Video: Vierjarige wat bid vir krag gryp harte aan

'n Skermgreep uit die video. Saam met Veronica is haar pa, Bennie, en haar jonger sussie op sy skoot.

‘n Skermgreep uit die video. Saam met Veronica is haar pa, Bennie, en haar jonger sussie op sy skoot.

ʼn Skattige video van ʼn dogtertjie wat bid vir krag en die duiwel uit haar huis jaag gryp steeds harte aan op sosiale media.

Die radio-omroeper Martin Bester het haar na sy ontbytprogram op Jacaranda FM genooi om vir luisteraars te bid.

Klein Veronica Dercksen (4) en haar ouers, Bennie en Annatjie, het die hele ent van Brits in Noordwes gery om dié radiostasie in Midrand te besoek. Veronica se jonger sussie was ook by.

Die skattige video het veral sosialemediagebruikers vermaak ná die hewige kragonderbrekings in gedeeltes van Pretoria-Oos nadat ʼn brand die Wapadrand-substasie in puin gelê het.

“Liewe Jesus, maak my pappa en my sussie en my mamma rustig, rustig,” bid Veronica in die video wat deur haar ma opgeneem is. “Gee vir my elke krag en maak my mamma rustig. Gee vir my sussie ballonne en vir my. Gee vir my baie krag, want die krag was elke dag af en toe kan ek vir niemand sien nie. Die Here maak vir my en my sussie rustig, rustig.”

Veronica verjaag ook die duiwel. “Duiwel! Uit hierdie huis uit! En ek belowe jou, jy gaan nooit weer hier binne nie. Wyk Satan!”

Op Bester se vraag oor waar Veronica geleer het om so te bid, het Bennie aan Bester gesê voordat die Here sy lewe omgekeer het, was hy deel van die Mafia- en dwelmwêreld.

“Vandat die Here in my lewe is, gaan dit baie goed met ons. Ons as gesin is gereeld besig om te bid, Bybel te lees en ons doen saam Bybelstudie tuis. My vrou het baie hard vir my gebid en hierdie twee dogtertjies het soos eendjies agter mamma aangeloop en deur die huis geloop en die Satan bestraf,” het hy vertel.

Bester het aan Veronica gesê haar gebede het gewerk. “Dit moes, want die krag in Pretoria-Oos is weer herstel,” het hy geskerts.

Luisteraars is aangemoedig om vir Veronica gebedsversoeke te stuur en sy het daarna vir ʼn luisteraar wat ʼn operasie moet ondergaan gebid. Aan die einde van die gebed het sy bygevoeg: “Jesus, help vir oom Martin dat sy hartjie reg is, en maak oom Martin rustig.”

“Sy het geweet sy moet vir jou bid,” het Liesl Laurie, voormalige Mej. Suid-Afrika en Bester se mede-omroeper, geskerts.

https://www.facebook.com/ernst.botha/videos/10156744117327845/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maria ·

Wonderlik …wonderlik…mag daar soveel aanraak aan almal sodat voorbeeld sal volg en GLO dit gebede kragting.
Dankie!

Hannelie ·

Dis so so pragtig! Ek kyk haar video op watshapp oor en oor.

Joey ·

Laat hierdie oulike opregte klein dogtertjie se gebede vir ons almal ‘n voorbeeld wees, dit kom duidelik so diep uit haar hartjie uit dan sy elke woord bedoel.
Amen

C ·

Dit is nou waarlik die cuteste gebed wat ek nog gehoor het. Ek kan net nie genoeg van hierdie pragtige klein mensie en haar gebedjie kry nie. @Hannelie, ek myself kyk hierdie clip oor en oor. Te sweet. Moet nooit jou geloof en krag in God verloor nie kleine mensie, jy is sowaar ‘n voorbeeld vir baie groot mense. Mag Liewe Jesus altyd saam jou stap en jou handjie styf vas hou op jou padjie voorentoe. Jy is pragtig. Lekker Bid!! Jesus Groete!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.