Video: Willie Spies, skoolhoofde agter tralies vir ʼn dag

ʼn Omroeper, ʼn prokureur en verskeie skoolhoofde het Donderdag agter tralies deurgebring, maar om ál die regte redes. (Foto: Maroela Media)

“Ek is aangekla daarvan dat ek blykbaar te veel roomys eet, en die hoofklag is eintlik dat ek dit nie met ander mense deel nie.”

Só skerts Marna Jordaan, skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, oor haar inhegtenisneming wat Donderdag ten bate van Wêreldbloedskenkersdag (14 Junie) plaasgevind het.

Pretoria FM bied jaarliks die Jail & Bail-inisiatief aan in die hoop om soveel moontlik eenhede bloed op dié dag in te samel en só die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) se hande sterker te maak.

Jordaan sê Affies-meisies het ingestem om betrokke te raak omdat bloedskenk ʼn saak is wat hulle na aan die hart lê.

“Dit is ʼn manier om die gemeenskap en mense in nood te ondersteun en ons is bewus dat daar eintlik ʼn tekort aan bloed in die land is. Veral met ʼn langnaweek op hande en die vakansie wat kom, is ons werklik van mening dat ons mense wat iewers dringend bloed nodig het op hierdie manier sal kan help.”

Mari Oosthuizen, sosialemediajoernalis by Pretoria FM, verduidelik dat Jordaan een van die gesiene mense in die omgewing is wat vroegoggend met behulp van ʼn polisiebeampte in hegtenis geneem is.

“Nadat hulle almal in hegtenis geneem is, het ons lasbriewe vir elkeen uitgereik en hulle is daarna in ʼn ‘tronk’ aangehou totdat ʼn sekere aantal eenhede vir elkeen ingesamel is.”

Die ander bekendes wat saam met Jordaan in hegtenis geneem is, is:

  • Willie Spies, direkteur van Hurter Spies Ingelyf
  • Anton Meijer, omroeper by Pretoria FM
  • Rentia van Rooyen, batebestuurder van Loftus Park
  • Marius Walkenshaw en Erika van der Merwe, skoolhoof en adjunkhoof van Laerskool Pretoria-Oos
  • Chris Henning, skoolhoof van Laerskool Anton van Wouw
  • Gerhard Pieterse en Tommie Rademeyer, skoolhoof en adjunkhoof van Laerskool Menlopark.

In hierdie video verklap Anton Meijer waarom hy in hegtenis geneem is, en Willie Spies vertel meer oor die belangrikheid van die inisiatief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.