Video: Vroue in vermaakbedryf span saam om vrouwees te vier

Rouchelle Liedemann, Karien Basson en Benescke Janse van Rensburg. (Foto: Verskaf)

Drie bekende gesigte in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf het kragte saamgesnoer om dié Vrouemaand ʼn unieke platform van stapel te stuur spesiaal vir die skoner geslag.

VRINNE is sosialemediaplatform waarop vroue, vriendskappe en entrepreneurs gevier word. Die drie vroue agter die projek is Benescke Janse van Rensburg, skrywer, televisie-aanbieder en radio-omroeper; Rouchelle Liedemann, sangeres, rubriekskrywer en televisie-aanbieder; en Karien Basson, lewensafrigter, skrywer, spreker en televisie-aanbieder.

Hulle verduidelik hulle wou die VRINNE-platform skep as ʼn “vriendin vir elke vrou”; iemand saam met wie jy kan lag, huil of net jou lewe kan deel. “Ons glo vroue het soms net ’n uitlaatklep nodig. ’n Plek vir asemhaal en ontspan. Dit is wat VRINNE vir vroue wil bied,” sê Basson.

Janse van Rensburg voeg by dat Suid-Afrika vol kreatiewe, vroue-entrepreneurs is, maar dat heelwat eienaars van klein- en mediumgrootte ondernemings nie tyd of geld het om hul produk of diens te bemark nie. “VRINNE wil daardie gaping vul. Ons wil entrepreneurs vier,” sê sy.

Om dít te doen beplan VRINNE om elke Donderdag ’n resensie-episode op hul YouTube-kanaal te publiseer waartydens hulle gesels oor van die produkte of dienste wat hulle op die proef gestel het. “Ons wil dit interaktief hou,” sê Janse van Rensburg. “Vroue moet voel dat hulle seggenskap het en dat ons namens hulle produkte of dienste kan toets om eerlike terugvoer te gee. VRINNE behoort dus onder meer ’n lekker netwerkgeleentheid te wees waar sake-idees uitgeruil kan word.”

(Foto: Facebook)

Liedemann sê dit is egter nie nét werk en geen pret nie. VRINNE wil vroue ook vermaak. “Ek hou van lag en dit is wat ons saam met die vroue wil doen. Ons wil saam lag vir ons eie tekortkominge, maar ook gesels oor dinge wat die hart raak – kinders, ons huwelike, intimiteit, ons gesondheid. En ons drie saam is baie eerlik oor ons eie tekortkominge, wat altyd snaaks is,” lag sy.

“Ons drie vriende verteenwoordig die hele spektrum,” sê Janse van Rensburg. “Ek het twee klein kindertjies, Rouchelle het tieners in die huis en Karien het geen kinders nie – net drie katte! Tussen ons drie het ons al ʼn hele paar uitdagings kafgedraf, so ons het baie materiaal om oor te gesels.”

VRINNE het in Vrouemaand begin deur hul eerste video op YouTube bekend te stel, ʼn tong-in-die-kies uitbeelding oor die soort vriendinne wat vroue dikwels in hul vriendekringe het. “Ons hoop is dat vroue hierdeur opnuut die uniekheid en diversiteit van vriendskap saam sal vier,” sê Janse van Rensburg.

Volg VRINNE op Facebook of YouTube om al hul kaskenades dop te hou en saam te gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Abe ·

Jitte,
Sommer 3 mooi vrouens saam: Kan tog net n reuse sukses wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.