Video: Wonderwerkskool vier 20 jaar van triomf

Die spogskool vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Eduplex en sy byna 800 leerders, van wie 10% gehoorverlies het, het vandeesmaand hul mylpaalverjaarsdag op die gepaste manier gevier: met ʼn massiewe verjaarsdagkoek, goeie musiek en baie gees.

“Dié skool is ʼn bewys daarvan dat as die Here ʼn oop deur voor jou plaas, moet jy net vreesloos daardeur loop.”

Nico van der Merwe, stigter van die privaat Christelike skool Eduplex, se roeping en droom was nie net om ʼn verskil in onderwys vir dowe kinders te maak nie, maar ook om onderrig vir alle kinders só lekker te maak dat hulle nie kan wag om in die oggende by die skoolhekke in te hardloop nie.

Twintig jaar en talle wonderwerke later het sy droom nie net ʼn werklikheid geword nie, maar ook ʼn internasionale baanbreker vir inklusiewe onderwys.

Maroela Media het vroeër berig dat dié skool se unieke onderrigmodel leerders met gehoorverlies in klaskamers met horende leerders plaas, waar hulle danksy die optimale gebruik van versterkingstoestelle en individuele ondersteuning normale spraak aanleer sonder die gebruik van gebaretaal.

Almal was baie opgewonde om saam aan verjaarsdagkoek te smul. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Wat in 2002 as ʼn kleuterskool en toe laerskool begin is, het vandag danksy die hulp van die gemeenskap, ouers en donateurs van oor die land en wêreld vinnig gegroei tot ʼn topinstelling wat kinders van voorskool tot hoërskool huisves.

Die skool spog ook met top-oudiologie-geriewe, talle naskoolse aktiwiteite, ʼn pragsportterrein wat ook deur lede van die publiek geniet kan word, asook ʼn opleidingsinstituut wat mense in meer as 45 lande oplei om die Eduplex-onderrigmodel te volg.

Verskeie eregaste, onder wie Eduplex-donateurs van oor die wêreld, het dié spesiale mylpaal by die Pretoria-gebaseerde skool kom vier.

Twee leerders het ook as deel van die verjaarsdaggeleentheid vir gaste meer vertel oor die invloed wat die skool in hul persoonlike groei en ontwikkeling gehad het. Een hoërskoolleerder, Leano Morakile, het vertel dat hy glad nie kon praat toe hy destyds by die skool as vierjarige aangesluit het nie, maar vandag kommunikeer hy soos enige ander tiener met hope selfvertroue, dermate dat hy vanjaar die hoofrol in die hoërskool se produksie van Aladdin losgeslaan het.

Gaste is ook bederf met ʼn optrede deur die hoërskool se orkes.

“Toe oudpres. Nelson Mandela 20 jaar terug die skool geopen het, het hy gesê dat ons nou tragedie in triomf gaan verander en die ongelooflike kinders in ons skool is bewyse van dié triomf,” het Van der Merwe ter afsluiting by die geleentheid gesê.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hunnybee ·

Ek is al deel van die Eduplex familie sedert 2014 toe my seun daar begin skoolgaan het vanaf Gr 8 tot 12 en nou is my kleindogter ook daar van verlede jaar af. Ek kan getuig dat die skool net die beste vir die kinders gee en uitstekende onderwysers het. My seun het ‘n man geword waarop mens trots kan wees en my kleindogter is besig om ‘n vrou te word wat vir niks sal terugstaan nie en ongelooflike goeie punte kry. Dis alles te danke aan Eduplex se holistiese benadering van onderwys, waar kinders nie net boekwys word nie, maar ook geleer word hoe om ‘n goeie mens te wees. Die dowe kinders wat oor ons pad gestap het, het groot hoogtes bereik in hul loopbane en ek kan met trots sê dat ek verby trots is op wat Eduplex vermag in die vorming van nie net my eie kinders nie, maar ook al die kinders wat in die skool was en is. Baie geluk in wat julle vermag het, Nico, Fanie en Jannie. Dankie vir alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.