Video: Woordfees en ‘Suidooster’ wil ook water spaar

kraan-water-glas

Foto: Arcaion/Pixabay.com

Die US Woordfees en die bekende sepie Suidooster moedig mense in die Wes-Kaap aan om water te bespaar, om die druk van Dag Zero te verminder.

Universiteit Stellenbosch het in ʼn verklaring gesê dat hy nie die waterkrisis in die Wes-Kaap met die Woordfees wil vererger nie, maar ook nie die fees vanjaar kan kanselleer nie.

“Die Woordfees verskaf werk aan meer as 600 mense gedurende die fees en dit sluit nie eens al die musikante en kunstenaars in wat optree nie. Die verlies vir die plaaslike gasvryheidsbedryf sal enorm wees.”

Daarom het die US Woordfees die volgende maatreëls getref:

  • Watervrye chemiese toilette sal by alle venues opgerig word.
  • Munisipale toilette sal slegs vir noodgevalle beskikbaar wees.
  • Alle krane in badkamers sal toegedraai word en waterlose handwasmiddels sal beskikbaar wees.
  • Die paar noodkrane wat wel oop is, sal van waterbesparende drukregulerende sproeikoppe voorsien word wat sewe keer minder water gebruik as ’n gewone kraan.
  • Geen ys sal, sover moontlik, gebruik word om drank te verkoel nie.
  • Geen waterhouers sal gebruik word om feestente te anker en te stabiliseer nie.
  • Skoonmaakspanne sal waterbotteltjies wat halfleeg op die feesterrein agtergelaat word, insamel vir hergebruik in die fees se gryswaterstelsel.
  • Emmers sal beskikbaar wees om water op te vang in die enkele venues waar storte beskikbaar is.

Die US Woordfees moedig ook gastehuise en hotelle aan om water te bespaar deur waterlose handwasmiddels te verskaf, emmers in storte te gebruik, en proppe uit baddens te verwyder en die water na baddens af te sny.

Verder word feesgangers gevra om onder meer genoeg klere saam te bring sodat wasgoedwas nie nodig is nie, hulle eie handdoeke na hotelle en gastehuise te vat en dit weer terug huis toe te neem, gebruik te maak van die waterlose toilet-en-handwasopsies by die fees, en om, indien feesgangers van ʼn ander provinsie die fees bywoon, twee 5 l-waterbottels saam te bring om mee gesig te was en tande te borsel.

Die span van die sepie Suidooster wil ook mense aanmoedig om water te bespaar, en het ʼn spesiale advertensie gemaak om waterbesparing aan te moedig.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.