
Siya Kolisi en Eben Etzebeth (links) verlaat die veld saam met die ander spelers na hul oorwinning oor Wallis. Foto: (AP Photo/Mark Baker)
ʼn Besonderse atmosfeer heers tans oor Suid-Afrika se sosialemedianetwerke, dit gons van opgewondenheid en kom meestal van die jongspan af. Die tema: ondersteuning aan die Springbokke wat die naweek teen die Engelse Rose in die rugby-eindstryd van die Wêreldbeker gaan uitdraf.
Maroela Media het verlede week berig oor die sowat 140 leerders van die Heidi Kleuterskool in Delmas, wat ʼn ondersteuningsvideo vir die Bokke gemaak het en dié video by die span wou kry. Die skool is intussen deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie genader wat beloof het om die video aan die draers van die Groen-en-goud aan te stuur.
Intussen het nog vele ander skole ook hul ondersteuning vir die Springbokke in video-vorm gewys. Die Gloria Botha-skool vir leerders met intellektuele gestremdhede in Somerset-Wes het ná hul volksliedvideo aan die Bokke, wat op hul Facebook-blad geplaas is, terugvoer van Willie le Roux, die span se heelagter, ontvang.
“Hallo, julle almal daar by Gloria Botha, daar in Somerset-Wes. Ek hoop die dinge gaan goed daarso. Ek wil net vir julle baie dankie sê vir die [boodskap] wat julle vir ons gestuur het. Ons waardeer dit regtig baie, en julle moet Saterdag regtig baie hard skree vir die Bokke. Dis Willie hierso, al die pad uit Japan uit, baie dankie vir die [ondersteuning] weereens. Goed gaan. Bye,” het Le Roux in ʼn video aan die leerders teruggestuur.
Chantal Lombard, die skool se sekretaresse, vertel aan Maroela Media dat sy saam met Le Roux se ouers in die kerk is en dus so die video aan dié Springbok kon besorg. Dit was ook deur sy ma, Hanlie le Roux, dat die skool die terugvoer ontvang het.
“Die kindertjies se harte was so bly om die video te sien,” vertel sy. Die skooltjie het 45 leerders tussen ses en 18 jaar oud.
Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark en die Richardsbaai Primêre Skool in Meerensee het voordragvideo’s gemaak waarin hulle die Bokke smeek om die beker huis toe te bring.
Laerskool Helderkruin in Roodepoort het Donderdagmiddag ook sy #BacktheBokke-video op hul blad gelaai. “Ons maak van die geleentheid gebruik om die Springbokke sterkte toe te wens. Weet dat Laerskool Helderkruin 100% agter julle staan, net soos die res van die land. Siya Kolisi, jy en die Bokke maak ons elke Saterdag trots. Sê asseblief vir die manne julle is ʼn inspirasie vir ons almal, ʼn inspirasie vir ons land … bring die beker huis toe!” het Rian van der Watt, die laerskool se onderhoof, gesê.
Concrete Chapel, ʼn akoestiese groep van Bloemfontein, het ook ʼn liedjie geskryf waarin lede hul ondersteuning aan die Bokke gee en ander Suid-Afrikaners wil inspireer om Saterdag agter die span te staan.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Hahahaha Willie Le Roux slot????? Meer soos heelagter wat nie n bal kan vang nie!
Dan moet Eben seker heelagter wees??
‘n Pragtige berig oor rugby wat ‘n land (tydelik) verenig en kinders wat entoesiasties raak oor hulle helde. Al kommentaar wat ek sien is lae vlak snedige opmerkings. Dis om van naar te word.
Go BOKKE!!!Dis vir ons almal n spesiale en geskiedkundige dag in SA se rugby geskiedenis!!Nog nooit vantevore het so groot gebeurtenis vir SA gewag nie!!Ondersteuners moet nou hetsy watter kleur ookal,BANKVAS agter die Springbokke staan!!!
1995 Cheetahs win the Currie cup
1995 SA wins the world cup 12 years later
2007 Cheetahs win the Currie cup
2007 SA wins the world cup 12 years later
2019 Cheetahs win the Currie cup
2019 SA play England in the final. Is that insane or what
GO BOKKE