Video: Vrou se onbeplande avontuur vir liefdadigheid

In die eerste episode van Sonder jou Soetkys moes die deelnemer ‘n dansroetine uitwerk (Foto: Verskaf)

Die nuwe werklikheidsreeks Sonder jou Soetkys beoog om ’n vreemdeling te oorreed om saam met hulle ’n 48 uur lange avontuur iewers in Suid-Afrika en selfs in die buiteland aan te pak.

In dié program se eerste episode het die aanbieders, Jacques Pepler en Mari Molefe van Heerden, ’n vrou in ʼn Pretoria-winkelsentrum oorreed om saam met hulle ’n vliegrit na Durban te onderneem.

Sonder enige persoonlike besittings of die kans om te pak, vertrek hulle onmiddellik op die avontuur gevul met uitdagings en interessante ervarings.

“In elke episode kry die deelnemer drie uitdagings wat in 48 uur voltooi moet word. In die loodsepisode was een van die deelnemer se uitdagings om binne twee uur ’n dansroetine saam met leerders van die Suid-Natal Hoërskool uit te werk. Die dans is later die middag as ’n flashmob op Margate-strand opgevoer,” lui ʼn verklaring.

Die Sonder jou Soetkys-span tref die eerste deelnemer in ‘n winkelsentrum aan. (Foto: Verskaf)

Gedurende die reeks gaan kykers ook kennis maak met plaaslike liefdadigheidsorganisasies.

“Ons het verneem dat daar ’n baie groot behoefte is aan voorsiening van kos aan gesinne in nood,” het die Sonder jou Soetkys-span gesê.

Russell Cameron, hoof van produksie by die produksiehuis Moewie, wat dié reeks vervaardig, het vertel dat hulle dié probleem wou aanraak.

“Die produksiehuis wil ’n beroep doen op lesers om hul video van die flashmob op Sonder jou Soetkys se Facebook-blad en op YouTube te gaan kyk. As die video 200 000 keer gekyk word teen middernag, 31 Desember 2018, gaan een van die plaaslike borge, Klein Bosveld Slaghuis in Margate, saam met die produksiehuis hande vat.

Die aanbieders van die program, Mari Molefe van Heerden en Jacques Pepler (Foto: Verskaf)

“Vleispakke van meer as 2,5 kg elk gaan aan 100 behoeftige gesinne aan die Suidkus elke maand vir ’n jaar geskenk word. Die waarde van hierdie skenking sal R150 000 beloop. AfriForum Jeug en  Solidariteit Helpende Hand sal die verspreiding hiervan behartig,” het hy gesê.

Russell het verder lesers versoek om op die plasing op hul Facebook-blad kommentaar te lewer indien hulle dink dat hulle so ’n avontuur sal wil onderneem. Die vervaardiger sal op 7 Januarie ’n kandidaat uit die kommentaar kies, wat ’n deelnemer in een van die episodes sal wees wat vroeg aanstaande jaar verfilm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wynand Kirchner ·

Dit was die beste ervaring wat die AfriForum Jeuglede kon ervaar het.

Ek was baie bevooreg om deel te wees van so n opwindende ervaring

J ·

1.Gaan die fakeste program wees, en 2 daai is nie n flashmob nie, n flash mob begin nie met 3 mense wat dans, en dan join n klomp nie, dit gebeur tussen n klomp mense bv in n mall-dan skielik BAM begin mense dans en so raak dit grootter.

Ellen ·

J, wat gee jou idee dit gaan fake wees. Ek kan nie wag dat dit begin nie. Sien uit na iets opwindends en ek hou van die 2 aanbieders. Maroela hou ons asb op hoogte wanneer dit gaan wys en op watter kanaal. Baie Dankie J dat jy ons vermaak met jou kennis oor flashmobs. Ek het die video al 4 keer gekyk en gaan dit weer nou kyk.

Lag maar ·

Ek stem saam J. Dit gaan baie aangeplak wees. Daar is dan klaar kameras in die klas, maar almal is “so geskok” toe die aanbieders daar in storm.

Cameron ·

Hallo,
Interessante feit oor die betrokke toneel; ons skiet met 2 kameras, een was reeds binne en die ander het aanbieders en deelnemer gevolg. Die kinders was deur die skool in die klaskamer geplaas, maar hul het nie Idee gehad wat op hul wag nie. Ek wil ook noem dat hierdie ‘one take’ was, dus het ons nie die toneel twee keer geskiet nie. Ons hoop dat julle die reeks sal geniet. Dis inderdaad n unieke projek en konsep. ~hoof van produksie : SJS

Kan nie wag nie ·

Ek kan nie wag nie. Klink en lyk na hope pret, anders as die nonsens wat deesdae wys. J, neem vir ons n video van jou flashmob as jy dan so baie weet. MM, Wanneer wys dit op TV?

Wim Buitendagh ·

n Baie goeie idee. Baie dankie aan almal wat gehelp het met hierdie opname en dit so besonders gemaak het. Ek is self n ouer van hierdie skool en baie trots daarop.

GK ·

Uiteindelik lyk dit of ons kan uitsien na goeie program vir n verandering. MM, waar kan mens uitvind waar en wanneer dit wys?

Adele Strydom ·

Hierdie naamlose mense met hulle negatiewe kommentaar…… hierdie program gaan minderbevoorregte mense help. Sies vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.