Video: Wasmasjien-wenners ʼn plek van hoop vir kinders

Rock-of-hope

Mientjie Prozesky van Rock of Hope. (Foto: Verskaf)

Met die intrapslag by Rock of Hope word ons in die oprit verwelkom deur ʼn vriendelike man en ʼn jong meisie met ʼn piepklein baba op die heup.

Wouter Prozesky en sy dogter, Mianri (18), is maar net twee van die inwoners van dié vyfslaapkamerhuis wat dien as plek van veiligheid vir verlate, mishandelde en getraumatiseerde babas en peuters in Pretoria. Buiten die klein dogtertjie wat liefderik teen Mianri se bors vasgedruk word, is daar nog agt ander babas wat hier versorg word. ʼn Handjievol laerskoolkinders vind ook ʼn heenkome hier.

Rock of Hope in Montanapark, Pretoria, het die publiek se stemme, en harte, verower en het die Vuil Wasgoed-wasmasjienkompetisie loshande gewen. Die kompetisie is van stapel gestuur saam met die span van dié nuwe Afrikaanse aksiefliek wat tans in fliekteaters landswyd draai.

Die Prozesky’s se buurvrou, Belinda Janneke, het die benoeming om in aanmerking vir die wasmasjien te kom, namens Rock of Hope ingedien. Die publiek kon op Maroela Media vir hul gunsteling stem en Rock of Hope het uiteindelik die meeste stemme ingepalm.

Wouter en sy vrou, Mientjie, het in 2011 die Rock of Hope-huis laat registreer nadat Mientjie ʼn profesie ontvang het in die kerk dat sy na kinders wat nie haar eie is nie, moet omsien. “Ek sien jou met ʼn bussie vol kinders. Dit is nie jou eie kinders nie, maar jy sal hulle liefhê soos jou eie en Ek, die Heilige Een, sal voorsien,” sê sy oor dié openbaring.

Sy het dus geweet dit is ʼn roeping van die Here. “Ons het afgekom op die Tshwane Plek van Veiligheid-vereniging en onsself daar aangemeld. Ons is gekeur en op 23 April 2011 het ons die eerste dogtertjie gekry. Daar is al 78 kinders deur ons huis die afgelope ses en ʼn half jaar,” vertel Mientjie.

Volgens Wouter word die babas, meestal tussen ʼn paar maande en ʼn jaar oud, in hul sorg geplaas deur die krisissentrum in hul area, polisiestasies en maatskaplike werkers. “Dit hang af van die omstandighede waarin hulle gekry word. Die polisie bring hulle selfs in die nag hier aan as hulle verwyder word. As die tyd reg is, word hulle aangeneem of gaan terug na die familie toe.”

rock-of-hope

Van links na regs: Larét van Niekerk van The Film Factory, Mientjie en Wouter Prozesky, Annelize Brits van Maroela Media en Mary-Anne Brink van The Film Factory. (Foto: Facebook/Rock of Hope)

ʼn Weeksdag in die lewe van die Prozesky’s is genoeg om enige ou uitasem te laat. “Die babas word so van 05:00 af wakker,” vertel Mientjie, ʼn gr.1-onderwyseres by die Laerskool Magalieskruin. “Ek en Wouter werk albei bedags. Ons huishulp, Bettie, kom teen 06:00 in en help dan met die babas. Daar is ook om 07:30 ʼn paar vrywilligers in vir ʼn oggendskof om te kom help met die babas. Met nege babas het mens ekstra hande nodig,” lag sy.

Teen 11:30 is dit etenstyd en dan is dit slaaptyd van 12:00 tot 14:00. “Terwyl die babas slaap, word hulle bottels gesteriliseer. Ons maak gemiddeld 80 tot 100 bottels per dag,” sê sy. “Wouter moet dan die groter kinders, wat intussen skool toe is, gaan haal. Dan is dit middagete, huiswerk- en speeltyd. Die vrywilligers wat die aandskof werk kom teen 16:30 in en hulle help dan tot 18:00 om die babas te bad en te voer.”

Daar word dan aandete saam met die groter kinders geëet. “En dan gee ons aandag en liefde tot 20:00 wanneer die kinders almal bed toe gaan. Dan begin ek en Wouter na die babas omsien tot die laaste voedingstyd om 23:00 en dan begin die nag. Op ʼn goeie nag staan ons so twee, drie keer op. Op ʼn slegte nag slaap ons niks!”

Mientjie sê dit het nog nooit gebeur dat ʼn kind wat aangeneem is, teruggekom het Rock of Hope toe nie. “Die aanneemouers word baie goed gekeur en ons het kontak met al die kinders. Ons word genooi vir die kinderpartytjies en hulle kom kuier ook vir ons, so ons sien hulle weer,” sê sy.

Wouter sê dit is “soos dood in die familie” wanneer die tyd aanbreek vir ʼn baba om na aanneemouers te gaan.

“Vir ʼn jaar tot soms twee jaar is hulle jou kinders en deel van jou huishouding,” sê Mientjie bewoë. “En dan moet jy hulle weggee vir iemand anders wat jy nie ken nie. Dis baie erg.”

“Maar,” keer Wouter, “dit is ook ʼn bittersoet oomblik, want die ouers wat hulle kry is blyer as sommige ma’s wat gekraam het. Dit maak ʼn bietjie op daarvoor as jy sien hoe gelukkig die aanneemouers is om die kind te kry.”

Mientjie vertel Mianri was die enigste kind in die huis totdat die babas hul opwagting gemaak het. “Sy is ʼn wonderlike kind en het die roeping verstaan. Sy het pas matriek voltooi en sy is altyd bereid om te help. Sy het ons nog nooit verwyt of gevoel ons gee nie vir haar genoeg aandag nie. Sy het so goed gedoen op skool, so dit het haar glad nie negatief beïnvloed nie.”

Rock-of-hope-gesinsfoto

Die Prozesky’s. (Foto: Verskaf)

Rock of Hope is geheel en al afhanklik van donasies. “Ons het ʼn baie goeie ondersteuningsnetwerk – mense wat werklik betrokke geraak het by dit wat ons doen. Enige iemand wat wil betrokke raak, is welkom,” sê Wouter.

“Ons gaan deur ongeveer 27 blikke melk en 40 pakke doeke per maand,” voeg Mientjie by. “Ons was ook gemiddeld nege bondels wasgoed per dag. Die een wasmasjien wat ons gehad het, loop regtig van die oggend tot die aand. So hierdie nuwe wasmasjien beteken vir ons baie.”

Só kan jy help:

Enigiemand wat skenkings wil maak of in verbinding met Rock of Hope wil tree, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

Indien jy ʼn ekstra wasmasjien het wat jy wil weggee en jy woon in die omgewing van een van die ander finaliste, stuur vir ons ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.