ons net so trots. Sy doen letterlik ook als wat ander 3 jariges doen sonder enige probleme. Voorwaar ‘n “eye opener” oor mens wat so maklik kan kla oor jou lewe. You rock Henk!!

Jo-anne ·

Henk, die hele SA is net so trots op jou soos jou ouers! Maak vir jou ‘n You Tube account ook dan ‘post’ jy al jou videos daa! jy gaan sommer baie ‘likes’ kry! jy is ‘n inspirasie vir ons almal! well done x

chantelle ·

dit was nou n lekker berig om te lees
sommer trots op die seun
wens meer seuns wil so wees en minder voor tv le of in rokkies dra belangstel ;p

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.