[Video] Voëltjie kom ‘vra hulp’ by NSRI

Skermgreep uit die video

Die bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Simonstad het vandeesweek ʼn video gedeel van ʼn ongewone “reddingsoperasie” toe hulle ʼn voëltjie moes help wat in vislyn verstrengel geraak het.

Maroela Media het vroeër berig Darren Zimmerman, NSRI Simonstad se stasiebevelvoerder, het gesê die span het die voëltjie Saterdag gedurende ʼn roetine-oefening van die bemanning opgemerk toe die voël self by die voordeur van die gebou ingestap gekom het.

“Ons het opgemerk dit lyk asof die voël in vislyn verstrengel geraak het. Hy het voor ons opleidingspersoneel gestaan asof hy om hulp vra,” het Zimmerman gesê.

“Hy het na die span toe gestap en voor hulle gaan staan sonder enige teken dat hy bang is of gaan wegvlieg.” Die span het die voël opgetel en hy het geensins probeer wegkom nie.

“Hy het toegelaat dat die NSRI-span hom optel en hanteer. Hy het sy volle samewerking gegee terwyl ons hom uit die lyn ontknoop het,” het Zimmerman gesê.

In die video kan gesien word hoe die span die vislyn versigtig ontknoop en wegsny, terwyl die voël rustig toelaat dat hulle die vislyn verwyder. Nadat hy uit die vislyn bevry is, sit hulle hom neer en hy skarrel ooglopend ongedeerd weg.

“Hy het ʼn oomblik geneem om sy bene te strek, maar ná ʼn kort stappie weer gevlieg,” het Zimmerman gesê.

Die NSRI vermoed die voël is ʼn bontkiewiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Donald Jansen ·

Nie nodig om te vermked nie, dit is defnatief n bontekiewiet. Love hulle baie

Fransie ·

Die mens is die diere se grootste vyand!! kyk nou ook met vislyn!!!so gaan dit ooral in die wereld!!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek het ‘n plek in Margate en wanneer ek soggens op die strand gaan loop neem ek 2 pastiese sakke en soos ek op die strand stap maak ek gemors bymekaar wat deur hopelik opgevoede (?) mense nagelaat is. Hoeveel keer tel ek nie vislyn met nog ‘n hoek daaraan op nie! Hulle het inspekteurs om te kyk of jy ‘n visvangpermit het. Waarom kan dieselfde inspekteurs nie ook toesien dat vissermanne al hul goed met hul saamneem nie?

Justice ·

Sarie dit is `n briljante idee – daardie inspekteurs sal `n klein fortuin vir natuurbewaring uit slordige vissermanne kan maak – gelukkig is die minderheid vissermanne nie slordig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.